Die belangrikste deel van artikel 25 wat verander kan word om die politieke oogmerke van die ANC (en die EFF) te bereik, is artikel 25(2):
“Eiendom mag slegs ingevolge ʼn algemeen geldende regsvoorskrif onteien word-
(a) vir ʼn openbare doel of in die openbare belang; en
(b) onderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling óf deur diegene wat geraak word, aanvaar is óf deur ʼn hof bepaal of goedgekeur is.”
Die twee sleutelkwessies is ‘n “algemeen geldende regsvoorskrif”en “vergoeding… wat… aanvaar is of deur ‘n hof bepaal… is”. ‘n Algemeen geldende regsvoorskrif beteken in wese dat ‘n wet vir almal moet geld, nie net vir byvoorbeeld ‘n sekere rassegroep nie. En die vergoeding vir onteiening moet, as daar verskil van mening is, deur ‘n hof bepaal word. Die howe het dus ‘n oorsigrol in onteiening, om te bepaal of die vergoeding “regverdig en billik” is (artikel 25(3)).
Daar is breedweg drie scenarios vir veranderings aan artikel 25(2). Die eerste is dat die beginsel van OSV as ‘n uitsondering op die algemene reël van artikel 25(2) (dat vergoeding betaal moet word) gestel word, maar dat die detail daarvan in ‘n nuwe Onteieningswet gegee word.
Uit uitsprake van ANC-leiers en kenners word daar hier aan vier kategorieë gedink, naamlik grond:
- Wat deur die eienaar(s) agtergelaat (“abandon”) is;
- Waar die eienaars toegelaat het dat nie-eienaars dit vir lang tydperke bewoon en of bewerk het;
- Wat ongebruik lê; en
- Wat onderbenut is.
Hierdie uitsonderings sal dan in ‘n nuwe Onteieningswet uitgespel word en sal aan OSV onderworpe kan wees. Die toepassing van hierdie uitsonderings in die Onteieningswet sal outomaties aan die oorsig van die howe oorgelaat word (soos met alle wetgewing die geval is).
Die tweede scenario is dat die detail van die uitsonderings in artikel 25(2) self ingesluit word, met die behoud van die oorsig van die howe en sonder dat die “algemeen geldende regsvoorskrif” van artikel 25(2) verander word. Die uitwerking van hierdie scenario sal basies dieselfde wees as scenario een.
In beide van hierdie scenarios is dit moontlik dat artikel 25(4)(b), wat stel dat eiendom nie tot grond beperk is nie, ook verander kan word om duidelik te stel dat OSV slegs op grond van toepassing is. Dit is meermale as versekering deur ANC-leiers gegee aan diegene wat bekommerd is dat spaarportefeuljes, aandele en intellektuele eiendom ook sonder vergoeding vervreem kan word. Hierdie aspek mag dalk vir die ANC ‘n manier gee om partye soos die DA se instemming vir ‘n genuanseerde verandering van artikel 25(2) te kry.
Die derde (en slegste) scenario is waar artikel 25(2) grondliggend verander word om OSV die norm ten minste ten opsigte van grond te maak. In só ‘n verandering kan die oorsig van die howe ten opsigte van OSV uit artikel 25(2) gehaal word; wat beteken dat artikel 25(3), wat bepaal dat vergoeding “regverdig en billik” moet wees, ook verander sal word. Daarby kan daar direk gestel word dat OSV spesifiek op die grond van wit Suid-Afrikaners van toepassing gemaak word.
Hoe realisties is dit dat hierdie veranderings deur die Parlement gemaak kan word? Die ANC, met 249 uit 400 stemme in die nasionale vergadering (62%), het nie self die vereiste 66.6% (267 stemme) nie. Hulle het 18 stemme van ander partye nodig om 267 te haal. In scenario een en twee is dit ondenkbaar dat die EFF met hulle 6% (19 stemme) sodanige verandering sal steun, omdat dit nie naastenby is wat dié party wil bereik nie. En om die beginsels van die oorsig van die howe en die algemeen geldende regsvoorskrif te behou, sal nooit in die EFF se kraal pas nie. Dit is verder hoogs twyfelagtig of enige ander party die ANC in OSV sal steun. Die DA met 89 stemme (22%), en COPE, die ACDP en die VF+ (elk met drie stemme) is sterk teen die verandering van artikel 25 gekant. Die IVP het 10 stemme (4%) en sal so ‘n voorstel net steun as die grond van die Ingonyama Trust veilig is. Die ander kleiner partye het saam 17 stemme, een te min vir die 18 wat die ANC nodig het om die twee-derde meerderheid te kry.
In scenario drie sal die ANC, waarskynlik ná versekerings en ander toegewings, dalk wel op die EFF se steun kan staatmaak. Dit is naby genoeg aan wat die EFF wil hê, veral as hulle aan hulle ondersteuners kan wys dat hulle ook ander toegewings van die ANC gekry het – oppad na hulle eie beleid van volledige nasionalisering van grond. Maar as scenario drie (of enige permutasie daarvan) met ‘n twee-derde meerderheid aanvaar word, is die saak nog lank nie afgehandel nie. Die redes hiervoor lê in die twee sake wat hierbo genoem is, naamlik die oorsig van die howe en die beginsel van ‘n algemeen geldende regsvoorskrif.
Hoofstuk 1 van die Grondwet bevat grondwetlike waardes wat volgens artikel 74 slegs met ‘n 75% meerderheid gewysig kan word. Hieronder is die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg (die sogenaamde “Rule of Law”). Om die oppergesag van die reg (met ander woorde die oorsig van die howe) uit die beskerming van een van die basiese menseregte in hoofstuk 2 (eiendomsreg) weg te neem, kom daarop neer dat die oppergesag van die reg self aangetas word. En daarvoor is nie slegs ‘n twee-derde meerderheid nodig nie, maar 75%. Die howe sal byvoorbeeld in scenario een of twee objektief kan bepaal of grond onderbenut of onbenut is, anders sal dit aan die politici en amptenare oorgelaat word en Zimbabwe is ons voorland. As hierdie oorsig uit ‘n veranderde artikel 25 uitgelaat word, sal beswaardes by die Konstitusionele Hof kan aansoek doen dat ‘n meerderheid van 75% nodig is en die Hof kan só ‘n bevel maak.
Artikel 36 van die Grondwet sê verder:
“(1) Die regte in die Handves van Regte kan slegs kragtens ʼn algemeen geldende regsvoorskrifbeperk word in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in ʼn oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid, met inagneming van alle tersaaklike faktore…”
Die reg om eiendom te besit en dit nie op ‘n arbitrêre wyse te verloor nie, mag dus slegs beperk word deur ‘n algemeen geldende regsvoorskrif, dit wil sê ‘n voorskrif wat vir alle Suid-Afrikaners geld – en nie net ‘n sekere rassegroep nie. Hoofstuk 1 noem dit die grondwetlike waarde van nie-rassigheid (1(b)). En as dit aangetas word deurdat OSV net op wit mense van toepassing gemaak word, skop die vereiste vir ‘n 75% meerderheid in.
Saamgevat: indien ‘n wysiging van artikel 25 daarop neerkom dat die oorsig van die howe uit die onteieningsproses weggeneem word en/of dat die proses van OSV nie op alle landsburgers van toepassing is nie, maar dat slegs een rassegroep geteiken word, is daar vir só ‘n verandering ‘n 75% meerderheid nodig.
Dit is dus duidelik dat die voorgenome verandering van artikel 25 allermins eenvoudig is. President Ramaphosa moet terdeë bewus wees daarvan dat dit nie net oor die verandering kan gaan nie, maar ook oor hoe om dit só te bewoord dat dit wel ‘n twee-derde meerderheid of met ‘n sekere bewoording 75% steun kry én dat só ‘n verandering ernstige regsgevolge kan inhou. Gewone Suid-Afrikaners wat bekommerd oor die verandering van artikel 25 om OSV toe te laat, kan ook verseker wees dat dit nie sommer maklik gedoen sal kan word nie. Maar juis daarom moet almal betrokke bly en hulle teenkanting sterk en duidelik laat bly hoor.
Deur Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
23 Augustus 2018
*Eers deur Netwerk24 gepubliseer