+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Die Hof het korrupsie vergelyk met ‘n kanker wat vreet aan die wese van ons samelewing, en het die feit beklemtoon dat korrupsie, indien dit straffeloos gelaat word, ‘n ernstige bedreiging inhou vir ons demokratiese staat. Dit was nog nooit meer waar as wat dit vandag is nie.

Ongelukkig het Prasa nie die monopolie op korrupsie by instellings in staatsbesit nie. Die teenwoordigheid van ‘n onafhanklike en vreeslose media het, deur die #GuptaLeaks – ‘n noodsaaklike bron van inligting – gelei tot die ontbloting van die bedrywighede by instellings in staatsbesit, soos Eskom, Denel en Transnet. Aan die kern van hierdie onthullings is die bewyse dat té veel instellings in staatsbesit by korrupte aktiwiteite betrokke is, tot voordeel van slegs ‘n paar. Daar is baie ander instellings in staatsbesit wat grootliks hul grondwetlike mandate en wetlike verpligtinge nakom, maar die teenwoordigheid van korrupsie by instellings in staatsbesit, en die omvang van die korrupsie, is kommerwekkend.      

In 2016 het Brian Molefe – wat op daardie stadium Hoof Uitvoerende Beampte van Eskom was – bedank nadat dit aan die lig gekom het dat hy by korrupsie by Eskom betrokke was. Sy optrede is ontbloot deur ‘n verslag van die voormalige Openbare Beskermer. Molefe het lank reeds “musikale stoele” gespeel by Eskom – hy is weer aangestel, afgedank en het op vroeë aftrede gegaan – ter waarde van R30 miljoen. Dit alles terwyl die Minister van Openbare Instellings, Lynne Brown, toegekyk het en klaarblyklik sy optrede aangemoedig het. Die twyfelagtige goue handdruk het gevolg op die betrokkenheid van verskeie top amptenare by Eskom, met inbegrip van die nou omstrede Anoj Singh. Die deelname van voormalige Voorsitter van die Raad, Ben Ngubane, in die onwettige optrede is strydig met die hoofdoelwit van sy rol by Eskom, naamlik om nakoming aan die bepalings van goeie korporatiewe bestuur te verseker.

‘n Raad van Direkteurs is aangestel om toesighouding uit te oefen. Die Raad se werk is om te verseker dat ‘n organisasie nie buite sy mandaat bedryf word nie, en dat dit sy funksies op ‘n wettige, deursigtige en verantwoordbare wyse uitvoer. Ngubane het presies die teenoorgestelde gefasiliteer. Die Raad moet verslag doen aan die lid van die uitvoerende gesag wat vir instellings in staatsbesit verantwoordelik is. In hierdie geval het die Minister van Openbare Instellings korrupsie toegelaat en bevorder. Sy het ook versuim, om haar toesighoudende funksie uit te voer en het Molefe weer aangestel, ten spyte van konkrete bewyse van sy wanadministrasie wat aan die lig gekom het. Die lys van oortredings en bedrieglike besteding van belastingbetalers se geld is lank, en die tydlyn bevat verskeie onverklaarbare ‘foute’ en versuim wat toesighouding betref.

Transnet en Denel sluit by Eskom en PRASA aan. Transnet het op bedrieglike wyse tenders toegeken aan verskeie maatskappye wat bande het met die Guptas. Die betrokke individue het omkoopgeld ontvang vir die omseiling van die tenderproses. Dit is noemenswaardig dat die korrupsie by Transnet terug dateer na ‘n tyd toe Molefe en Singh poste daar beklee het.  

Denel is die grootste vervaardiger van verdedigingstoerusting in die land. Bewyse van die #GuptaLeaks bewys dat die Gupta-familie ‘n poging aangewend het om Denel, die Staat se wapenvervaardiger, se wapens aan Indië te verkoop, ‘n ooreenkoms wat hulle miljoene rande van belastingbetalers se geld in die sak sou bring. Die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (die Valke) ondersoek nou oortredings by Denel.

Toesighouding by instellings in staatsbesit, het die Raad van Direkteurs en die Parlement – die poortwagte – ontgaan. Die gevolg is dat die Howe toegegooi word onder aangeleenthede wat met korrupsie verband hou. Die Grondwet vereis ‘n hoë standaard van professionele etiek, en dat dienste billik en sonder vooroordeel gelewer word. Dit is duidelik ‘n standaard wat nie deur hierdie instellings in staatsbesit gevolg word wanneer hulle openbare funksies verrig nie. Die feit dat instellings in staatsbesit gereeld in die Howe en in die media verskyn, is bewys van die verontagsaming van grondwetlike beginsels wat ten doel gehad het om hulle verantwoordbaar te hou aan die publiek wat hulle moet dien. Die uitoefening van openbare mag vir selfverryking – tot nadeel van die land – moenie geduld word nie. Die grondliggende waardes van die Grondwet sluit openheid en verantwoordbaarheid in. Hierdie waardes moet die grondslag wees van alle besluite wat deur die regering op enige vlak geneem word. 

Rebecca Sibanda: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.

The FW de Klerk Foundation Annual Conference

The FW de Klerk Foundation Annual Conference – hosted in conjunction with the Konrad-Adenauer-Stiftung – took place on 31 January 2025. The theme of this year’s conference is: “South Africa’s Position in the World Today”.
 

 Esteemed speakers include Ambassador Andreas Peschke (Ambassador of the Federal Republic of Germany); Magda Wierzycka (CEO of Sygnia); Dr Harlan Cloete (Local Governance and Public Leadership – Research Fellow) and Johan “Rassie” Erasmus (Springbok Coach).