’n Loodsprojek vir howe wat hul verrigtinge in inheemse tale sal uitvoer is in 2009 onderneem, maar is opgeskort na afloop van ’n evaluering daarvan deur die Departement. Die Departement het verlede maand verklaar dat dit die projek gaan heropen.

Volgens die Departement is die doelwit om die gebruik van inheemse tale in ’n paar howe bekend te stel en te bevorder en om dit dan na ander howe uit te brei. Ander doelwitte is om veeltaligheid in howe te behou, om deelnemers aan die verrigtinge van die howe toe te laat om tale te gebruik wat hulle verstaan, en om inheemse tale in howe in tale van rekord te omskep. ’n Woordvoerder van die Departement het bygevoeg dat daar koste betrokke sal wees, aangesien hofsake van inheemse tale na Engels vertaal sal moet word vir appèl- en hersieningsdoeleindes.

Die stand van tolk- en vertalingsdienste in die Suid-Afrikaanse howe en regstelsel is ’n voortslepende – en kommerwekkende – onderwerp van bespreking. ’n Onlangse voorbeeld is die voorval waar Thamsanqa Jantjie hom valslik as ’n gebaretaaltolk voorgedoen het tydens Nelson Mandela se gedenkdiens, en Suid-Afrika op internasionale vlak in die verleentheid gestel het.

Verdere onlangse voorvalle sluit in die moordsaak van die paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, waar sekere staatsgetuies soveel vertroue in die tolk verloor het dat hulle besluit het om eerder in Engels, in plaas van Afrikaans, te getuig. Tydens dieselfde verhoor het ’n nuwe tolk getuies se getuienenis op verskeie geleenthede verkeerd getolk. Een só ’n voorbeeld was toe die verdediging ’n tolk moes reghelp gedurende die getuienis van een staatsgetuie (’n voormalige kolonel in die polisie), wat gesê het dat toe hulle daar aangekom het, daar handdoeke en swartsakke op die toneel was. Die tolk het hierdie getuienis van Afrikaans na Engels getolk as: “…there was black clothing.” Die getuie het ook verklaar dat die persoon reeds dood was toe die paramedici opgedaag het, wat die tolk toe as volg vertolk het: “The body died on their arrival.”

In ’n ander saak in die Oos-Kaapse Hoë Hof in Port Elizabeth is ten minste 16 staatsgetuies wat in ’n moordsaak getuig het, teruggeroep omdat die oorspronklike vertolking van hul oorspronklike getuienis in die hof nie op standaard was nie. Berigte dui daarop dat die drie beskuldigdes in die saak – wat almal isiXhosa-sprekend is – hul kommer gelug het oor die gehalte van die vertolking van sekere getuienis wat deur staatsgetuies gelewer is. Gevolglik het die hooftolk (wat optree as inspekteur van tolke) bevestig dat die vertolking van getuienis nie slegs nie op standaard was nie, maar dat die getuies ook nie deur die tolk reg ingesweer is nie.

Die Suid-Afrikaanse Mededingingstribunaal het ook onlangs besluit dat Afrikaanse getuienis sowel as die Engelse vertolking daarvan getranskribeer moet word ten einde te verseker dat die Hof dít wat getuies gesê het, korrek weergegee is. Volgens berigte het die Tribunaal se woordvoerder gevra of ’n getuie sou omgee om in Engels te getuig, aangesien hy bekommerd was oor die gehalte van die Engelse vertolking van haar antwoorde. Dít het plaasgevind nadat ’n ander getuie van Afrikaans na Engels moes oorslaan tydens sy getuienis nadat ’n ander tolk versuim het om sy antwoorde op aanvare wyse aan die Tribunaal oor te dra.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het onlangs sy kommer oor die probleem uitgespreek toe hy die Vereniging van Suid-Afrikaanse Regsbeamptes in Benoni toegespreek het. Mogoeng het sy kommer uitgespreek oor die swak opleiding van tolke en het aangevoer dat Suid-Afrikaners hofsake verloor weens die swak gehalte van hoftolke.

In die konteks van ’n hofsaak is die belangrikheid wat geheg word aan gehalte en akkurate vertolking van getuienis oogeenlopend, en dit kan nie genoeg beklemtoon word nie. Indien ’n presiese en akkurate weergawe nie in die doeltaal gelewer word nie (dit wil sê die taal waarin getolk word), sal die getuienis of verrigtinge gebrekkig wees. Dit is ’n sensitiewe posisie en kan vererger word indien die waarnemende beampte byvoorbeeld nie beide tale wat in die hoof gepraat word, goed ken nie, en hy of sy dan ten volle op die tolk se weergawe moet staatmaak deur te aanvaar dat dit wat aangebied word korrek en akkuraat is.

Wat is dit situasie tans?

Die Departement van Justisie – wat verantwoordelik is vir die daarstelling van tolkdienste in Suid-Afrika se howe – het nog nie voldoende geantwoord op vrae oor planne om tolkdienste te verbeter nie.

Dit is te betwyfel of toegewyde inheemse howe geregtigheid sal bespoedig en howe meer toeganklik vir Suid-Afrikaners sal maak.

Dit is ook te betwyfel of voorgestelde howe soos hierdie – wat eksklusief sal wees afhangend van die spesifieke hof se taal – die gees van die Grondwet sal navolg.

Sal daar byvoorbeeld meer isiXhosa-, isiZulu- en Afrikaanse howe wees as siSwati-, Sepedi- of Tswana-howe, en hoe sal die besluit geneem en dit in werking gestel word? Sal geregtigheid seeviër as ’n TsiVenda-spreker ’n regsaangeleentheid het, maar die hof wat die naaste aan sy/haar huis is, is ’n hof wat eksklusief SeSotho gebruik?

Sal dit nie meer haalbaar wees om die bestaande probleem van swak tolkdienste in die regstelsel aan te pak nie? ’n Positiewe stap sal wees om beter en geskikte opleiding aan hoftolke te bied – daar is tans geen toegewyde kwalifikasies vir hoftolke nie en UNISA se BA-graad met betrekking tot tolking in howe is in 2009 opgeskort. Maatreëls om toepaslike gehaleversekering in alle howe te verseker moet ’n vereiste wees, wat moontlik gereelde toetse vir tolke kan insluit, sowel as toepaslike en erkende akkreditasie as ’n hoftolk.

Indien die Departement van Justistie werklik ernstig is oor die verbetering van toegang tot geregtigheid – en gegewe die feit dat Suid-Afrika 11 amptelike tale het – moet die Departement dit ernstig oorweeg om ’n stelsel van gelyktydige tolking in ons howe in te stel – ’n stelsel soortgelyk aan die een wat byvoorbeeld deur die Verenigde Nasies (VN) gebruik word. Toegewyde tolke lewer gelyktydige tolking gedurende verrigtinge in die VN se amptelike tale, wat Arabies, Chinees, Engels, Frans, Russies en Spaans is.

Wanneer ’n verhoor gevoer word in ’n taal wat die beskuldigde nie verstaan nie, is die behoefte aan ’n tolk duidelik. In die saak S v Ndala het die Kaapse Provinsiale Afdeling (soos dit toe bekendgestaan het) herbevestig dat die voorsiening van ’n tolk ’n vertaling vereis wat juis en getrou is en dat die behoefte aan ’n tolk juis ontstaan het omdat die linguistiese vermoë van die hof en die beskuldigde nie ooreengestem het nie.

Tolkdienste speel ook ’n belangrike rol in die oorweging van ’n belangrike regsbeginsel: dat geregtigheid moet geskied. Waar hierdie dienste van uitstekende gehalte is, word geregtigheid bevorder en diegene wat nie nou by die regsproses betrokke is nie, kan dit sien gebeur. Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar: waar hierdie dienste nie op standaard is nie, word geregtigheid en die wyse waarop dit in die Grondwet ten doel gestel word, ernstig ondermyn.

Die Grondwet is baie duidelik: die reg op ’n regverdige verhoor sluit in die reg om verhoor te word in die taal wat die beskuldigde verstaan. ’n Voorwaarde vir toegang tot geregtigheid is die ordentlike funksionering van die regstelsel self – asook sy verskeie maatstawwe.

Dit is in die belang van die publiek dat diegene wat betrokke is by die veeltalige administrasie van geregtigheid in Suid-Afrika – van die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling, wat verantwoordelik is vir die daarstelling van tolke, tot die regters en landdroste wat oor ons howe waarneem – om die kwessie van swak tolkdienste aan te pak sodat hierdie belangrike beginsel die respek kry wat dit verdien.

Deur adv Jacques du Preez, FW de Klerk Stigting 

Foto: lausannemovement / Foter / Creative Commons Attribution-NonCommercial-ShareAlike 2.0 Generic (CC BY-NC-SA 2.0)


Leave a Reply

Your email address will not be published.