+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Mnr Lesufi het ‘n luisterryke struggle geskiedenis, veral vir iemand wat nou maar 51 is. Volgens sy amptelike profiel was hy in 1985 (op 17-jarige ouderdom) in aanhouding as apartheidsaktivis. Hy het in 1995 (nogal ná die eerste demokratiese verkiesing van 1994) weer in ‘n Durbanse tronk beland – skynbaar omdat hy “hoër onderwys se transformasie-agenda gedryf het”. Wat sy oortreding was, word nie geopenbaar nie. Dit word ook nie gesê waarin en of hy ‘n eerste graad aan die destydse Universiteit van Natal behaal het nie. Hy het wel ‘n MBA (maar ons weet nie van watter universiteit nie). Hy het reeds diep spore in die ANC in Gauteng getrap en is adjunk voorsitter van die organisasie in Gauteng.

Maar wat is mnr Lesufi se baanrekord in onderwys as LUR in Gauteng? Een van die dinge waarop hy (tereg) baie klem lê, is dat elke kind in Gauteng toegang tot kwaliteit onderrig moet hê. Aan die begin van elke jaar sukkel Gauteng egter met tienduisende leerders wat nie geplaas kan word nie, omdat skole oorvol is. Daarom het mnr Lesufi in 2014 belowe dat hy 1 000 (een duisend) nuwe skole in die volgende klompie jare gaan bou. ‘n Mens moet aanvaar dat hy die begroting om hierdie reusetaak te verrig, beskikbaar gehad het. Daar stroom na beraming jaarliks tussen 50 000 en 70 000 nuwe leerlinge vanuit naburige provinsies na Gauteng, en daarom moet ten minste 50 nuwe skole per jaar gebou word.

Hoeveel skole is daar op mnr Lesufi se “wagbeurt” (soos hy graag self sê) die afgelope vyf jaar in Gauteng gebou? Volgens die Gautengse Departement van Onderwys self is daar in 2014/15 dertien skole gebou, in 2015/16 sestien, in 2016/17 agt, in 2017/18 ‘n skrapse ses en net vier in 2019.

Van die totaal van 1 000 wat hy belowe het, het hy slegs 47 gebou – 4.7% van wat hy beloof het.

Maar dalk is hierdie skole ten minste modelskole, goed toegerus en top presterend? Helaas nie. Die media dra die afgelope paar jaar telkens stories van nuwe skole wat swak toegerus is, of  waar rekenaars gesteel word omdat daar nie voldende sekuriteit is nie. In ander nuwe skole word rekenaars in kaste toegesluit omdat daar nie internet-toegang is nie. ’n Hoërskool in Olievenhoutbosch het ’n splinternuwe sentrum vir verbruikerswetenskappe, met blink stowe en yskaste, maar nie genoeg kooktoerusting om die vak behoorlik aan te bied nie. ’n Laerskool in Tembisa moes hul laboratorium en rekenaarsentrum in klaskamers omskep, omdat die skool aanvanklik met te min klaskamers gebou is. Hulle het dus net ’n biblioteek, wat boonop karig toegerus is, met net enkele boeke wat nie relevant is tot laerskoolleerlinge nie. Postevoorsiening vanaf die departement vir al die skole is te min en klasse het tussen 50 en 80 leerlinge elk.

‘n Ander probleem wat mnr Lesufi veroorsaak is dat hy dikwels die grense van sy verantwoordelikhede as politieke hoof van die Departement oorsteek en sommer self bestuurshoof speel – en dan uitsprake maak oor alles en nog wat. Daarmee neem hy die pligte van die onderwyshoof van die provinsie by die aangestelde amptenaar oor. Daarby skiet hy ook dikwels van die heup af – dink maar waar hy addresse van onderwysers wat later onskuldig aan rassisme blyk te gewees het, op sosiale media versprei het.

Moet mnr Lesufi ‘n slaagpunt hiervoor kry? Oordeel maar self… Toegegee, sy mediaprofiel is hemelhoog en hy lyk en klink of “iets doen”… maar die feite bewys die teendeel.

Onder Afrikaanstaliges is mnr Lesufi natuurlik meer berug, veral oor sy houding oor Afrikaans in Gauteng se openbare skole. Hy en sy verdedigers hou vol dat hy niks teen Afrikaans as onderrigtaal in skole het nie, hy is net ernstig oor integrasie in skole. Maar in Mei 2019 (op nasionale TV) is hierdie mite aan flarde geskiet toe hy hom klaarblyklik vir ‘n vraag oor die elektroniese rekenaarstelsel vir nuwe toelatings vervies het. Die strekking van sy opmerking was in die lyn van “Waarom veg mense vir Afrikaanse onderrig, daar is tog nie meer Afrikaanse universiteite in Suid-Afrika nie? Ek beskerm eintlik hierdie leerders sodat hulle nie in ‘n taal leer waarin hulle nie verder kan studeer nie”. Afgesien daarvan dat dit feitelik verkeerd is (NWU-Potchefstroom en Stellenbosch bied nog Afrikaanse onderrig aan), is dit neerbuigend en arrogant verby. Ek, die grote Lesufi, beskerm hierdie klomp Dutchmen teen hulleself! Ek help hulle om nie in hierdie agterlike taal  te studeer nie. Dit is natuurlik ook ‘n selfdienende argument: mnr Lesufi se ander ANC-kollegas en -gesindes maak seker dat Afrikaans op universiteit vernietig word, en hy voltooi die sirkel deur seker te maak dat daar nie meer vir Afrikaans ‘n aanvraag sal wees nie!

‘n Gunsteling gesegde van mnr Lesufi is dat daar onder sy leierskap nie (meer) skole vir “klein basies” sal wees nie. Afrikaanse skole is dus eintlik maar wit skole en sit apartheid voort. Daar is twee foute met hierdie argument:

In Junie 2019 merk mnr Lesufi in ‘n video-onderhoud op dat ‘n skool drie tale en drie klasstrome kan hê: een in Afrikaans, een in Engels, en een in Sesotho. Maar ná klas moet die leerders “geïntegreerd” met mekaar gaan speel.  As mnr Lesufi gedink het dat hy Afrikaanssprekendes skaakmat met hierdie uitspraak gesit het, het hierdie kommentator nuus vir hom. As hy ernstig is met sy voorstel, en as hy die begrotings daarvoor kan kry, en genoeg poste kan voorsien, en as hy wys dat dit vir hom werklik oor veeltaligheid en nie-rassigheid gaan, sal die meerderheid Afrikaanssprekende ouers hom steun. Baie ouers, ook dié wat moedertaalonderrig as grondwetlike reg opeis, sien die voordele van veelrassige skole raak.

Die probleem is egter dat met sy beleid en praktyk om dubbelmedium skole Engels-alleen te maak en meertaligheid so vernietig, het hy sy eie voorstel reeds verdag gemaak. As hy nie eers twee tale in ‘n skool kan toelaat nie, wat nog van drie? En in Afrikaans enkelmedium skole is die onderwyservoorsiening reeds baie karig. Waar gaan hy die begroting kry om drie tale in ‘n skool aan te bied? Of weet hy nie eers dat meer tale meer onderwysers vereis nie? Sy voorstel van drie tale in ‘n skool dui dus eintlik op sy skynheiligheid oor Afrikaans, asook sy onkunde oor praktiese onderwysoplossings wat, soos die Grondwet vereis, kinders eerste stel.

Mnr Lesufi se optrede en styl is daarom op twee maniere gevaarlik:

President Ramaphosa moet dus versigtig wees om opgewonde oor mnr Lesufi te raak – of blind te wees vir sy tekortkominge. Hy is nie die goeie LUR vir Onderwys wat hy homself in die media maak nie. Hy het sommige van sy pligte gruwelik versuim en is ‘n las vir die ANC wat die organisasie op die mediumtermyn duur te staan gaan kom. En hy staan lynreg in Cyril Ramaphosa se pad om versoening tussen alle Suid-Afrikaners – spesifiek met miljoene Afrikaanssprekendes – te bewerkstelling.

Theuns Eloff: Voorsitter, Adviesraad van die FW de Klerk Stigting
24 Junie 2019

*Eers op Maroela Media gepubliseer

Leave a Reply

Your email address will not be published.