Alhoewel sy toon versoenend was, was die inhoud van sy toespraak egter nie.
Rede tot kommer duik reeds vroeg in sy antwoord op wanneer hy verwys na die 21 jaar wat verstryk het sedert “ons begin het met die radikale oorgang van kolonialisme van ’n spesiale soort na ’n Nasionale Demokratiese Samelewing, wat gegrond is op die strategiese visie van die Vryheidsmanifes.”
“Kolonialisme van ’n Spesiale Soort” en die “Vryheidsmanifes” is albei ideologiese konstruksies van die SAKP. Die “Nasionale Demokratiese Samelewing” is die doel van die Nasionale Demokratiese Revolusie (nóg ’n konstruksie van die SAKP), wat gekenmerk sal word deur demografiese verteenwoordiging op alle vlakke van beheer, eienaarskap, bestuur en indiensneming in die private en openbare sektore.
Die SAKP erken dat daar sedert die ANC se konferensie in Polokwane in 2007 ’n “aansienlike versterking van die linkse beweging se ideologiese posisie oor die regering se ekonomiese en maatskaplike beleide en programme” plaasgevind het. Die SAKP voer aan dat die aanvaarding van die Nuwe Groeiplan en die Aksieplan vir Nywerheidsbeleid en die verwerping van die “gewillige koper, gewillige verkoper”-benadering tot grondhervorming van die “groot paradigmaskuiwe” is wat dit verwesenlik het.
Eerstens is daar die herhaling van die ANC se huidige hooftema betreffende die behoefte aan “radikale ekonomiese transformasie”. Suid-Afrika worstel steeds met “armoede, ongelykheid en werkloosheid” – nie weens enige mislukking van die regering se eie beleide nie – maar omdat “ons nie die struktuur van die ekonomie fundamenteel aangeraak het ten einde ware ekonomiese transformasie te verwesenlik nie.”
Volgens President Zuma sal radikale ekonomiese transformasie die volgende insluit:
- Strenger inwerkingstelling van BSEB in ooreenstemming met die wet van 2014 en regulasies wat nou afgehandel word;
- Nuwe nywerheidsinisiatiewe, geïnspireer deur die SAKP, ten einde plaaslike minerale te veredel – klaarblyklik teen pryse wat deur die Staat aan die mynmaatskappye voorgeskryf word;
- ‘n Nywerheidsbeleid deur die Staat wat swart nyweraars sal “skep” en ondersteun;
- “voortdurende” uitbreiding van (openbare/swart) eienaarskap van die ekonomie deur “kartels en monopolieë af te breek”;
- Verdere verskansing van COSATU se beheer van arbeidsbeleid deur alle tydelike indiensneming van meer as drie maande te verbied, en deur ‘n debat by NEDLAC te begin betreffende ’n “nasionale minimum loon”; en
- Om voort te gaan met planne om die grootte van plase tot minder as 12 000 hektaar te beperk – ten spyte van die feit dat ongeveer 100 sodanige plase 70% van Suid-Afrika se kos produseer – en om voort te gaan met die beginsel van 50/50, waar plaaswerkers en boere eienaarskap van die plaas deel”.
PresidentZuma regverdig hierdie radikale inisiatiewe deur te beweer dat “ons steeds ongelykheid in die gesig staar”… “Die inkomste van wit huishoudings is steeds ses keer meer as dié van swart huishoudings. Daarbenewens besit die swart meerderheid steeds slegs 3% van die Johannesburgse Effektebeurs.”
Die struktuur van die ekonomie het egter in der waarheid baie oor die afgelope 21 jaar verander:
- Die ANC beheer 36% van die ekonomie – met inbegrip van semi-staatsinstellings – en bepaal ekonomiese, fiskale en arbeidsbeleide;
- Swart Suid-Afrikaners besit 23% (en nie 3%) van aandele op die JEB; 22% word deur wit mense besit en 39% deur buitelanders (eienaarskap ten opsigte van ras van die orige 16% kan nie bepaal word nie); en
- Hulle maak nou 60% uit van die top-inkomstegroepe. Voortgesette verskille tussen swart en wit huishoudings is weens ‘n baie hoër werkloosheidsyfer en laer onderwyskwalifikasies onder swart mense – en nie hoofsaaklik weens ras nie (daar bestaan soortgelyke verskille tussen die huishoudings van die swart middelklas en swart mense in die onderste inkomstegroepe).
Die President gee toe dat die ekonomie nie vinnig genoeg groei nie – maar sê dat dit ook op ‘n manier Suid-Afrika se sukses weerspieël: dit “weerspieël die relatiewe vlak van ontwikkeling van Suid-Afrika se ekonomie in vergelyking met die streeksekonomieë…Minder ontwikkelde lande neig om vinniger te groei as meer ontwikkelde lande.” Dit laat ‘n mens wonder hoe President Mbeki se administrasie groeikoerse van 5% behaal het voordat hy en sy GEAR-beleide in 2007 in Polokwane uitgewerk is. Wat van China en Indië?
Die President het ook toegegee dat beurtkrag “wel ‘n ernstige uitdaging en ‘n hindernis vir ekonomiese groei is”. Hy verseker ons egter dat “daar ‘n plan op die kort, medium en lang termyn is om die energie-uitdaging aan te pak”.
Nietemin is Suid-Afrika “’n suksesverhaal”. Volgens die President:
- Is “al ons demokratiese instellings, met inbegrip van staatsagentskappe, sterk en funksioneel” (Die Parlement? Die SAPD? Eskom? SAL? SAUK? NVG? Die Poskantoor? Binnelandse Sake? Basiese Onderwys? Provinsies? Munisipaliteite?);
- Word “vordering gemaak om die uitkomste in die basiese onderwyssektor te verbeter” (met slegs ‘n agste van ons kinders wat skool met ‘n aanvaarbare matriekslaagsyfer verlaat – en met SADOU wat sy ystergreep op die meeste skole handhaaf?);
- “…[word] aandag geskenk aan onstabiliteit in die topstrukture van instellings wat misdaad beveg” (deur Anwar Dramat en Mxolisi Nxasana van die NVG te vervang?).
- “…[het] ons die stryd teen misdaad en korrupsie prioritiseer” (deur een onervare kader met ‘n ander as Polisiekommissaris te vervang – en deur die Openbare Beskermer te ondermyn?);
- “Die ekonomie beskik oor die nodige dinamika om die land te posisioneer as ‘n mededinger in ‘n moeilike ekonomiese omgewing” (met ekonomiese groei van slegs 1.4% – tesame met die sistematiese vervreemding van buitelandse en plaaslike beleggers?).
Moenie mislei word deur die gemoedelikheid en laggies nie: President Zuma se subteks was ‘n kommerwekkende boodskap dat die ANC/SAKP vasbeslote is om teen enige koste voort te gaan met die radikale inwerkingstelling van die tweede fase van die NDR.
Die tweede fase-benadering is egter deur ideoloë van die SAKP ontwerp, en nie deur rasionele ekonome nie. Dit kan nie versoen word met die Nasionale Ontwikkelingsplan nie – en ook nie met die nege-punt-program wat President Zuma self tydens sy Staatsrede aangekondig het nie – en veral nie met betrekking tot die “herstel van landbou”; “heg van waarde aan minerale rykdom” ; “vermindering van konflik in die werkplek”; “die ontsluiting van klein sakeondernemings se potensiaal”; en veral die “aanmoediging van private belegging” nie.”
‘n Mens kan nie die skade genoeg beklemtoon wat aan die ekonomie, nasionale eenheid en die grondwetlike grondslag van ons nuwe samelewing gerig sal word deur die benadering wat President Zuma weer eens in sy reaksie op die Staatsrede herhaal het nie. Ons kan nie sê dat ons nie gewaarsku is nie.
Deur Dave Steward: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
Foto: GovernmentZA / Foter / CC BY-ND