Leiers van die ANC kan en sê net wat hulle wil oor die Suid-Afrika vóór 1994. Van tyd tot tyd – en hoe polities verkeerd dit ook al mag wees – moet ons egter miskien stilstaan en oorweeg wat werklik gebeur het.
Gedurende die vroeë 80s was daar in werklikheid ‘n wesenlike verandering in die benadering tot swart onderwys – met inbegrip van ‘n toewyding tot gelykheid en eenvormigheid wat standaarde en fasiliteite betref. Die hervormings was grootliks genoodsaak deur die kommissie van kundiges onder leiding van prof JP de Lange, rektor van die Randse Afrikaanse Universiteit, wat in 1980 deur die regering aangestel is om ‘n in diepte ondersoek in te stel na alle aspekte van onderrig in Suid-Afrika. Die Kommissie se hoofverslag, wat gegrond is op navorsingswerk van 18 komitees en wat in Oktober 1981 bekendgestel is, is oor die algemeen beskou as ‘n bloudruk vir ‘n nuwe ooreenkoms wat onderwys betref – selfs al was dit steeds gebaseer op die onaanvaarbare beginsel van segregasie.
In November 1983 het die Regering die meeste van die Kommissie se aanbevelings aanvaar. Ten opsigte van die Wet op die Beleid vir Algemene Onderwyssake (Wet 76 van 1984) was die Departement van Nasionale Onderwys verplig om ‘n eenvormige onderwysbeleid daar te stel ten opsigte van norme en standaarde vir leerplanne, eksamens, sertifisering van kwalifikasies, bedryfs- en kapitaalkoste van fassiliteite en salarisse en indiensnemingsvoorwaardes van onderwyspersoneel.
Die benadering is gegrond op die volgende beginsels:
- gelyke geleenthede en standaarde vir almal, ongeag ras, kleur of geloof;
- volledige erkenning van die kulturele diversiteit van die bevolking en gemeenskaplike waardes wat deur almal gedeel word;
- ‘n gesonde verhouding tussen die behoeftes van die individu, die samelewing oor die algemeen, asook die ekonomiese ontwikkeling van die land;
- die staat se verantwoordelikheid vir formele onderrig vir almal, met inagneming van die wense van individue, ouers en die samelewing;
- ‘n gedeelde verantwoordelikheid tussen die staat en die privaatsektor vir nie-formele onderrig; en
- staatsubsidies op gelyke grondslag vir privaatskole.
Beleide is geformuleer in oorleg met verskeie raadgewende liggame en onderwysdepartemente. Die raadgewende liggame het die Suid-Afrikaanse Raad vir Onderwys ingesluit, wat in Oktober 1985 aangestel is. Dit het voorsiening gemaak vir opvoedkundiges uit alle bevolkingsgroepe om gesamentlike besluite te neem oor leerplanne, eksamens, diensvoorwaardes vir onderwysers; en finansieringsbeleide in primêre en sekondêre onderwys.
Hierdie proses het gelei tot wesenlike hervormings.
- Vanaf 1 Desember 1986 het alle onderwysers by alle skole, ongeag ras, dieselfde salaris vir dieselfde kwalifikasies ontvang. (Vir baie jare voor Desember 1986 het wit en nie-wit universiteitspersoneel dieselfde salarisse ontvang en vir dieselfde voordele gekwalifiseer).
- ‘n 10 jaar-program is in April 1986 aangekondig om onderwysprogramme en -fasiliteite op te gradeer, veral vir swart mense, bruin mense en Indiërs, wat staatsuitgawes aan onderwys van R6800 miljoen per jaar tot R10000 miljoen per jaar verhoog het. Die program is ontwerp om die kwalifikasies van onderwysers en die verhouding van onderwysers tot leerders te verbeter, en om die verwagte enorme toename in die aantal swart leerders te akkommodeer.
- Die Gesamentlike Matrikulasieraad het dieselfde standaarde vasgestel vir matrikulasie of universiteitstoelating vir almal – alhoewel alle onderwysdepartemente vir alle bevolkingsgroepe in praktyk reeds vir baie jare dieselfde leerplan vir dieselfde vakke gebruik het.
- Twee sertifiseringsgrade is ingestel ten einde te verseker dat sertifikate en diplomas van gelyke waarde deur alle alle skole en ander onderriginstellings uitgereik is. Een hiervan was die Suid-Afrikaanse Sertifiseringsraad, wat bestaan het uit kundiges uit alle bevolkingsgroepe, wat identiese sertifikate van gelyke waarde aan leerders van alle bevolkingsgroepe toegeken het wat ‘n gegewe graad of standaard op skool of tegniese kollege geslaag het. Ten opsigte van die wetgewing moes alle eksamenliggame voldoen aan die Raad se vereistes vir eksamens vir ‘n spesifieke sertifikaat, die standaarde en norme toepas wat deur die Raad vir hierdie eksamens vasgestel is, en die onderwerpe bekendstel wat deur die Raad vir sy sertifikate voorgeskryf is.
- Van die vroeë 80s het alle residensiële universiteite wat oorspronklik vir wit mense gestig is, begin om studente uit alle bevolkingsgroepe toe te laat. Teen 1987 was 11 212 nie-wit studente (3348 bruin, 3593 van Asiatiese afkoms en 4271 swart) by hierdie universiteite op voltydse grondslag ingeskryf. Dit het ongeveer 10% van die totaal verteenwoordig. Teen 1993 was hulle 26 000 studente, wat 22% van die totaal verteenwoordig het – met inbegrip van 34% by UK en byna 50% by Natal.
- ‘n Wye reeks vakke en kursusse is by sekondêre skole aangebied – wat ten minste ses vakke in St 10 vereis het, waarvan een ‘n amptelike taal (Engels of Afrikaans) moes wees en een die taal van die leerder.
- Die leerplan vir St 6 tot 8 is gebaseer op die leerplan wat deur die Departement van Onderwys en Kultuur – verantwoordelik vir wit skole – goedgekeur is. Dié departement se leerplanne is gebruik in St 9 en 10. Swart matrikulante het die eksamens van die Departement (die Nasionale Senior Sertifikaat) of dié van die Gesamentlike Matrikulasieraad afgelê. Die leerplanne was dieselfde vir alle eksamenliggame -en dit was die standaard van die St 10-eksamen vir alle departemente.
Dit alles het gelei tot wesenlike verbeterings wat die uitkomste van swart onderwys betref. In 1980 het slegs 29 973 swart skoliere matriek geskryf – van wie 15 935 geslaag het. Dit was egter minder as een derde van die 47 347 wit skoliere wat in daardie jaar matriek geslaag het. In 1994 het 410 784 swart leerders egter matriek geskryf, van wie 201 284 geslaag het. Dit was meer as drie keer die 60 362 wit leerders wat in dieselfde jaar matriek geslaag het. Teen 1995 het wit mense uit slegs 37.5% van die studente bestaan wat by ons universiteite ingeskryf is – in vergelyking met 50.2% vir swart studente, 5.8% vir bruin studente en 6.5% vir Indiërs.
Uit dit alles blyk dit dat daar wel wesenlike vordering gemaak is (maar nooit genoeg nie) om swart onderwys te verbeter – veral in die tydperk na 1980. Die prestasie moet ook oorweeg word teen die hoë vlakke van onluste onder die jeug gedurende die 1980s – gemotiveer deur die slagspreuk “bevryding eerste – onderwys tweede”.
Glo ons Adjunkpresident werklik dat prof De Lange – en diegene wat so hard gewerk het om swart onderwysuitkomste gedurende die 1980s te verbeter – deur kwaadwilligheid gemotiveer is?
Bron: SAIRV Meningsopnames 1996/97 en 2010/2011
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting