+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Die oorsake van die huidige rasse-situasie is meervoudig, en mag dalk selfs oorvleuel.

Eerstens kan die impak van die ANC se transformasie-ideologie van 80-9-9-2 rasseverteenwoordiging in alle instellings nie onderskat word nie. Hierdie “nasionale norm” het as doel swart dominasie in die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap. Die gewetenlose verrassiging van die hele samelewing deur die ANC se beleide gee dit momentum.

Tweedens speel die EFF se politieke opportunisme, populisme en anti-wit sentiment ‘n groot rol. Die EFF is vandag se AWB, met dieselfde bullebak-agtige instelling en taktieke. Maar hulle is uitgeslape om wanneer daar (veral fisiese) teenstand is, ook die slagoffer te speel.

‘n Derde faktor is die onmiskenbare opkoms van ‘n nuwe swart bewussynsgevoel onder jong swart Suid-Afrikaners. Ferial Haffajee se onlangse boek What if there were no whites in South Africa? beskryf dit op ‘n ysingwekkende manier. Hierdie groep, wat nie noodwendig aan een politieke party gekoppel is nie, is per definisie antiwit. Volgens Haffajee is hulle sentiment “We want our own (African) spaces. And in all the other spaces, we want to dominate”. Dis ook goed verwoord deur die segsman van Open Stellenbosch: “We will only feel at home when everyone looks like us (black)”.

Onderliggend aan al drie bogenoemde is daar vierdens die stygende verwagtinge (sien hiernaas) van die meerderheid Suid-Afrikaners wat meer wil hê, maar wat voel dat hulle deur die regering versaak is met onderwys, dienslewering en werkgeleenthede. Daar is frustrasie met die stadige pad na die “beter lewe” wat die ANC so gereeld belowe.

Maar wat ook al die oorsake is, is die belangriker vraag wat die gevolge kan wees? Ferial Haffajee, die redakteur van City Press het onlangs geskryf:

In societies that experienced ethnic conflict, the early warning signs were the dehumanisation of the other with labels and the blanket attachment of negative stereotypes. The signs were ignored.

We have to ask the question: How long before the burning of pictures of white people becomes the burning of white humans? The leadership of South Africa needs to drum into young people that the fight against racism and white supremacy is not a war on whites”.

Ten spyte van hierdie gevaarligte is daar egter ‘n totale gebrek aan leierskap by die regering, en ‘n dawerende stilte van die President tydens die ergste rassebotsings in die geskiedenis van ons demokrasie. Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding doen ‘n flou oproep om kalmte, maar bevestig terselfdertyd dat rassisme (lees: van wit mense) nie geduld sal word nie en dat transformasie (lees: rassedominasie) nog sterker toegepas moet word. Die ANC se ras-onderrok het sleg uitgehang toe Pieter Mulder onlangs in die Parlement gekla het oor “Kill whites”-plakkate. Toe was daar uit ANC-banke instemmende uitroepe vir hierdie soort plakkate: “yes, yes…”

Hierop het ek net een vraag: wat sou Nelson Mandela, en selfs Kader Asmal, onder hierdie omstandighede gedoen het?

Ek is oortuig dat die meerderheid Suid-Afrikaners welmenend is en dat hierdie voorvalle as geïsoleerd gesien moet word. Maar as daar nie gou leierskap van ons politieke, akademiese en kultuurleiers kom nie, kan dit gevaarlik eskaleer.

Ongelukkig is die “raad” van baie kommentatore aan Afrikaanse studente nie baie gepas nie. ‘n Jaar of wat gelede het ‘n Rhodes akademikus gesê dat witmense in “die hoek moet sit en stilbly”. Nou word gesê dat Afrikaanse studente nie aktief moet teenkanting wys teen ‘n regering en universiteite wat, direk teen die gees én letter van artikel 29(2) van die Grondwet, Afrikaans in effek as universiteitstaal wil doodmaak nie. Dat hulle eerder met hulle swart mede-studente moet praat.

Wat vergeet word, is dat die EFF (ten minste op hierdie stadium) nie in vreedsame gesprek en oplossings belangstel nie. Hulle mikpunt is onregeerbare kampusse, en praat is nie (nou) op hulle agenda nie, soos wat die afgebrande geboue op die Mafikengkampus van die NWU bewys.

Natuurlik verstaan die meeste van ons dat optrede deur Afrikaanse studente nie die einddoel kan wees nie. Natuurlik moet daar uiteindelik gepraat, onderhandel, vrede gemaak en tot ‘n vergelyk gekom word.

Die vraag is wanneer en hoe gepraat moet word?

Daar kan net gepraat word as die staat en universiteitsowerhede fermer optree en nie so maklik aan onredelike eise toegee nie. Miskien sal die EFF en ander dan uiteindelik kalm genoeg raak om te praat én te luister.

Afrikaanse studente op alle kampusse sal uit hul sluimerslaap en gemaksones wakker moet word en aktief begin optree en praat. Tot voordat Afriforum Jeug sy teenkanting teen #AfrikaansMustFall sigbaar gewys het, was die organisasie nie deel van die debat nie. Die UP moes reageer op druk van die EFF. Nou moet die UP ook dink aan wat ‘n ander groep van die “oplossing” om Afrikaans uiteindelik heeltemaal te laat verdwyn, dink. Afriforum Jeug kan dus nou deel van die oplossing wees. Die EFF (of enige ander groep) moet ‘n gespreks- en onderhandelingsvennoot hê.

Die begin en voortgang van gesprek en onderhandeling berus baie maal op persoonlike verhoudinge tussen leiers. Dink aan die Cyril en Roelf vennootskap. Ek verstaan dat op grond van persoonlike goeie verhoudinge tussen Afriforum en die ANC in Gauteng, ‘n gemeenskaplike voorstel aan die UP gemaak is om die situasie te probeer oplos. Net so sal op studentevlak persoonlike gesprekke moet begin en persoonlike verhoudings gebou moet word.

Ten slotte: enige gesprek of onderhandeling kan net slaag as dit op redelik objektiewe maatstawwe soos die riglyne van die Grondwet berus. En as dit op wedersydse respek, verdraagsaamheid oor verskille en bereidheid om kompromieë aan te gaan, berus.

Indien ons dit nie begin doen nie, gaan brand en geweld ons voorland bly.

Dr Theuns Eloff: Voorsitter, FW de Klerk Stigting 

Die artikel het eers in Rapport verskyn [Sondag 28 Februarie 2016]

Leave a Reply

Your email address will not be published.