Op die heel minste wys die Regter se ondeurdagte kommentaar op die mynveld van sosiale media op ‘n gebrek aan oordeel – vermoedelik ‘n belangrike vereiste vir haar werk. Dit was ook onoordeelkundig om die aktivis Gillian Schutte te kies as ontvanger van haar sosiologiese oorwegings. Aangevuur deur politieke geregtigheid, het Schutte die storie ‘n jaar nadat sy die boodskappe ontvang het, gebreek – soos wat die noodlot dit wil hê, op die dag wat Jansen se man agter die stuur van sy motor in Engeland oorlede is.

Die heftige reaksie van swart Suid-Afrikaners, politici, die media, die regsprofessie en politieke partye op Jansen se kommentaar is heeltemal verstaanbaar – veral in lig van die huidige emosioneel onstabiele klimaat van rasseverhoudinge. Die wiele van geregtigheid het met groot spoed gereageer: Jansen is geskors en kan nou moontlik haar posisie as regter verloor.

Die groot jammerte is dat die heftige reaksie op Jansen se kommentaar die aandag aflei van die skokkende realiteit dat Suid-Afrika verreweg die hoogste koers van verkragting in die wêreld het. Volgens die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Misdaad (UNODC) was daar 132/100 000 verkragtings in Suid-Afrika in 2010. Dit is ses keer hoër as die koers in die Verenigde State; 65 hoër as die koers in Uganda; en 270 keer hoër as doe koers in Indië. Die werklike getal verkragtings in Suid-Afrika kan veel hoër wees, aangesien slegs ‘n fraksie van verkragtings ooit by die polisie aangemeld word.

So, daar is beslis ‘n kultuur van verkragting in Suid-Afrika – maar dit word nie met enige spesifieke gemeenskap verbind nie. Die studie van 2010 bied ontstellende insig in wat agter hierdie kultuur sit. Die hooffaktor is die verkragters se gevoel van seksuele geregtigheid. Ander het verkragting gesien as ‘n uitdrukking van hul woede, of as ‘n manier om vroue te straf. Vir ander het dit gespruit uit verveeldheid of oormatige drankgebruik.

Een van die skokkendste aspekte van die Mediese Navorsingsraad se studie van 2010 is die insig wat dit bied oor die desperate lewensomstandighede van die mans tussen die ouderdom van 18 en 49 wat ondervra is – en wat breedweg die Suid-Afrikaanse bevolking weerspieël:

Sekerlik behoort die vernietigende uitwerking van verkragting op so baie van ons vroue en die onaanvaarbare omstandighede waarin so baie Suid-Afrikaners steeds woon, die fokus van ons aandag en die rede vir ons woede wees?

Ongelukkig verplaas die debat oor ras die oorweging wat ons behoort te skenk aan ernstige uitdagings wat Suid-Afrika die hoof moet bied – met inbegrip van die behoefte aan ‘n rasionele debat oor rassisme self. Soos wat die debat meer gelaaide word, word dit ook meer onverdraagsaam.

Dit blyk of daar ‘n aanname is dat dit oorwegend wit mense is wat hulle aan rassisme skuldig maak. Die optrede, ‘n paar jaar gelede, van ‘n senior regter wat na ‘n prokureur as ‘n “stuk wit k…” verwys het, voor getuies, is onder die regterlike mat gevee. Gereelde aanvalle op wit mense as “kolonialiste” of “diewe wat ons grond gesteel het” word geïgnoreer – of selfs goedgekeur. Min aandag word geskenk aan betogende studente wat t-hempde en plakkate dra wat ‘n beroep doen dat wit mense doodgemaak moet word. Plasings op sosiale media wat ‘n beroep doen om geweld teen wit mense word verskoon as manifesterings van die magteloosheid en frustrasie van die betrokkenes.

Maar wat gebeur as versette teen rassisme self selektief is wat ras betref, en ‘n wapen word in die toenemend polariserende debat oor ras?

Een van die gevolge is ‘n neiging om debattering oor baie van die probleme wat ons die hoof moet bied, te stop. ANC LPs oorweeg wetgewing wat rassisme en die verheerliking van apartheid strafbaar maak. Sodanige wetgewing kan gebruik word om enige bespreking oor die verlede te stop indien dit nie in ooreenstemming is met die ANC se weergawe van die verlede nie – dit wil sê alles wat voor 1994 gebeur het – en almal wat betrokke was – boos was – terwyl almal aan die kant van die struggle eerbaar en deugsaam was.

Ons nader inderdaad die punt waar enige kritiek van die regering as rassisme beskou kan word. In haar toespraak aan die Parlement op 6 Mei het die Minister van Kommunikasie, Faith Muthambi, gekla oor die swak prestasie van die gedrukte media. Ten spyte van haar departement se beste pogings om “insiggewende inhoud” oor kabinetsverklarings, presidensiële skakelings en nasionale prestasies te deel, het die media gekies om “hierdie regering as korrup en onbekwaam uit te beeld.” Die enigste moontlike verduideliking wat sy vir hierdie absurde gedrag kon vind is dat “rassistiese neigings” ‘n rol speel in die onverbiddelike stigmatisering van ‘n swart regering.

Ons moenie toelaat dat verstaanbare woede oor die rassistiese uitlatings van ‘n paar individue van alle rasse die behoefte aan ‘n rasionele nasionale debat oor die probleme wat ons die hoof moet bied, oorskadu nie. Hierdie probleme sluit in verkragting, die omstandighede waarin ons woon, die verlede, die prestasie van die regering, vryheid van uitdrukking, staatskaping – en die sensitiewe kwessie van rassisme self.

Regter Jansen behoort oorweging te skenk aan die woorde van Omar Khayyam: “The moving finger writes [in hierdie geval die rekenaar se sleutelbord] and having writ moves on, nor all thy piety nor wit can lure it back to cancel half a line, nor all thy tears wash out a word of it.” Haar enigste troos is moontlik dat haar wettiglik aangenome swart dogter, Lulu Qulu (28), “diep seergemaak is deur die ongeskikte woorde wat haar toegesnou word” – en dat sy nie dink dat haar ma ‘n rassis is nie.

Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting

Leave a Reply

Your email address will not be published.