Geen Suid-Afrikaner mag die reg om te stem as vanselfsprekend aanvaar of geringskat nie – voorheen het miljoene Suid-Afrikaners dit nie gehad nie. En vandag nog is daar miljoene in die res van die wêreld wat dit steeds nie het nie.  Om nie te stem nie, is wel ‘n manier om iets te “sê”, maar is dit die beste manier? Elke stemgeregtigde Suid-Afrikaner het ook ‘n verantwoordelikheid om te stem. Om ‘n beter toekoms vir jou en jou kinders en hulle kinders te help verseker; en om politici ná stemdag verantwoordbaar te kan hou.

Lede van minderhede (taal-, kultuur-, demografiese- en godsdienstige minderhede) mag dalk voel dat hulle te min is om ‘n verskil te maak. Maar die feit bly staan dat as minderhede in groot getalle gaan stem, hulle stemgewig inderwaarheid in verhouding groter word. Dit is omdat juis meerderheidsgroepe tradisioneel nóg meer onbetrokke is – soos wat die miljoene jongmense wat nie eers as kiesers geregistreer het nie, bewys. In ons kiesstelsel word geen stem vermors nie – mits dit gaan na ‘n party wat bewese steun het (meer as 50 000 stemme landswyd).

Die eerste ding wat mens dus moet doen, is om te besluit om te gaan stem – en selfs praktiese reëlings te tref oor hoe jy daar gaan kom en hoe laat jy gaan stem. Dit sal dit makliker maak om op 8 Mei by jou besluit te hou.

Die tweede ding is om die besluit te neem oor vir watter party(e) jy gaan stem. Dis nie iets wat mens vir die stemlokaal kan los nie – daar gaan dit vinnig en die stembrief (of moet mens eerder sê die stemboekie) met 48 moontlike partye gaan dit onmoontlik maak om dan eers ‘n verantwoordelike keuse uit te oefen. Elke kieser het twee stemme – een vir die nasionale regering en een vir die provinsie waarin jy woon. Jy moet vooraf daaroor dink of jy vir twee verskillende partye op provinsiale en nasionale vlak gaan stem, en natuurlik vir watter partye.

Die sielkundige Abraham Maslow het jare gelede ‘n “hiëragie” van menslike behoeftes geïdentifiseer. Of mens nou daarmee saamstem of nie, gee dit ‘n nuttige raamwerk om verskillende menslike behoeftes te onderskei.

Maslow se punt is nie dat sommige behoeftes belangriker as ander is nie, maar dat sommiges eerste benodig word voordat ander vir mense belangrik word. Volgens Maslow is die mees basiese behoefte van alle mense fisiologies van aard: ons het almal eerste kos, water, skuiling, warmte, slaap en vars lug nodig. Tweedens het ons veiligheid of sekuriteit nodig – persoonlike veiligheid, regsveiligheid, finansiële veiligheid (in terme van inkomste) en gesondheid. In die derde plek het alle mense liefde en ‘n gevoel van behoort nodig. Dit sluit in familiebande, vriendskap en gemeenskappe (insluitend taal-, kultuur- en godsdiensgemeenskappe). Vierdens wil mense agting en respek van ander hê, maar ook ‘n goeie selfbeeld ontwikkel. Laastens wil mense hulle persoonlike optimale potensiaal bereik, en persoonlike groei en ervarings beleef en najaag.

Wat het dit alles met ‘n partykeuse te doen?

Suid-Afrikaners het in terme van die Grondwet sekere basiese regte. Dit moet deur die staat (en dus die regering van die dag) beskerm word sodat dit deur elkeen uitgeoefen kan word. Die regstelsel moet, waar daar mededingende regte is, hulle sorgvuldig teen mekaar opweeg en ‘n billike en gebalanseerde uitspraak gee. Hierdie regte is onteenseglik gekoppel aan elke Suid-Afrikaner se basiese behoeftes. ‘n Mens kan sê dat in ‘n sekere sin, Maslow se behoeftes in die Grondwet regte word – en mens kan daarom politieke partye se vermoë en wil om hierdie regte te beskerm en aan my behoeftes te voldoen, as maatstaf vir die keuse van my stem gebruik.

En mens hoor inderwaarheid elke dag van hierdie regte en behoeftes: veiligheid en stabiliteit; ‘n inkomste, beroep of sosiale toelaag; huisvesting; basiese dienste (wat baie gratis wil hê) en dienslewering vir jou belasting (water, riool, paaie); ‘n omgewing vry van korrupsie; goeie gesondheidsdienste; godsdiensvryheid; goeie onderwys (vir sommige in die moedertaal) en taal en kultuuruitoefening.

Die meerderheid Suid-Afrikaners (wat swart en arm is) sal groter klem plaas op  hulle basiese fisiologiese behoeftes: kos, water en blyplek. Daarmee saam sal hulle persoonlike veiligheid, veiligheid van inkomste (soos ‘n sosiale toelaag) en gesondheidsdienste najaag. En hulle sal vir ‘n party stem wat hulle glo dit vir hulle kan gee.

Mense met ‘n middelklas-inkomste – en wat dus hulle fisologiese en veiligheidsbehoeftes grootliks self kon bevredig – sal geneig wees om groter klem op sosiale behoeftes te plaas. Dit sluit in gemeenskapsuitlewing, kultuur, godsdiensvryheid en onderwys in die taal van keuse. In Suid-Afrika bestaan hierdie middelklasgroep in ‘n groot mate (nog) uit minderhede – in terme van demografie, taal, godsdiens en kultuur. Sulke Suid-Afrikaners sal uiteraard vir partye wil stem wat hierdie sake ook hoog ag.

Natuurlik is hier geen sprake van ‘n waterdigte skeiding tussen die behoeftes van meerderhede en minderhede nie. Daar is baie arm Suid-Afrikaners wat byvoorbeeld die waarde van goeie onderwys besef en dit as prioriteit stel. Daar is middelklas Suid-Afrikaners wat persoonlike veiligheid of versoening as prioriteit sien. Maar dit is nuttig om hierdie hiërargie van behoeftes (en regte) in gedagte te hou wanneer ek besluit vir wie om te stem.

Dit is verder belangrik om (ten minste oorsigtelik) kennis te neem van die 48 partye wat in die verkiesing meeding.

Teen die agtergrond van bogenoemde behoeftes, is dit insiggewend om te sien dat 12 van die 48 partye “African” in hulle naam het. ‘n Mens moet aanvaar (en dit word deur hulle kandidatelyste bevestig) dat nie een van hulle minderhede se belange voorop stel nie. Daar is ‘n verdere 11 wat “transformation”, “Azania”, “Revolutionary”, “People’s” en “Traditional Authorities” in hulle naam het. Saam met die EFF en BLF is daar dan 25 van die 48 partye (meer as 50%) wat openlik (en hier en daar ekslusief) vir die belange van die meerderheid, swart Suid-Afrikaners staan. Dis nie verrassend nie en ook nie verkeerd nie – maar dit noop minderhede om te vra: hoekom moet ek vir hulle stem?

Daar is vier partye wat fokus op plaaslike dienslewering. Daar is drie partye met “Christian” of “Revelation” in hulle naam. Dan is daar ‘n hele paar partye (sewe) wat volgens hulle kandidaatlyste multikultureel is: hieronder tel “Compatriots of SA”, “Congress of the People” (Cope), die DA, “Free Democrats”, Patricia de Lille se GOOD, die IVP en die “National Freedom Party”. Daar is drie partye wat duidelik enkel-kwessie partye is: die “Capitalist Party of SA”, “Economic Emancipation Forum” en die “Land Party”. En ten slotte is daar drie partye wat duidelik vir demografiese minderhede se belange staan: “Front Nasionaal” (wit Afrikaans), “Minority Front” (SA Indiërs) en VF+ (Afrikaans).

‘n Mense se keuse van waar jou stem heen gaan, hang dus van jou behoefte af.

As jou primêre behoefte fisiologies gedrewe is, sal jy vir een van die partye stem wat die meerderheid se behoeftes voor opstel. As jou behoeftes meer sosiaal van aard is, mag jy dalk op een van die partye wat multikultureel is en/of op minderheidsregte fokus, besluit. Maar natuurlik wil mens ook vir ‘n party stem wat ‘n basiese behoefte soos elektrisiteit kan voorsien. Die huidige regering se onvermoë om deur die “getransformeerde” staatsdiens sekere basiese dienste te lewer en behoeftes te bevredig, word daarom ‘n groot faktor in die keuse vir wie om te stem. Ongelukkig sien nie alle kiesers dit raak nie en blý hulle stem vir herhalende beloftes.

Dieselfde soort redenasie kan ook help om te bepaal waarheen mens se provinsiale stem gaan. As ‘n sekere party na 8 Mei steeds die provinsie waarin jy woon, regeer, het dit sekere implikasies vir jou onmiddelike omgewing en behoeftes. Wil jy dit verander of is jy relatief tevrede met hoe dit gaan? Of dit mag wees dat jou sosiale behoeftes (soos moedertaalonderrig) nie op provinsiale vlak bepaal word nie, maar op nasionale vlak. Dit mag bepalend wees vir wie jy op daardie vlak stem.

Suid-Afrika se demokrasie is besig om te groei en te ontwikkel. Die feit dat ons op 8 Mei 48 keuses het, is een bewys daarvan. Dit gee aan ons as kiesers groter keuses, maar ook ‘n groter verantwoordelikheid. Óf jy gaan stem en vir wie jy gaan stem (nasionaal en provinsiaal), gaan vir ten minste vyf jaar vir jou en jou mense gevolge hê. En dalk langer…

Deur Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
6 Mei 2019

*Eers in Afrikaans op Netwerk24 gepubliseer

Leave a Reply

Your email address will not be published.