Elke Suid-Afrikaner het sy/haar eie mening oor waar dinge verkeerd gegaan het. Sommiges het eie ervaring, ander hoorsê en ander sommer net ‘n eie mening. Daar is egter ‘n besonder gesaghebbende bron wat in November 2017 gepubliseer is. Dis ‘n verslag van ‘n ondersoek wat in opdrag van die Parlement se Speakersforum gedoen is. Die mandaat was: evalueer die wetgewing van die afgelope jare en ondersoek hoe fundamentele verandering in Suid-Afrika versnel kan word. Die verslag het byna twee jaar geneem om te voltooi en is nagevors en opgestel deur ‘n indrukwekkende paneel van 11 prominente Suid-Afrikaners, waaronder oud-politici, regsgeleerdes, ouditeurs en akademici, onder voorsitterskap van oud-President Kgalema Motlanthe. Die verslag beslaan 600 bladsye – waarvan 100 aan grondhervorming afgestaan word. Wat het die paneel, ná maande se navorsing, voorleggings en mondelinge getuienis in elke provinsie bevind?
Grondhervorming is ‘n oorhoofse term wat grondherverdeling, grondrestitusie en sekerheid van behoud van grond (“security of tenure”) insluit. Herverdeling verwys na die proses waar grond wat in die mark kom, deur swart eienaars of die staat bekom word. Restitusie is die proses waar mense wie se grond ná 1913 deur die staat of ander instansies weggeneem is, teruggeëis kan word; en die sekerheid van behoud gaan oor werkers op plase en inwoners van die voormalige tuislande wat al jare lank op hulle “eie” grond bly of werk, maar geen formele en indiwiduele eiendomsreg daarvoor het nie.
Die Motlantheverslag kom tot sterk gevolgtrekkings.
Die eerste hiervan is dat vergoeding vir grond nie die belangrikste beletsel vir grondhervorming is nie, maar dat dit eerder korrupsie deur amptenare, die wegkering van begrotingsgeld na elites, die gebrek aan politieke wil by die regering en die gebrek aan opleiding en kapasiteit by die staat is.
‘n Tweede faktor is die gebrek aan ‘n begroting (as ‘n gevolg van die gebrek aan politieke wil) vir grondhervorming. Die verslag toon aan dat die begroting in 20 jaar nie eers tred gehou het met inflasie nie en skamele 0.4% van die nasionale begroting uitmaak.
Derdens wys die verslag daarop dat in plaas daarvan om nuwe grondeienaars te bemagtig en te laat vooruit boer, hulle in effek “huurders” van grond by die staat word. Dit is omdat hulle nie titelaktes vir die grond wat aan hulle toegeken word, kry nie – en daarom ook nie die grond as sekuriteit vir lenings kan gebruik om beeste, saad, voer en implemente te koop nie.
In die vierde plek bevind die verslag dat die regering nie sy grondwetlike magte om grond vir hervormingsdoeleindes aan te wend, effektief gebruik het nie, en ook nie die grondwetlike bepalings dat vergoeding onder sekere omstandighede onder die markwaarde kan wees, gebruik het nie.
Vyfdens bevind die verslag dat die staat die regte van benadeelde Suid-Afrikaners in artikel 25(5), (6), (7) en (9) nie “genoegsaam bevorder, afgedwing en beskerm” het nie, maar dat hierdie regte eerder onder beleg is deur “beleide en praktyke” wat die voordele van grondhervorming na potensiële politieke alliansievennote en spesifieke elites wil kanaliseer.
Ander redes word ook genoem, wat almal met die uitvoering van die staat se mandaat te doen het. Natuurlik is korrupsie ‘n tweerigting proses, en die nie-staatsorganisasies en persone mag dalk nie so entoesiasties aan grondhervorming meegedoen het as wat hulle kon nie, maar die feit bly dat die paneel onder die voorsitterskap van ‘n voormalige President die blaam vir die stadige en gebrekkige grondhervorming amper uitsluitlik op die staat plaas. Benewens korrupsie, is ‘n gebrek aan kapasiteit (lees: swak amptenare), begrotings, die gebrek aan titelaktes, swak wetgewing en swak implementering van bestaande wetgewing die ander groot sondebokke.
Daarbenewens neem die verslag in sy aanbevelings sterk standpunt in oor ‘n wysiging van artikel 25. Eerder as om artikel 25 te wysig, moet die regering eerder sy onteieningsmagte sterker gebruik, op maniere wat die voorsiening van vergoeding in artikel 25(3) sal toets, veral met betrekking tot grond wat onbenut of onderbenut is, veral grond wat reeds aan die staat behoort. Dis duidelik: die parlementêr aangestelde onafhanklike paneel beveel aan dat artikel 25 nie gewysig moet word of hoef te word nie. Dit is hoofsaaklik die staat wat sy plig versaak het om die grondwetlike mandaat oor grondhervorming uit te voer.
Die boodskap is sterk: as die staat sy grondwetlike mandaat reg wil uitvoer, moet die regte wetgewing geskryf word, dit moet reg toegepas word, dit moet effektief en deursigtig toegepas word deur bevoegde amptenare en daar moet genoeg geld daarvoor voorsien word. Hier is geen sprake van “vinnige” grondgrype deur onteiening sonder vergoeding nie, maar ‘n deeglike proses in lyn met artikel 25 van die Grondwet van Suid-Afrika.
Dit is verstaanbaar dat die EFF nie hierdie boodskap in die Parlement sou wou hoor nie. Hulle is immers totaal ideologies teenoor grondhervorming ingestel en maak OSV hulle verkiesingslagspreuk. Dit is egter die verantwoordelikheid van die ANC, wat die party is wat die Motlantheverslag geïnisieer het, om fyn na die hoofboodskap daarvan te luister. Selfs ‘n verandering aan artikel 25 wat OSV moontlik maak, gaan grondhervorming nie laat gebeur nie – nie as die basiese probleme van ‘n gebrek aan ‘n wetgewende raamwerk, korrupsie, kapasiteit, politieke wil en geld nie eers aandag kry nie. ‘n Grondwetwysiging is ‘n maklik uitweg in vergelyking met die oplos van hierdie probleme. Dìt moet dringend aandag kry.
Deur Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
7 Mei 2018
*Eers op Netwerk24 gepubliseer