Hierdie tweede fase sal die implementering van radikale sosio-ekonomiese transformasiebeleide en -programme oor die volgende vyf jaar behels.”

Die slegte nuus vir wit Suid-Afrikaners is dat die ‘tweede fase’ hoofsaaklik gemik is op hulle gevestigde en legitieme ekonomiese belange.

Die ‘tweede fase’ – wat sy wortels diep in die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie het – het vir die eerste keer in Maart 2012 kop uitgesteek toe Jeff Radebe, die ANC se beleidsvoorstelle in die aanloop tot die Beleidskonferensie van 2012 voorgelê het.

Volgens Radebe het veranderinge in die magsewewig in Suid-Afrika en ook wêreldwyd, die deur geopen vir die ANC om van die omslagtige grondwetlike kompromieë waarop die ‘eerste oorgang’ gebaseer was, ontslae te raak. Dit is nou in ’n posisie om onbeskroomd voort te beweeg na ‘n “tweede oorgang” wat daarop gemik is om “ekonomiese emansipasie in ons leeftyd te verseker”.

Hy het gesê “ons eerste oorgang het ’n raamwerk en ’n nasionale konsensus beliggaam wat dalk geskik was vir politieke emansipasie – ‘n politiese oorgang – maar dit was ontoereikend en onvanpas vir ons maatskaplike en ekonomiese oorgangsfase”.

Die behoefte aan ’n tweede oorgang – of ’n tweede fase van die oorgang – het die daaropvolgende Beleidskongres van die ANC in Julie 2012 oorheers en dit is later deur die Nasionale Kongres van die ANC goedgekeur. In sy slotrede by die Beleidskongres het president Zuma gesê dat wit mans voortgaan om die ekonomie te domineer, om welvaart te beheer en om meeste van die top poste te beset. Die implikasie was dat die drievoudige krisis van werkloosheid, ongelykheid en armoede veroorsaak is deur wit mans en die voortdurende uitwerking van “apartheid-kolonialisme”.

Die president het Radebe se siening beaam dat die magsewewig genoegsaam verskuif het in Suid-Afrika en internasionaal sodat die ANC die kompromieë wat dit gedurende die politieke oorgang gemaak is, oorboord kan gooi. “Ons moes sekere kompromieë aangaan in nasionale belang…Byvoorbeeld, ons moes versigtig wees met die herstrukturering van die ekonomie sodat ekonomiese stabiliteit en vertroue op daardie tydstip gehandhaaf kon word.” Sodanige omsigtigheid was klaarblyklik nou nie meer nodig nie.

President Zuma het weer na die ‘tweede fase’ in sy openingstoespraak in die parlement vroeër vanjaar verwys. Hy het gesê “na die verkiesing sal die land ’n radikale nuwe fase binnegaan waartydens ons sosio-ekonomiese transformasiebeleide en -programme implementeer wat armoede, werkloosheid en ongelykheid beduidend sal aanspreek”.

Die president het gesê “ons het politieke vryheid bekom, nou moet ons ekonomiese vryheid bekom en verseker dat die eienaarskap, bestuur en beheer van die ekonomie verder ont-ras word”.

Verwysings in die inhuldigingsrede tot die ‘tweede fase’ het maar net weer die sentrale tema van ANC-beleid herbevestig. Die volgende vyf jaar sal gekenmerk word deur “die implementering van radikale sosio-ekonomiese transformasiebeleide en -programme” wat die versnelde implementering van diensbillikheid, swart ekonomiese bemagtiging, grondrestitusie en herverdeling en “ander vorme van (ongespesifiseerde) bemagtiging” sal insluit.

Die tweede tema van die president se inhuldigingsrede was sy verbintenis tot die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP). Meeste Suid-Afrikaners – en meeste sakemanne – ondersteun die NOP se aanbevole maatskaplike en ekonomiese doelwitte. Maar daar is egter ernstige onversoenbaarheid tussen vele van die doelwitte van die NOP en die regering se huidige aksies en beleide.

Die grootste onversoenbaarheid rakende die president se verbintenis tot die implementering van die NOP is dalk die feit dat sy alliansievennote COSATU en die SAKP die meeste van sy vernaamste aanbevelings sterk teenstaan. COSATU en die SAKP sal nog meer invloed gedurende sy tweede termyn hê. Die veteraanjoernalis Ferial Haffajee het Gwede Mantashe, voorheen voorsitter van die SAKP en tans ook sekretaris-generaal van die ANC, die magtigste man in die land genoem. Die vernaamste vraag is of die nuwe adjunk-president, Cyril Ramaphosa, die mag of die lus sal hê om die linker vleuel te konfronteer ten einde te sorg dat die NOP betekenisvol in werking gestel sal word?

In werklikheid is die NOP en die ‘tweede fase’ wedersyds eksklusief. Wat waarskynlik sal gebeur is dat die nuwe en omslagtige regering (35 ministers en 37 adjunkministers) sal poog om afgewaterde weergawes van albei te implementeer. As gevolg hiervan sal hulle nie daarin slaag om deurslaggewend en doelmatig op te tree om Suid-Afrika se stygende probleme die hoof te bied nie.

In sy inhuldigingsrede het president Zuma opgemerk dat “ons die eerste (politieke en grondwetlike) fase van transformasie suksesvol voltooi het”. Dit is waar. Maar ons sukses was gebaseer op die feit dat alle Suid-Afrikaners betrokke was by die besluite wat ons grondwetlike transformasie onderlê het. Die probleem is dat die regering nie oorleg gepleeg het met daardie mense wat negatief deur sy voorgestelde tweede fase geraak sal word nie.

Op 31 Januarie vanjaar het FW de Klerk gevra vir ernstige debat oor die tweede fase tussen die regering en alle rolspelers, insluitende minderhede, ons boere, die media, burgerlike samelewingsorganisasies, en ook klein en groot sakeondernemings. As president Zuma ernstig is om alle Suid-Afrikaners ten opsigte van die doelwitte van sy tweede fase te verenig, sal hy verstandig optree, indien hy positief reageer op hierdie oproep.

Deur Dave Steward, uitvoerende direkteur: FW de Klerk Stigting

Foto: iafrica.com


Leave a Reply

Your email address will not be published.