Die bekendste en oudste is die verandering van artikel 25 van die Grondwet om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak – ‘n uitsonderlike inbreukmaking op private eiendomsreg. Die tweede is die dreigende Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel (NGV), waarvolgens die staat (en in effek die Minister) beheer oor gesondheidsvoorsiening sal neem, tot die waarskynlike uitsluiting van private voorsiening en gevolglike verswakking van gesondheidsdienste oor die algemeen. Die derde is die wetsontwerp wat die provinsiale ministers en hoofde van onderwys in effek die reg sal gee om te besluit oor die taal van onderrig in enige skool, en die samesmelting van skole kan afdwing. Dit sal die grondwetlik gebaseerde openbare skoolstelsel in effek ‘n staatskoolstelsel maak en die magte van ouerbeheerliggame tot amper nul afskaal. Die vierde wetsontwerp gee die nasionale Minister van Sport die mag om (in sy eie woorde) sport te beheer. Dit word wel gedoen met die edele motivering om die talle sport binnegevegte te probeer bekamp en te bestuur, maar die effek is dat die staat beheer oor nog ‘n aspek van die Suid-Afrikaanse samelewing verkry – en dit sluit selfs fiksheidssentrums in.

Hierdie vier wetsontwerpe wil die staat (ANC) beheer oor aspekte van die samelewing gee wat ‘n staat nie behoort te hê nie. En om dit te vererger, is die gemeenskaplike onderliggende dryfveer diè van rasse-transformatisme – om alle deelname aan en beheer oor aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing in lyn met die 80-9-9-2 rassebeginsel te kry. Dit is ligjare verwyder van die grondwetlike beginsel van nie-rassigheid. Dit is amper asof die ANC, soos wat dit beheer oor ander sake verloor (soos om die ekonomie te help groei, basiese dienste te lewer en wet en orde te hou), probeer om ander, skynbaar makliker beheer te kry. Hierdie tendens sal in 2020 groei en hou groot gevaar vir die gewone Suid-Afrikaner en veral minderheidsgroepe in.

‘n Tweede, meer positiewe, tendens is meer en beter ondersoeke, aanklagte en vervolgings deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke. Daar was teen die einde van 2019 reeds merkbaar meer aanklagte en vervolgings, en soos wat die NVG se kapasiteit toeneem (ondermeer as gevolg van uitkontraktering) sal meer en hoër-profiel oortreders in die howe verskyn. Onder diesulkes tel senior leiers van beide die ANC en die EFF. Die direkteur van die NVG, advokaat Shamila Batohi het trouens belowe dat Februarie die begindatum hiervoor sal wees.

Die derde tendens is nie ‘n nuwe een nie, en is trouens al jare aan die gang. Dit sal egter in 2020 nuwe hoogtes (of laagtes?) bereik. Dit is die geleidelike maar besliste wegkalwe van regeringsinstansies (veral Staatsbeheerde Ondernemings – SBOs – en plaaslike owerhede) se vermoë om te regeer, te bestuur, onderhoud te doen en basiese dienste te lewer. Die mees onlangse voorbeeld is diè van Suid-Afrika se eens trotse regsprekende hoofstad, Bloemfontein, wat die eerste metro is wat onder die adminstrasie van ‘n ewe wankelrige provinsiale regering geplaas is.  Hierdie tendens word dikwels aan ‘n “gebrek aan kapasiteit” toegeskryf. Wat egter nie deur enige regeringswoordvoerder wat hierdie gebrek wil verklaar,  genoem word nie, is dat dit direk deur rasse-transformatisme, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) veroorsaak is, en word vererger deur kaderontplooiing en ‘n kultuur van toe-eiening. Om dìt egter te erken, is om aan die hart en siel van die ANC se ideologie te vat – en dit kan nie gebeur nie. Rasse-transformatisme is belangriker as die belange van gewone en selfs arm Suid-Afrikaners. Ingeligte bronne in Eskom wys byvoorbeeld daarop dat die bose kringloop wat in hierdie eens trotse organisasie met regstellende aksie en SEB begin en deur kaderontplooiing vererger is, nog steeds in volle swang is. Mense wat sò aangestel is, sal immers nie maklik die wyk neem nie. Dit gaan die redding van Eskom nie makliker maak nie. Die enigste stukkie goeie nuus in hierdie opsig is die presedent van sakeredding waaronder SAL nou is, en die moontlikhede wat dit vir ander SBOs oopmaak.

Die vierde tendens is die voortdurende binnegevegte in die ANC en sy alliansie-vennote. Ook dit is nie nuut nie, en woed al vanaf meneer Ramaphosa in Desember 2017 as president van die ANC verkies is, en het verhewig sedert hy in vroeg 2018 as President van die land verkies is. Maar dit het veral verhewig soos wat die openbarings en vervolgings oor staatskaping en korrupsie begin toeneem het, en ook toe dit duidelik geword het dat nuwe ekonomiese beleidsriglyne dringend vir die kwynende ekonomie nodig is. Dit sluit die planne om Eskom en ander SBOs te probeer red, in. Hierdie binnegevegte het ‘n invloed op President Ramaphosa se magsposisie binne en buite die party en kan tot pogings lei om hom uit die kussings te probeer lig. Dit beïnvloed veral toekomstige ekonomiese beleid en die reddingspogings van die SBOs. Sommige kommentators, soos Max du Preez, meen selfs dat President Ramaphosa se posisie in die ANC tans die swakste is sedert hy as President verkies is. Die tyd sal leer of dit waar is, maar hierdie tendens sal in 2020 baie sake vir die Ramaphosa-administrasie bemoeilik. As die President iets blywends wil verander, sal hy die gesindheid van “ke pele” (“ek eerste”) in die staatsdiens moet verander na die eertydse “batho pele” (“die mense eerste”). Daarvoor het hy egter die steun van meerderheid van ANC NUK- en koukuslede nodig. Die binnegevegte maak dit baie moeilik.

Die vyfde tendens, wat ook nie nuut is nie, is die stagnante ekonomie. Die hoop dat die ekonomie in 2020 sou kop oplig, is reeds verydel met die swak ekonomiese groei in die derde kwartaal van 2019. Maar die groter probleme lê in ‘n gebrek aan beleidsekerheid, gebrek aan sterker optrede om SBOs se las op die fiskus te verlig en ‘n gebrek aan maatreëls om vertroue by sakeleiers in te boesem en dit makliker vir klein- en mediumondernemings te maak om sake te doen. Die meeste kommentators is dit eens dat ‘n verdere afgradering deur Moody’s aan die einde van Februarie Suid-Afrika se voorland is. Rommelstatus sal dit selfs moeiliker maak om die ekonomie te laat herstel. Hopelik kan Minister Mboweni in sy begrotingsrede ‘n haas uit die hoed trek, maar dit is onwaarskynlik. Suid-Afrikaners staar nog ‘n jaar van gordels stywer trek in die gesig.

Die belangrike gebeurtenisse vroeg in die jaar waarin hierdie tendense bevestig, verander of aangepas kan word, is eerstens die ANC se jaarlikse 8 Januarie byeenkoms en verklaring – wat hierdie jaar op 11 Januarie plaasvind. Daarna vind President Ramaphosa se staatsrede op 13 Februarie plaas, met minister Mboweni se begrotingstoespraak aan die einde van Februarie.

Die bogenoemde prentjie is allermins rooskleurig, maar onteenseglik deel van die Suid-Afrikaanse werklikheid aan die begin van die derde dekade van die een-en-twintigste eeu. Die goeie nuus is dat gewone mense en leiers hierdie tendense kan gebruik om ons onmiddelike omgewing te verstaan, en daarvoor te beplan. Die uitkomste van hierdie tendense is allermins ‘n voldonge feit. Daar kàn daaraan verander word: of dit nou hofsake is om ons skoolstelsel te beskerm, of dit maatskappye is wat goed doen ten spyte van remmende omstandighede en regulasies en of dit gewone mense is wat hulle nie aan ‘n regering steur wat alles wil beheer nie en net hulle gewone gang gaan en hulle werk doen. Gewoonlik is geen jaar in Suid-Afrika vervelig nie. 2020 is geen uitsondering nie.

Deur Theuns Eloff: Voorsitter, FW de Klerk Stigting Raad van Adviseurs
9 Januarie 2020

*Eers op Netwerk24 gepubliseer

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.