Jy sou vergewe word indien jy aangeneem het dat die regerende party ‘n private weermag het – een wat gereed is om die belange van die regerende party te verdedig en om enige opstand te stuit wat die regerende party of sy individue kan bedreig. Die Grondwet maak immers voorsiening vir vryheid van assosiasie, en dit word wyd erken dat vryheid van assosiasie ‘n belangrike komponent van ‘n goed georganiseerde samelewing is. Deelnemende demokrasie word bevorder deur die vryheid om vrylik te assosieer. Gegewe dat die Grondwet ‘n beslissende breuk met Suid-Afrika se apartheid-verlede verteenwoordig, is die vryheid om te assosieer ‘n belangrike aanwyser van ‘n beslissende breuk met die verlede. Groepe individue is meer geneig om hulself te laat geld deur hul gesamentlike pogings. Maar strek daardie vryheid van uitdrukking tot die strewe na dit wat die welstand van die samelewing of individue bedreig?
Alhoewel uMkhonto weSizwe die gewapende vleuel van die regerende party was gedurende die apartheidsjare, is alle gewapende optrede in 1990 gestaak. Voormalige soldate is by die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW), die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), asook die staatsdiens ingelyf. Wat van die groep oorgebly het is ‘n vrywillige vereniging van veterane wie se verklaarde doelwit dit is om “…onsself in die samelewing te integreer deur onsself polities, kultureel en sosio-ekonomies te bemagtig.”
Kragtens die Grondwet is dit slegs die Weermag wat die Republiek, sy territoriale integriteit en sy mense verdedig en beskerm, in ooreenstemming met die Grondwet en die beginsels van internasionale reg wat die gebruik van geweld reguleer. Die Verdedigingswet het voorts ook net betrekking op die SA Nasionale Weermag en enige hulpdiens wat die Minister van Verdediging mag aanstel. Enige sodanige hulpdiens is dan gebonde deur die bepalings van die Verdedigingswet. Meer belangrik nog, die Verdedigingswet stel beginsels daar wat die SANW reguleer. Sodanige beginsels sluit in die verbod op partypolitieke belange of om op partydige wyse op te tree om partypolitieke belange te bevorder. Suid-Afrika het ‘n florerende private sekuriteitsbedryf wat nietemin in ‘n hoogs gereguleerde omgewing bedryf word, wat individuele asook organisatoriese aanspreeklikheid vereis, met die Minister van Polisie wat die toesighoudende funksie oor die bedryf het.
Dit blyk of die VMKMV – geklee in militêre uitrustings – wel beskou kan word as ‘n weermag buite die staat, sonder om deur die Grondwet, die Verdedigingswet en selfs die Private Security Industry Regulation Act erken te word. Duidelik oorskry dit die grense met betrekking tot vryheid op assosiasie waarvoor die Grondwet voorsiening maak. In elke geval blyk dit of die lede van die VMKMV se ouderdomme nie aan die status van “veteraan” te voldoen nie. Dit suggereer dat jongmense manipuleer word soos die politieke behoefte op kom. In ‘n land met ‘n groot jeugbevolking – met die grootste werkloosheidskoers in hierdie groep – voorspel hierdie politieke roekeloosheid niks goed vir die nasie se toekomstige stabiliteit nie.
Die feit dat daar reeds liggame bestaan, met inbegrip van die SAPD, wat die sekuriteit en beskermingsaspekte van die VMKMV kan uitoefen, beteken dat daar geen regverdiging, ten minste wat vryheid van assosiasie betref, vir die optrede van die VMKMV is nie. Dit beteken nie dat daar nie meer ‘n plek vir die VMKMV in demokratiese Suid-Afrika is nie – in teendeel – dit is moontlik juis groepe soos hulle wat die wrede jare van apartheid deurgemaak het, wat ‘n belangrike rol het om betreffende nasiebou in die grondwetlike demokrasie te speel. Daardie rol sluit egter nie in pogings tot intimidasie en die oorname van die werk van liggame wat deur die reg erken word en wie se rol dit is om die sekuriteit vir die land te voorsien nie.
Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte