Sodoende het hy ‘n belangrike drumpel oorgesteek op Suid-Afrika se weg na rassigheid wat amptelik in sport opgelê word. Vir so lank as wat teikens teikens gebly het, kon dit aangevoer word dat meriete, en nie ras nie, steeds die hooffaktor was in die keuring van nasionale spanne. Rasseteikens wat deur sanksies van die staat toegepas word, is nie meer teikens nie – dit is kwotas. Rassekwotas – saam met enige vorm van rassediskriminasie – word deur die Internasionale Olimpiese Komitee en deur die meeste internasionale sportkodes verbied. Hulle verbied ook inmenging deur “derde partye”, met in begrip van regerings, in die onafhanklikheid van nasionale sportliggame.

Die Minister se aankondiging dui op Suid-Afrika se terugkeer na ‘n sportregime wat ondergeskik is aan die rasse-ideologie van die regerende party. In die ou dae was die ideologie apartheid. Nou is dit die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie met sy doel van deurdringende demografiese verteenwoordiging. Die grootste bekommernis is nie die sukses van nasionale spanne nie, maar die vereiste dat spanne die rassesamestelling van die Suid-Afrikaanse bevolking moet weerspieël.

Dit is ironies dat die sportkodes wat Mbalula wil straf, die einste sport in Suid-Afrika is wat die grootste sukses in internasionale kompetisies behaal het. Die Springbokke het twee keer die Rugby-wêreldbeker verower en die Proteas het gedurende die afgelope paar jaar die top posisie in wêreldtoets- en eendagkrieket behaal.

Prestasies in sport is ‘n intense persoonlike stryd. Dit vereis besondere toewyding en verbintenis. Dit behels ure van moeilike daaglikse opleiding, dit word bevorder deur streng en dikwels hartverskeurende mededinging; en dit word gekroon deur die groot eer om gekies te word om jou land te verteenwoordig – die geluk van ma’s, pa’s en vriende wat voor die familie se TV-skerm aanmoedigings skree. Nou sal sportmanne en -vroue, wat op meriete gekies behoort te word, meegedeel word dat hulle nie Suid-Afrika kan verteenwoordig nie omdat hulle aan die verkeerde ras behoort. Baie sal ander talentvolle Suid-Afrikaners oorsee volg om hul loopbane daar na te streef.

Vir die Minister van Sport en Ontspanning is die hooffaktor egter duidelik nie die drome van individuele sportmanne en -vroue, of van sukses in nasionale sport nie. Dit is ras.

Hierdie benadering is moontlik ten beste uitgedruk deur president Mbeki tydens ‘n radio-onderhoud die dag nadat die Springbokke die Rugby-wêreldbeker in 2007 gewen het. Hy het gesê dat ‘n verenigde Suid-Afrika “’n baie groter prys sal wees” (vermoedelik as selfs die Rugby-wêreldbeker). Hy het bygevoeg dat indien die beste die verlede weerspieël (dit wil sê ongebalanseerde spanne wat ras betref) – dan sal iets moet meegee. “Indien ons een of twee wedstryde gaan verloor indien ons daardie doelwit gaan bereik, dan dink ek ons moet een of twee wedstryde verloor.” Sy kommentaar het sy verklaring in 2002 herhaal toe hy gesê het dat ons vir twee of drie jaar nie moet omgee om internasionale wedstryde te verloor nie omdat ons ons mense in dié spanne in bring.”

Die belangrike elemente hier is die gewilligheid om sukses in sport te offer op die ideologiese altaar van ras en die karaterisering van swart spelers as “ons” mense. Hoe kan die uitsluiting van minderheidspelers (nie “ons mense” nie?) uit nasionale spanne enigsins bydra tot president Mbeki se “veel groter prys” van ‘n “verenigde Suid-Afrika”?

Ongelukkig is hierdie benaderings nie net in sport gemanifesteer nie, maar in die wyse waarop transformasie regdeur ons samelewing ingestel word. In die staatsdiens, die veiligheidsmagte en ondernemings in staatsbesit is baie uitstekende swart Suid-Afrikaners in belangrike posisies aangestel, duidelik op grond van meriete. Baie ander is egter op grond van hul ras aangestel – met min of geen agting vir meriete. Poste wat baie belangrik is word dikwels vakant gelaat, omdat dit die demografiese kwotas waaraan die regering so hard werk om te verwesenlik, negatief sal raak. Dit is klaarblyklik beter vir plaaslike owerhede en staatsdepartemente om demografies verteenwoordigend te wees, eerder as om noodsaaklike dienste suksesvol te lewer. Dit is belangriker dat plaaseienaarskap Suid-Afrika se demografiese profiel moet reflekteer, eerder as wat plase winsgewend bestuur word en kos vir Suid-Afrika se mense lewer.

Die aanwys van belangrike rolspelers in die privaat-, openbare en nie-regeringsektor op grond van ras, eerder as meriete, is een van die grootste redes waarom Suid-Afrika besig is om ‘n nasie te word wat verloor.

Natuurlik moet ons verseker dat elke kind die geleentheid het om te presteer in watter sport ook al hy of sy kies. Sportkodes het ‘n belangrike rol om te speel in die verwesenliking van sodanige geleenthede: hulle het egter nie die enigste – of selfs die hoof – verantwoordelikheid om dit te doen nie. Die popularisering van sportkodes hang net soveel af van die Departement van Sport en Ontspanning, as wat dit van ons wanfunksionerende skole en ons gemeenskappe afhang.

Sommige kodes sal egter op disproporsionele wyse deur verskillende gemeenskappe gesteun word. Deelname aan sport het dikwels ‘n sterk kultuurgrondslag – nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld. Die Engelse rugbyspan bestaan uit 5% van die bevolking wat privaatskole bywoon. Die top swemmers in die Verenigde State is wit, terwyl basketbal, boks en atletiek deur die 12% swart minderheid gedomineer word. Kan jy die protes indink as swart deelname aan hierdie sportsoorte tot 12% beperk sou word?

Die tyd het miskien vir ons aangebreek om die tradisie van nie-rassigheid wat voor 1994 in sport gegeld het, te laat herleef in die vorm van ‘n nuwe SAN-ROC. Ons kan dan een stel spanne hê wat op ‘n werklik nie-rassige grondslag gekies word – en nog ‘n stel wat volgens die ANC se maatstawwe ten opsigte van ras gekies word. Watter spanne sal die meeste borge, die beste spelers en die meeste steun kry? Teen watter spanne sal buitelandse spanne wil speel?

Die punt is dat in ‘n vrye samelewing, die regering geen rol behoort te hê in hoe wetsgehoorsame sportorganisasies hul sake moet bestuur nie – of in die opheffing van hul “voorreg” om internasionale toernooie aan te bied nie.

Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting

Leave a Reply

Your email address will not be published.