Dit herdenk die dag waarop die VN se Algemene Vergadering die Verklaring oor die Regte van Kinders in 1959 en die Konvensie oor die Regte van die Kind in 1989 aanvaar het. Beide hierdie verklarings voer aan dat kinders die reg het om, onder andere, teen geweld beskerm te word.

Navorsing wys daarop dat Suid-Afrika een van die hoogste koerse van geweld het in die wêreld, waar geweld gemeet word, en dit sluit ’n ongekende hoë koers van geweld teen kinders in skole in. Dit het baie aandag van die media oor die afgelope paar maande gelok. Volgens ’n studie wat in 2013 deur die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) onderneem is, het 55% van die leerders wat aan die opname deelgeneem het, aangedui dat hulle geweld in skole aanvaar – met inbegrip van afknouery, aanranding, seksuele teistering, lyfstraf en diefstal.

Die Feite oor Geweld in Skole

Die beskerming van kinders teen alle vorme van geweld is ’n fundamentele reg wat deur die Konvensie oor die Regte van die Kind, soos deur Suid-Afrika onderteken en bekragtig is, gewaarborg word. Die VN se internasionale studie oor geweld teen kinders definieer geweld as “alle vorme van fisiese, geestelike geweld, besering of mishandeling, verwaarlosing of natalige behandeling, mishandeling of uitbuiting, met inbegrip van seksuele aanranding.” Nie net het Suid-Afrika die Konvensie oor die Regte van die Kind onderteken nie, maar artikel 28 van die Grondwet verklaar dat “elke kind die reg het om teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik of vernedering beskerm te word.”

Geweld teen kinders vind plaas in verskeie omgewings: in die huis, by die skool, in die sorg van die regstelsel en in die gemeenskap. Dit sluit in verkragting, moord, lyfstraf en afknouery, asook verskeie ander dade wat deur die VN gedefinieer word. In skole manifesteer dit hoofsaaklik in drie vorms: seksuele aanranding, lyfstraf en afknouery. Dit ondermyn die kinders se regte, met inbegrip van hul reg op basiese onderwys.

Die Sentrum vir Geregtigheid en Misdaadvoorkoming (SGM) het bevind dat skole een van die algemeenste plekke is waar seksuele aanranding plaasvind. Volgens ’n onlangse studie wat in die Cape Times gepubliseer is, is ten minste twee minderjariges per dag oor die afgelope drie maande verkrag. Die studie het voorts bevind dat ongeveer 21% van verkragtings van minderjariges in skole plaasvind – veral in landelike skole. Een opvoeder het die seksuele aanranding van leerders as ’n “byvoordeel” beskryf omdat opvoeders lae salarisse ontvang. Dit beteken egter nie dat opvoeders die enigste oortreders van verkragting is nie; studente is ook verantwoordelik. In Maart 2013 is ’n vyf-jarige meisie deur drie seuns op die skoolgrond van ’n skool in Mitchell’s Plain verkrag. Dié voorvalle is aan die toeneem en dit blyk asof daar nie juis gevolge vir hierdie dade is nie.

Lyfstraf kom ook by skole voor. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) raam dat 2.2 miljoen kinders in 2012 aan lyfstraf onderwerp is – ’n beduidende toename in hierdie voorvalle. Hierdie vorm van straf kan ernstige beserings tot gevolg hê, sowel as sielkundige skade. Artikel 10 van die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 verbied lyfstraf, en tog word meer as 12 000 leerders daagliks geviktimiseer.

Afknouery is die derde algemeenste vorm van geweld in skole. Volgens ’n studie wat deur die SGM uitgevoer is dui daarop dat 41% van leerders in Kaapstad, 33% leerders in Durban en 13% leerders in die Oos-Kaap aangedui het dat hulle afgeknou word.

Gevolge van Geweld

Geweld in skole het ’n ernstige uitwerking op leerders. Dit ondermyn ’n kind se toekomstige potensiaal en het ’n negatiewe uitwerking op hul fisiese en sielkundige welstand. Studies wys daarop dat dit ernstige gevolge kan hê op ’n student se akademiese sukses, met inbegrip van:

Geweld kweek geweld, en die stilte betreffende hierdie dade skep ’n omgewing wat hierdie optrede goedkeur. Kinders wat geweld ervaar, neem aan dat dit eie is aan die samelewing en dus aanvaarbaar is, wat ’n gewelddadige siklus skep wat altyd voortduur.

Evaluering van die Staat se Betrokkenheid

Die Suid-Afrikaanse regering is kragtens die Grondwet verplig om teen geweld te beskerm en om kinders se reg op basiese onderwys te verseker. Die Departement van Onderwys, die regstelsel en Hoofstuk 9-instellings deel hierdie verantwoordelikheid. Onlangse voorvalle dui daarop dat die regering versuim om geweld in skole te bekamp. Die Departement van Onderwys in die Wes-Kaap is byvoorbeeld die enigste provinsie wat oor ’n bindende prosedure beskik om lyfstraf aan te pak. Sonder ’n daadwerklike poging deur die regering sal geen vordering gemaak word om die probleem op te los nie.

Opvoeders is ook deur die reg gebonde om kinders wat hul skole bywoon, te beskerm. ’n Opvoeder vertolk die rol van loco parentis: ’n wettige en morele plig om na die leerders om te sien; om as ouer of voog op te tree wanneer die kinders op die speelgrond is. Opvoeders het kragtens die gemenereg ’n plig om studente se fisiese en geestelike welstand te beskerm, maar die omvang van geweld en skole maak dit duidelik dat opvoeders nie hierdie rol ernstig opneem nie.

Wette word ingestel om kinders teen geweld in skole te beskerm, maar dit is nie genoeg dat die staat wette instel nie. Met geweld in skole wat toeneem moet die regering oor ’n duidelike, bondige aksieplan beskik om die probleem aan te pak; andersins sal die onderwysstelsel steeds negatief geraak word. Meer voldoende wetlike prosedures is nodig om werk te maak van oortreders, sowel as ’n praktiese plan om mishandeling te voorkom. Daar word tans oor ’n nasionale instruksieplan beskik, maar die toepassing daarvan is beperk.

Gevolgtrekking

Op Universele Kinderdag is dit belangrik om te besin oor die regte van die kind en die verbeteringe wat nodig is om te verseker dat kinders hul regte kan uitoefen. Dit is duidelik dat Suid-Afrika stappe moet doen om kinderregte te verwesenlik. Alle kinders in Suid-Afrika verdien die reg op ’n veilige omgewing, ’n reg wat in die Grondwet gewaarborg word. Soos Nelson Mandela verklaar het, moet en sal ’n beter samelewing gemeet word aan die geluk en welstand van die kinders, wat terselfdertyd die kwesbaarste burgers in enige samelewing is en ons grootste skat. Dit is tyd dat Suid-Afrika die welstand van sy kinders beskerm ten einde te verseker dat Suid-Afrika ’n blink toekoms het.

Deur Esther Sampson: intern, FW de Klerk Stigting 

Hierdie artikel is geskryf deur ’n intern van die FW de Klerk Stigting en verteenwoordig die menings van die skrywer. Dit weerspieël nie noodwendig die menings van die FW de Klerk Stigting, sy personeel of sy raadslede nie. Die FW de Klerk Stigting is egter verbind tot ’n breë openbare dialoog wat ten doel het om die waardes, regte en beginsels wat in die Grondwet verskans is, te bevorder en beskerm. 

Foto: World Bank Photo Collection / Foter / CC BY-NC-ND


 

Leave a Reply

Your email address will not be published.