In ’n toespraak op 31 Januarie tydens die Stigting se jaarlikse konferensie in Kaapstad, het FW de Klerk die publiek gewaarsku oor die ANC se voornemens. Hy het die hoofelemente van die NDR as volg opgesom:
“Die ANC sien homself nie as ’n gewone politieke party nie, maar as ’n nasionale liberale beweging met ’n onafgehandelde revolusionêre mandaat”. Dit sien die “voortgesette nalatenskap van kolonialisme en beheer deur die wit minderheid” as die “werklikheid wat ons samelewing definieër.”
“Anders as in die geval van sy vennote tydens die onderhandelings, het die ANC nooit die grondwetlike onderhandelings beskou as ’n wyse waarop ’n finale nasionale akkoord bereik sou word nie. Die party het dit eerder beskou as ’n maatstaf om ’n strandhoof van staatsmag te bekom – wat hulle in staat sou stel om die balans van magte verder in hul guns te swaai. In die proses het die ANC erken dat hy grondwetlike toegewings moes aangaan, wat dit as tydelike maatreëls beskou het, genoodsaak deur die heersende balans van magte op daardie tydstip.”
“Die ANC se eerste prioriteit ná die oorgang in 1994 was om die balans van magte in sy guns te swaai deur beheer te neem van die hefbome van staatsmag. Sy teiken was, in sy eie woorde, die “wetgewers, die uitvoerende gesag, die staatsdiens, die veiligheidsmagte, die regbank, semi-staatsinstellings, die openbare uitsaaiers, ens”. Die party was voornemens om beheer van hierdie instellings te neem deur ANC-kaders in voorste posisies aan te stel.
“Die belangrikste doelwit van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie – selfs ná 1994 – is steeds die uitwissing van maatskaplike en ekonomiese verhoudings met betrekking tot apartheid. Dít sal behaal word deur die “de-rassifisering van eienaarskap en die beheer van welvaart, met inbegrip van grond; en billikheid en regstellende aksie betreffende die daarstelling van vaardighede en toegang tot bestuursposisies”.
De Klerk sê dat dit teen hierdie agtergrond is dat die ANC se debat in 2012, betreffende die aanvang van die tweede oorgangsfase, ’n spesiale betekenis aangeneem het.
In sy slotopmerkings aan die Beleidskonferensie in 2012 het President Zuma daarop gesinspeel dat die drieledige krisis van werkloosheid, ongelykheid en armoede nie deur die ANC se beleide veroorsaak is nie, maar deur wit mans en die voortgesette uitwerking van “apartheid-kolonialisme”. Hy het gewaarsku dat “tensy ons op beslissende wyse optree teen ongelykheid, armoede en werkloosheid wat met rassisme en geslag verband hou, ons gesamentlike demokratiese en grondwetlike prestasies in gedrang sal kom”.
Die President glo ook dat die balans van magte voldoende geswaai het – in Suid-Afrika en internasionaal – vir die ANC om af te sien van die toegewings wat dit gedurende die politieke oorgang gemaak het.
In sy toespraak verlede week aan die Parlement het President Zuma weer eens die “tweede fase” van die NDR aangeraak toe hy gesê het dat “die land ná die verkiesing ’n nuwe, radikale fase sal betree waar ons beleide en programme betreffende sosio-ekonomiese transformasie in werking sal stel wat armoede, werkloosheid en ongelykheid op betekenisvolle wyse sal aanpak.”
Die President het weer die tema van die “tweede fase” herhaal, naamlik dat ons “politieke vryheid behaal het, en nou moet ons ekonomiese vryheid behaal, en verseker dat rassisme in die eienaarskap, bestuur en beheer van die ekonomie verder uitgeroei moet word”.
In sy toespraak op 31 Januarie het De Klerk daarop gewys dat die ANC versuim het om ware transformasie te verwesenlik – “veral betreffende die bevordering van gelykheid en die daarstelling van geskikte onderwys en ander belangrike dienste”. Dit het ook versuim om “werk te skep” en om “vlakke van ekonomiese groei te behaal wat voldoende is om die ambisies van al ons mense te verwesenlik”.
Hy het bygevoeg dat die ANC se transformasiebeleide “nie hoofsaaklik op die Grondwet gegrond is nie, maar op sy eie ideologie, die Nasionale Demokratiese Revolusie”.
De Klerk sê dat dít nie was waarop die ander partye gedurende die grondwetlike onderhandelings ooreengekom het nie.
“Ons het ooreengekom op die waardes, regte en instellings wat in die Grondwet verskans word. Ons het nie ooreengekom op die Nasionale Demokratiese Revolusie nie. Ons is nooit geraadpleeg oor die ANC se benadering tot transformasie nie, en ons aanvaar dit nie. Hierdie beleide – in die ANC se tweede oorgangsfase – is gemik teen Suid-Afrikaanse burgers op grond van hul ras, as deel van ’n voortgesette stryd wat ons gehoop het in 1994 tot ’n einde sou kom. Dít is die antitese van die doelwit van nasionale versoening.”
De Klerk het afgesluit deur ’n beroep te doen om ernstige gesprekvoering tussen die regering en diegene wat deur sy weergawe van transformasie geteiken word – met inbegrip van ons minderhede, ons boere, die media, burgerregte organisasies, en klein en groot sakeondernemings.
Hy het gesê dat ons gesamentlik met die regering moet praat oor
- sy benadering tot transformasie;
- sy afwyking van die waardes in die Grondwet;
- die moontlike gevolge wat sy benadering tot transformasie inhou vir die ekonomie, inter-gemeenskaplike verhoudinge en die toekoms van ons nasionale akkoord; en
- hoe ons almal kan saamwerk ten einde ware transformasie te behaal soos wat in die grondliggende bepalings van ons Grondwet in die vooruitsig gestel is.
Deur Dave Steward, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting
Foto: GovernmentZA / Foter / CC BY-ND