Hy het veral gekla oor die uitwerking van die aanvalle deur die media op sy familie en oor die media se versuim om hom om verskoning te vra toe (sy eie) ondersoeke na die Nkandla-aangeleentheid hom van alle blaam onthef het:
“Zuma het R250 miljoen op Nkandla verkwis – dis wat julle sê. ‘n Ondersoek is gedoen en dit het bewys dat Zuma nie eens ‘n sent gevat het nie. Julle (die media) het nooit gekom om te sê ‘jammer, ons bronne was verkeerd’ nie. Zuma het inderdaad nie daardie geld gevat nie. Hy is nie korrup nie.’”
Ten spyte daarvan dat hy die las van al hierdie onregverdige aanvalle moes dra, het President Zuma sy gehoor verseker dat “die Regering sal voortgaan om persvryheid te bevorder en die reg en ruimte van die media te beskerm om sonder vrees of begunstiging verslag te doen, soos wat dit reeds die geval vir die afgelope 21 jaar is.”
Is sy en die ANC se idee van persvryheid egter dieselfde as almal anders s’n?
Die President is baie duidelik oor hoe hy dink die media hul aansienlike mag moet gebruik. Hulle moet verseker dat toegang tot die media “deur almal in die land geniet moet word, met inbegrip van die armes en die werkersklas”. Mediaprodukte moet “die lewens van die meerderheid weerspieël” en die meerderheid “moet die ruimte hê om hul drome, suksesse en swaarkry akkuraat en sonder vooroordeel uit te beeld”. Die media moet “ons land inspireer en bou.
Trouens, die ANC glo dat die media ‘n belangrike rol het om in die Nasionale Demokratiese Revolusie te speel. Volgens die Nasionale Algemene Raad van 2010 se besprekingsdokumente:
“Die ANC voer aan dat in ons Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) die media moet bydra tot die transformasie van ons land. Die bou van maatskaplike samesyn en die bevordering van waardes van ‘n samelewing wat omgee is ‘n noodsaaklike deel van die stryd van idees en moet die wyse waarop die media bedryf word, onderskryf en inlig. Die verantwoordbaarheid en regverdigheid van verslaggewing is aan die kern van die objektiewe evaluering van die suksesse van die NDR.”
Die ANC maak ook geen geheim van sy doelwitte betreffende die media nie: “Ons doelwitte is dus om die ANC se uitkyk en waardes (ontwikkelende staat, kollektiewe regte, waardes van ‘n samelewing wat omgee en deel, solidariteit, ubuntu, nie-seksisme, samewerking) kragtig oor te dra versus die hoofstroommedia se ideologiese uitkyk (neo-liberalisme, ‘n swak en passiewe staat en die oorbeklemtoning van individuele regte, mark-fundamentalisme, ens).”
Ten einde hierdie doelwitte te bereik moet die gedrukte media getransformeer word. Die Nasionale Algemene Raad van 2010 het dus ‘n beroep gedoen om:
- die aanvaarding van ‘n media-handves wat van die media sal vereis om demografiese verteenwoordiging progressief vorentoe te neem (dws indien jy 80% van die bevolking het, jy 80% van die waarheid het?);
- ‘n ondersoek na eienaarskap en beheer van die media; en
- die instelling van ‘n media-tribunaal.
Sedertdien is beduidende vordering gemaak betreffende die program om die media te transformeer. Beheer van die media deur “neo-liberale” belange is verwater deur die aanskaffing van onafhanklike koerante met geld van die PIC; die Regering het vriendelike media gesubsidieer met advertensies en borgskappe van spesiale ontbyte; en toenemende druk word nou op Naspers geplaas – die land se sterkste mediamaatskappy.
Teen hierdie agtergrond was dit baie maklik vir president Zuma om oor te gaan na die werklike doel van sy toespraak: sy aankondiging dat die Regering van plan is om voort te gaan met die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting en met die Media-tribunaal.
Alhoewel die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting verbeter is, versuim dit steeds om aan die behoeftes van sy kritici te voldoen – veral omdat daar geen verdediging betreffende openbare belang is nie en omdat mense wat in besit van geklassifiseerde inligting gevang word, steeds wesenlike tronkstrawwe kan ontvang.
Die Media-tribunaal is nou, weer eens, op die tafel. Dit spruit uit ‘n resolusie wat tydens die ANC se Nasionale Konferensie in Polokwane in 2007 geneem is oor die behoefte aan “die balansering van vryheid van uitdrukking, vryheid van die media, met die reg op gelykheid, op privaatheid en menswaardigheid vir almal.”
Die ANC glo dat die Media-tribunaal nodig is omdat die Media se eie stelsel van self-regulasie misluk het. Die voorstel is deur President Zuma gesteun, wat gesê het dat die media “gereguleer moet word omdat hulle soms oorboord gaan wat hierdie regte betref.” Hy het bygevoeg dat die media voorgee om die “waghond van die mense” te wees, maar dat “hulle nooit verkies is nie”. Hy het gesê dat die media nie die enigste liggaam is wat regte verstaan nie: “Ons in die ANC, ons glo ons doen. Ons het vir hierdie regte geveg.”
President Zuma en die ANC het duidelik ‘n behoefte om meer wetgewende artillerie op die slagveld van idees te gebruik. Hy – en die ANC – het steun verloor weens wat hulle na verwys as die onregverdige en persoonlike aanvalle van die neo-liberale media. Nou wil hulle iets daaraan doen – om ‘n media-omgewing te bevorder wat meer bevorderlik sal wees vir die Nasionale Demokratiese Revolusie en daardie Nasionale Demokratiese Samelewing wat dit wil stig.
Dit was gepas om die aankondiging op Persvryheidsdag te maak.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting