Basiese vrae deur die lede van die Komitee is hoofsaaklik ontduik deur die blaam op die voorgangers te plaas wat nie meer by die Agentskap betrokke is nie, en wat onder ‘n wolk van verdenking daar weg is. Die lede van die Komitee het gevolglik die huidige HUB en HFB van SASSA gevra of “hulle op hul poste slaap” en later, tydens die verrigtinge, of hulle “die bal laat val het.” Dit is ‘n ernstige aanklag op die belangrike ampsdraers van ‘n agentskap met ‘n mandaat om “die voorsiening van omvattende maatskaplike dienste te voorsien teen kwesbaarheid en armoede in die grondwetlike en wetgewende raamwerk”.
Die onderstaande uittreksel van SASSA se jongste jaarverslag sit ‘n waardeverklaring uiteen wat strydig met sy praktyk is. Dit verklaar dat SASSA, as ‘n Artikel 3A-openbare instelling kragtens die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA), daardie waardes onderskryf wat demokrasie, regstelling, maatskaplike samehorigheid en ‘n kultuur van respek vir menseregte bevorder, ondersteun deur die volgende waardes: deursigtigheid, integriteit, vertroulikheid en ‘n benadering wat op die verbruiker fokus.
Die teenstrydighede, twispunte en korrupsie wat SAAMS teister is goed gedokumenteer, en te oordeel aan die vergadering van SKOOR op 24 November 2016, duur dit steeds voort. Die belangrikste hiervan was die hofstryd van twee jaar tussen AllPay (wat die bod teen Cash Paymaster Services vir die verspreiding van maatskaplike toelae verloor het) en SASSA. Die Konstitusionele Hof se besluit om die kontrak van R10 miljoen ter syde te stel en om druk op SASSA te plaas sal hopelik ‘n belangrike les wees om te verseker dat staatstenders op ‘n prosedureel regverdige en deursigtige wyse uitgevoer word. Die uitspraak dwing SASSA om ‘n nuwe tenderproses in te stel vir die betaling van maatskaplike toelae wat, volgens bronne, ‘n interne betalingsplan aan byna 17 miljoen mense per maand kan insluit.
Vir ‘n land met lae groeivooruitsigte vir die afsienbare toekoms, hoë onderindiensneming en werkloosheidskoerse, ‘n onderwysstelsel wat gyselaar gehou word deur ‘n onderwysvakbond en te veel mense op die gesondheidstelsel, is ‘n besteding van 3% van die BBP op maatskaplike bystand, of ‘n randwaarde van byna R128 miljard in die boekjaar 2015/16, ‘n verbysterende syfer. Begunstigdes van die maatskaplike toelaagstelsel het met die laaste telling op 16 991 634 mense gestaan, in die volgende kategorieë:
- Sorgafhanklikheidstoelae
- Kinderonderhoudtoelaag
- Ongeskiktheidstoelaag
- Pleegsorgtoelaag
- Toelaes-ten-bate
- Toelae vir Ouer Persone
- Maatskaplike Noodlenings
- Toelae vir Militêre Veterane
Besig om leeg te loop
Vir ‘n organisasie wat die enorme taak het om die behoeftes van die armste en mees desperate persone onder ons aan te pak, is die reuse syfers wat aan onreëlmatige besteding en oorbesteding toegeskryf word – wat neerkom op byna ‘n miljard rand vir 2015/16 – heeltemal onverskoonbaar. Terwyl sommige bedrae wat by die vergadering van SKOOR ter tafel gelê is, verband hou met operasionele vereistes, het die Komitee ‘n probleem gehad met swak prosesse wat gevolg is, onreëlmatighede betreffende tenders en swaar steun op eksterne konsultante – ongeag interne kapasiteit.
Syfers wat ter tafel gelê is om duidelikheid te verkry tydens die vergadering van SKOOR, het ingesluit die betaling van R315 miljoen vir die Cash Paymaster Services-kontrak, R414 miljard vir fisiese sekuriteit; R233 miljoen vir die huur van kantore by die ANC-lid, John Block, se maatskappy, Trifecta/Delta Office Leases; R75 miljoen vir die gebruik van SAB&T (konsultante om ouditdienste te lewer) en R20 miljoen in ander onreëlmatige uitgawes. Daarbenewens het die Komitee antwoorde geëis oor ‘n verlies van R4.4 miljoen (beskadigde voertuie); R1.2 miljoen (die Mikondzo-geleentheid – beplande geleentheid vir die Minister, wat versuim het om op te daag aangesien sy “ontplooi” is deur die President – met min inligting wat oor die aard van die ontplooiing verstrek is) en R3.5 miljoen (geen besonderhede verstrek). Ingesluit in die verkeerde besteding, oorbesteding en onreëlmatige fondse soos hierbo genoem, is ‘n bedrag van R4.5 miljoen vir die sekuriteit van die Minister van Maatskaplike Dienste, wat na Brasilië gereis het om dwelmmuile daar in gevangenis te besoek. Waarom ‘n maatskaplike sekerheidsagentskap moes betaal vir sekuriteit, en nie die Suid-Afrikaanse Polisiediens of die Ministerie van Intelligensie nie, moet nog aangespreek word.
Korrupsie, bedrog, misdadigheid, prosedurele verduistering, die bestaan van kriminele sindikate wat kop in een mus is met werknemers van SASSA, en onverklaarbare verliese, is alles in die vergadering van die Komitee geopper. Reaksies van SASSA se HUB en HFB is hopeloos onvoldoende, afgesien van ‘n vae verwysing na beter antwoorde wat binne ‘n week verstrek sal word.
Ter opsommig dui die verliese wat gelei is, alles uit die staatskas, op ‘n groot krises en die probleme met SASSA se gebrek aan verantwoording reflekteer dié van baie ander staatsinstellings, waar die negatiewe gevolge van korrupsie en wanbestuur die nasionale hart weg vreet. ‘n Nasionale hart wat gejuig het met die aanbreek van demokrasie, in afwagting van ‘n land wat beter vir al sy burgers sou wees, en waar die narratief en waardes van die Grondwet sou seëvier, en nie dié van staatskaping en korrupsie nie.
Deur Zohra Dawood: Direkteur, Sentrum vir Eenheid in Diversiteit
VERORBER SASSA DIE ARMES?