President Cyril Ramaphosa het die openbarings van die Kommissie beskryf as ‘n uitdaging vir die “grondslag van ons demokratiese staat”. In sy Staatsrede het hy gevra vir vervolging waar daar bewyse van kriminele aktiwiteite na vore gekom het. President Ramaphosa het hierdie taak eksplisiet aan adv Shamila Batohi, wat in Februarie as Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) aangestel is, toegeken.

Haar aanstelling in Desember verlede jaar was die resultaat van ‘n deursigtige proses wat rede tot optimisme was. Die President het ook aangekondig dat daar ‘n nuwe Direktoraat in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geskep sal word wat sal fokus op die bewyse wat die Kommissie en ander ondersoeke na korrupsie opgelewer. Die presidensie het die Proklamasie van hierdie nuwe Direktoraat op 20 Maart 2019 aangekondig.

Ondersoekende en vervolgingsmagte sal aan die Direktoraat toegeken word. Sommige joernaliste het dit vergelyk met die Skerpioene, wat in 2008 ontbind is. Die President het egter beswaar gemaak teen opskrifte wat die terugkeer van die Skerpioene verkondig het, en volgehou dat die nuwe eenheid heeltemal anders sou wees. Dit is nog nie duidelik wat die samestelling van die Direktoraat sal wees nie. Volgens mnr Michael Masutha, Minister van Justisie, sal die Direktoraat slegs sowat vyf jaar in plek wees. Verder sal dit kundiges van die Valke, Nasionale Tesourie, die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS), die Spesiale Ondersoekeenheid (SIU) en kundiges van die privaatsektor bymekaarbring. Die Direktoraat sal uitsluitlik sake ondersoek wat direk verband hou met Staatskaping en korrupsie en sal blykbaar nie permanente ondersoekers kan aanstel nie. Dit wil voorkom asof die bedoeling is om ondersoeke voort te sit wat voortspruit uit die bevindings van die Zondo-kommissie.

In die openbaar word Ramaphosa hoofsaaklik geloof dat hy in die regte rigting beweeg. As ‘n mens weer daarna kyk, identifiseer sy skuif ‘n gaping in die huidige samestelling van die openbare vervolgingstelsel, terwyl sodanige gaping nie amptelik bestaan nie. Sy aankondiging toon dat hy moontlik bedenkinge kan hê oor diegene wat tans met hierdie taak besig is, naamlik die Valke onder die leiding van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Hul doelwit, soos uiteengesit in die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens, is uitdruklik om misdrywe met betrekking tot korrupte aktiwiteite te “voorkom, bestry en ondersoek”. Ten opsigte van Staatskaping het die leier van die Valke, Luitenant-Generaal Godfrey Lebeya, in September 2018 die daarstelling van ‘n taakspan aangekondig om hierdie sake te versnel. Maar as ‘n mens na sy rekord kyk, is Angelo Agrizzi, Andries van Tonder, Linda Mti en vier ander die enigste verdagtes wat tot dusver gearresteer is, volgens berigte in die media.

‘n Kort verduideliking is hier nodig. Danksy die reg teen selfinkriminasie, en volgens regulasie 8(2) van die Regulasies van die Zondo-kommissie, kan verklarings deur getuies nie as bewyse teen hulle in enige strafregtelike verrigtinge gebruik word nie. ‘n Ondersoekende eenheid moet ‘n onafhanklike saak bou gebaseer op bewyse wat ingesamel is – en nie die getuie se verklaring nie. Dit maak die werk van ‘n ondersoekeenheid meer belangrik, aangesien Zondo se bydrae net “openheid” sal bring. Die “aanspreeklikheid” moet van die vervolgingsafdeling kom. Intussen kan wat aanvanklik as ‘n administratiewe besluit beskou word, ook as ‘n moontlike voorbeeld van interne magbotsings binne die ANC beskou word. Die President blyk te poog om die vervolging van leidende figure agter Staatskaping verder weg van die politieke gebied te verskuif.

Dit is onduidelik of Ramaphosa se plan doeltreffend sal wees, aangesien befondsing nog nie bekom is nie. In sy Begrotingsrede van 2019 het die Minister van Finansies, Mboweni, geen geld vir die nuwe Direktoraat geoormerk nie en die begroting van die NVG het ernstige beperkings. Hulpbronne is van kritieke belang om die NVG te omskep in ‘n ware wapen teen korrupsie, om nie eens te praat van die implementering van ‘n nuwe Direktoraat nie. Indien finansiële kapasiteit nie gebied word nie, sal Ramaphosa se aankondiging maar lippediens aan die kiesers bly.

Dit is bemoedigend om ‘n President te sien wat die stryd teen korrupsie ernstig op neem deur belowende institusionele besluite te neem. Hy moet egter sy integriteit bewys deur te verseker dat hierdie Direktoraat ondersteun word deur die finansies en hulpbronne om die werk te doen. Dit sal ook van kritieke belang wees dat die President nie beskou word dat hy inmeng nie en dat die vervolging van hierdie gevalle ontbreek aan enige politieke inmenging. Ter wille van alle Suid-Afrikaners, laat ons hoop dat nie die nie-administratiewe konflikte tussen die Valke en die NVG, of ‘n gebrek aan politieke wil om die Direktoraat behoorlik te finansier, in die Staat se pad staan sal staan om korrupsie doeltreffend te bestry nie, soos deur die Grondwet vereis word nie.

Deur Jonas Pauly: Intern, Sentrum vir Grondwetlike Regte
26 Maart 2019

Leave a Reply

Your email address will not be published.