Die hand van die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Bathabile Dlamini, oor wie se belang in die handhawing van die winsgewende rol van Cash Paymaster Services wyd berig is, wys sterk in hierdie moontlike 1 April-gemors.
In sy uitspraak van 2014 het die Konstitusionele Hof, terwyl dit erken het dat SASSA die tenderproses ernstig in gedrang gebring het met die toekenning van een van die mees winsgewende staatskontrakte, nietemin aanvaar dat die armste Suid-Afrikaners nie onder die gevolge moet ly nie en dat CPS voortgaan om die toelae te versprei. Die Hof het bevind dat die Agentskap twee jaar het om sy onreëlmatige tenderproses reg te stel, en om die Hof ingelig te hou oor sy vordering.
Twee jaar is byna verby en die Minister, SASSA en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het nog glad nie die Konstitusionele Hof se beslissing ter harte geneem nie. Die verontagsaming van ‘n hofbevel beteken niks goeds nie, maar dit is miskien nie heeltemal vreemd in die huidige politieke klimaat nie.
Ewe kommerwekkend is die arrogansie wat die Minister en amptenare van SASSA met verskeie verskynings voor die Portefeuljekomitee in die Parlement getoon het (of versuim om te verskyn, in die Minister se geval). Op 1 Februarie 2017 was die Minister nie in staat om te verskyn nie weens haar deelname aan ‘n lekgotla van die kabinet. Op ‘n vorige geleentheid het die Minister haarself in Addis Ababa bevind om afskeid te neem van die voormalige voorsitter van die AU, Dlamini-Zuma. DA-lid op die Portefeuljekomitee, me D Wilson, het die gevoelens van die lede opgesom wat “nie die verskoning van die Minister kan aanvaar nie, omdat die agenda van die vergadering grens aan ‘n nasionale ramp. Partypolitiek kan nie voorkeur bo Suid-Afrikaanse aangeleenthede geniet nie”.
Waarheen volgende
SASSA-verteenwoordigers en die Spesiale Adviseur van die Minister het die Portefeuljekomitee tot op datum gebring oor beplande voorleggings, alles gegrond op die idee dat “SASSA begunstigdes soos gewoonlik sal betaal”. Die voorlegging, alhoewel dit gedetailleerd is, is duidelik onwerkbaar in die beskikbare tydraamwerk.
Ter opsomming het die verteenwoordigers die volgende vordering om aan die Konstitusionele Hof se beslissing te voldoen, uiteengesit: ten spyte daarvan dat die tender weer geadverteer is, is nie een van die drie aanbiedinge aanvaar nie omdat hulle “nie reageer het op verpligte administratiewe funksionaliteit” nie – waarvan die presiese betekenis en gevolge onpeilbaar is en ook nie verduidelik is nie. ‘n Gedetailleerde voorbladstorie in die Financial Mail, “Welfare Disaster: 17 million lives on the line”, bied ‘n meer genuanseerde analise van die werkinge aan die kern van die nie-toekenning van ‘n nuwe kontrak en die houvas wat CPS en sy moederskip op miljoene begunstigdes van toelae het.
Opsies oorweeg
SASSA-verteenwoordigers en die Minister se Spesiale Adviseur het kort-, medium en langtermyn-opsies en -tydraamwerke aan die Komitee voorgehou. Soos voorspel kon word is die handhawing van die status quo met CPS bo-aan die lys, ongeag die feit dat hierdie opsie die Konstitusionele Hof se beslissing van 2014 skend en gevolglik kan ‘n onregmatige en onwettige kontrak verleng word.
Ander idees op die tafel sluit in die verkryging van die dienste van banke, die gebruik van die Poskantoor, met sy uitgebreide fisiese infrastruktuur, en ‘n gemengde modaliteit tussen voortgesette gebruik van CPS en die gebruik van bankinfrastruktuur.
‘n Oplossing op die medium termyn sluit in dat SASSA en die Suid-Afrikaanse Reserwebank kragte saamspan om spesiale rekeninge te skep as manier om begunstigdes te betaal. Terwyl die voorstel steun op gedetailleerde robuuste tydraamwerke, hoe onrealisties ook al, opper dit die vraag of SASSA oor die menslike kapasiteit en administratiewe stelsels beskik om die regulerende funksies van ‘n bank oor te neem en/of vir spesiale kwytskelding as ‘n betalingsentrum te kwalifiseer.
‘n Plan op die lang termyn is dat voorbereiding getref word vir SASSA om die funksies van die bestuur van toelae en die verspreiding daarvan in-huis te doen, met die vereiste regs- en regulatoriese kwalifikasies wat teen 2019 aan voldoen sal word.
Ongeag die bogenoemde is ‘n belangrike vraag of die Konstitusionele Hof ‘n onwettige kontrak sal verleng. Kan die Tesourie, as bastion van integriteit en verantwoordbaarheid, toegee tot die versoek van ‘n Minister, wat heeltemal gediskrediteer is, en die onbevoegde leierskap van SASSA om “sonder ‘n geweer teen ons kop met CPS te onderhandel”, in die woorde van Craig McKune of amaBhungane, Sentrum vir Ondersoekende Joernalistiek.
AmaBhungane se baie omvattende ondersoek na die SASSA-saga het inligting aan die lig gebring dat die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling gepoog het om haar posisie te gebruik om SASSA ‘n hupstoot te gee met ‘n plan om die rol van private kontrakteurs te bevorder – veral dié van CPS. Die artikel wys voorts ook daarop dat Dlamini se plan strydig is met ‘n ‘oop argitektuur’ as alternatief dat SASSA, die Tesourie en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en die Suid-Afrikaanse Reserwebank inhoud aan verleen het.
Onlangse dekking in die media, met inbegrip van ‘n hoofstorie in Business Day (9 Februarie 2017), haal Serge Belamant, HUB van Net1, aan dat hy “in die donker” is oor die toekoms ná 31 Maart. Miskien, met al die kaarte wat in sy guns tel, kan mnr Belamant astrant wees en joernaliste vra waarom SASSA Konstitusionele Hof toe moet gaan. Waarom nie ‘n nuwe kontrak nie, vra hy?
Die SASSA-saga het die fokus geplaas op verskeie kwessies wat hier bo uiteengesit is, maar nie een is so kommerwekkend soos die uitwerking op korrupsie, baantjies vir boeties, ondoeltreffendheid en wanadministrasie op die armste van die armes, vir wie maatskaplike welsyn ‘n belangrike lewensboei is.
Daar word steeds gewag op die besluit van die Konstitusionele Hof, en alhoewel dit as bewaarder vir die armes in hierdie verband opgetree het, mag sy volgende skuif beskou word as tussen die duiwel en die diep blou see.
Die SASSA-aangeleentheid beklemtoon weer die belangrikheid daarvan om te streef na verantwoordelike, doeltreffende en deursigtige instellings. Op sy optimale vlak moet hierdie waardes ‘n bevorderlike omgewing kweek wat harmonie, welwillendheid en, meer belangrik, ‘n diep waardering kweek vir die belangrikste elemente van ons grondwetlike demokrasie.
Die FW de Klerk Stigting, saam met ander bekommerde burgers en instellings, is bekommerd deur die Minister en SASSA se versuim om uitvoering te gee aan die bevel van die Konstitusionele Hof en behou die reg om oplossings in die reg te vind oor die Hof se bevel wat op 31 Maart 2017 verstryk.
Deur me Zohra Dawood: Direkteur, Sentrum vir Eenheid in Diversiteit
SASSA: IS DIE ARMES DIE GEKKE?