Die ANC het sy doel ywerig nagestreef en het daarin geslaag om feitlik al die hefbome van staatsmag te gryp, met uitsluiting van die Regbank, die Kantoor van die Openbare Beskermer en moontlik die Verkiesingskommissie (OVK).

Al die ANC se faksies ondersteun hierdie proses. Wat sommige van hulle bekommerd nou maak, is dat belangrike elemente van die staat gekaap is deur president Zuma en diegene rondom hom ten eie hul eie persoonlike finansiële en politieke doelwitte – en nie dié van die ANC nie – te bevorder.

President Zuma het doeltreffende beheer oor die sekuriteitsbedryf en belangrike instellings verseker – met inbegrip van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke en die Polisie se OPOD. Sy poging verlede Desember om beheer te neem van die Ministerie van Finansies was egter ‘n stap te ver.

Nie-Zuma-faksies is, verstaanbaar, bekommerd oor hierdie ontwikkelings. Baie staatmakers beskou dit as ernstige bedreigings vir die etos van die ANC en as voorlopers van die soort ‘Groot Man’-politiek wat baie van die res van Afrika verwoes het. Hulle is veral bekommerd oor president Zuma se beheer van die veiligheidsapparate. Hulle vrees dat hul fone afgeluister word en dat die prys van voortgesette lidmaatskap van die ANC se regerende elite – met al die gepaardgaande byvoordele – hul stille gelatenheid sal wees.

Dit gee aanleiding tot die derde gebied wat betwis word – en tot mnr Ramaphosa se bekommernis – nie oor staatskaping nie – maar oor die kaping van die ANC self. Almal onthou Polokwane in 2007, toe die SAKP, COSATU en die ANC-jeugliga die ANC van die Mbeki-ondersteuners namens Jacob Zuma gekaap het.

Sedertdien het die SAKP enorme en oneweredige invloed in die formulering van ekonomiese beleid geniet en die voorste rol wat die rigting van die NDR betref, opgeëis. Dit maak geen geheim van sy minagting vir ‘tussenganger’-elemente in die ANC wat hul politieke affiliasie gebruik om hulself te verryk nie. Dit het – nie verrassend nie – ‘n sterk reaksie van die Zuma-faksie ontlok – en veral van die sogenaamde “Premiersliga”. Nou staar die SAKP – met wie mnr Ramaphosa takties in lyn is – die vooruitsig in die gesig om weer eens in die politieke wildernis te wees – net soos wat tussen 1996 en 2007 onder leierskap van president Mbeki gebeur het.

Dit bring ons nou na nog ‘n gebied wat die ANC wil kaap: die ekonomie.

Al die ANC-faksies ding mee om die posisie in die aanloop tot die ANC se Nasionale Konferensie aan die einde van 2017 omdat dit die toekoms van die ANC – en die staat – vir die daaropvolgende vyf jaar sal bepaal. Oral maneuvreer aanspraakmakers om die ondersteuning van afgevaardigdes te verseker – en sodoende speel ‘n paar die rassekaart.

Dit is wat mnr Ramophosa verlede week gedoen het, toe hy aan swart sakemanne gesê het dat “Hierdie ekonomie vir té lank deur wit mense besit en beheer is. Dit moet tot ‘n einde kom…Vir diegene wat nie van dié idee hou nie (dws wit mense) – dis nou maar so.”

Mnr Ramaphosa is verkeerd oor wie die ekonomie besit en beheer: swart Suid-Afrikaners beheer ekonomiese en fiskale beleid; hulle beheer die staat se 35% deel van die ekonomie; hulle besit die 10% wat deur die informele sektor verteenwoordig word, en volgens die JSE besit hulle ‘n hoër persentasie van die aandelemark as wit mense. Wit mense beheer en besit steeds ‘n oneweredige – maar verminderde – deel; maar dit behoort nie ‘n verrassing te wees wanneer ‘n mens in ag neem dat hulle baie van die betrokke maatskappye opgebou het en dat hulle ‘n oneweredige deel van die entrepreneurs- en bestuursvaardighede in die 45+ bestuurder/eienaar-groep verteenwoordig nie.

Mnr Ramaphosa sal vind dat die kaping van die ekonomie ‘n bietjie meer ingewikkeld is as die kaping van die staat. Anders as die geval met die staat, lewer sakeondernemings ‘n waarde – of hulle gaan bankrot. Dit beteken dat hulle deur die mees bekwame mense bestuur moet word, ongeag hul ras. Die ANC moes dit geleer het uit sy ernstige wanbestuur van semi-staatsinstellings – ‘n wesenlike deel van die ekonomie wat dit reeds gekaap het.

Niks van hierdie “kaap”-besigheid is met die Grondwet versoenbaar nie.

Die Grondwet vereis staatsinstellings wat onafhanklik van onbehoorlike politieke invloed uit enige oord is – en wat die mense van Suid-Afrika op gelyke wyse dien, ongeag hul politieke affiliasie of ras.

Dit verklaar ook dat niemand van eiendom ontneem kan word, behalwe kragtens ‘n algemeen geldende regsvoorskrif nie, en niemand mag die arbitrêre ontneming van eiendom toelaat nie.

Soos wat Adjunkpresident Ramaphosa behoort te weet, is beleide wat gebaseer is op rasgedrewe mobilisering – met die duidelike doelwit om die regmatige belange van enige Suid-Afrikaner op grond van ras te skend – onaanvaarbaar en ongrondwetlik. Dit erodeer ook enige vooruitsig van nasionale eenheid en dit sal lei tot die vernietiging van die ekonomie en ons grondwetlike staat.

In die puin waar daardeur gelaat sal word, sal daar baie min oor wees vir enige iemand om te kaap.

Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting

Leave a Reply

Your email address will not be published.