In Desember 2013 het die Gesamentlike Verenigde Nasies-program oor MIV en Vigs (UNAIDS), ‘n ambisieuse internasionale plan neergelê wat beskryf is as die 90-90-90-plan om die VIGS-epidemie teen 2030 te beëindig. Die 90-90-90-plan stel voor dat 90% van alle mense wat met MIV leef teen 2030 hul status moet ken, en dat 90% wat met gediagnoseerde MIV lewe, volhoubare antiretrovirale terapie moet ontvang, en 90% van alle mense wat ART ontvang, virale onderdrukking moet hê. Volgens UNAIDS se jongste verslag oor die 90-90-90-teikens, is wesenlike vordering al gemaak, hoofsaaklik weens die toename in ART. Meer as twee derdes van alle mense wat oor die wêreld met MIV lewe, het hul status in 2016 geken, en uit hierdie groep wat 77% op ART. Dit kom neer op 20.9 miljoen mense wat toegang tot antiretrovirale middels het, in vergelyking met die 685 000 in 2000. Voorts het 82% van alle mense wat behandeling ontvang, die virus onderdruk. So, hierdie teikens is wêreldwyd op pad om verwesenlik te word.
In 2016 het 7.1 miljoen mense in Suid-Afrika met MIV gelewe – rofweg een in agt mense – en 56% van hierdie groep het toegang tot ART gehad. Die voorkoms van MIV in Suid-Afrika verskil volgens ouderdom geografie en geslag. Suid-Afrika het ook die grootste ART-program in die wêreld. In Junie 2017 het 4.2 miljoen mense behandeling in die staatsektor ontvang. Dit is merkwaardig as ‘n mens in ag neem dat slegs 90 mense in die jaar 2000 toegang tot in ART in die staatsektor gehad het.
Ten spyte van hierdie wesenlike vordering wat gemaak is, kan ‘n mens nie die 270 000 nuwe infeksies in 2016 ignoreer nie. Ook nie die feit dat die hoogste voorkoms van MIV in Suid-Afrika onder jong meisies en jong vroue tussen die ouderdom van 14 en 24 voorkom nie. Suid-Afrika se jongste Nasionale Strategiese Plan (NSP) vir 2017-2022 vir MIV, TB en SOS’e verklaar dat van hierdie 270 000 nuwe infeksies, jong vroue en meisies 100 000 uitmaak. Dit kom neer op 2000 nuwe infeksies per week. Dit blyk of die belangrike kwessie wat die groep se hoë voorkoms spesifiek met transaksionele seksuele verhoudings verband hou, spesifiek met mans vyf en tien jaar ouer, asook die maatskaplike en ekonomiese verskille wat geslag en mag betref.
Die vraag is wat nou gedoen word om die krisis aan te pak. Daar is innoverende programme en ontwikkelings wat erken moet word. In September 2017 het die Higher Education and Training HIV/AIDS Programme (HEAIDS) aangekondig dat studente by sewe universiteite vir die eerste keer toegang tot Truvada (‘n pre-blootstelling profilakse of PrEP) sal verkry wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) aanbeveel word as ‘n antiretrovirale pil wat die risiko met 90% verminder om MIV te kry. PrEp is ook aan 3000 MIV-negatiewe sekswerkers bekendgestel ingevolge die Suid-Afrikaanse Nasionale MIV-plan vir Sekswerkers vir 2016-2019.
Voorts is ‘n nasionale multisektorale veldtog van drie jaar, She Conquers, in 2016 deur die Nasionale Departement van Gesondheid van stapel gestuur. Dit fokus spesifiek op die vermindering van die vlakke van MIV-infeksies onder adolessente meisies en jong vroue met 30% gedurende hierdie tydperk. She Conquers fokus ook op die vermindering van tienerswangerskappe, die skep van ekonomiese geleenthede vir jongmense en die verskaffing van ondersteuning om te verseker dat jong meisies hul skoolopleiding voltooi. Die veldtog stel ‘n kernpakket van ingrypingsmaatreëls in wat verband hou met biomediese en gedragsingrypingsmaatreëls wat in 22 geprioritiseerde subdistrikte uitgerol is. Met betrekking tot MIV-voorkoming sluit die kernpakket van ingryping lewensvaardigheidsopleiding en seksuele opvoeding, MIV-toetsing en voorkomingsdienste, sowel as psigososiale ondersteuningsprogramme in.
In sy eerste jaar het die She Conquers-veldtog 230 000 adolessente meisies, jong vroue en hul vir MIV getoets, waarvan 18 000 positief was en aan ‘n behandelingsprogram gekoppel is. Meer as 60 000 adolessente meisies het ook lewensvaardigheidsopleiding en seksuele opvoeding ontvang. Verder is een van die geïdentifiseerde teikens in die NSP om nuwe infeksies onder adolessente meisies en jong vroue vanaf 2 000 per week tot 800 per week binne die volgende vyf jaar te verminder. Dit moet bereik word deur ‘n multi-departementele en multisektorale benadering wat nie net op biomediese ingrypings fokus nie, maar ook fokus op die verhoging van inligting-, opvoedings- en kommunikasieprogramme om hierdie sosiale en strukturele dryfkragte aan te spreek.
Bogenoemde maatreëls en teikens is noemenswaardig, maar soos die NSP erken, sal meer van dieselfde nie hierdie spesifieke krisis oplos nie. Dit is dringend nodig om dit buite ‘n beperkte veldtog uit te brei. Die fokus moet verskuif na die bemagtiging van adolessente meisies en jong vroue, en om hulle toe te rus met kennis om hierdie siklus te breek. Die groot vordering wat gemaak word om hierdie wêreldwye bedreiging te beveg, moet gevier word, terwyl daar opgemerk word dat binne die veldtog van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders, daar meer nodig is om meer te doen vir adolessente meisies en jong vroue . Dit sal ‘n aktiewe finansiële toewyding en langtermynbelegging van die regering en die private sektor vereis om die NSP te bewerkstellig en nie hierdie verantwoordelikheid uit te stel nie.
Deur me Christine Botha: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte