President Ramaphosa het werkskepping (veral vir die jeug) in die sentrum van sy nasionale agenda geplaas. Om dit reg te kry, het hy onder andere die volgende onderneem:
- ‘n Werkskeppingsberaad en ‘n beleggingskonferensie in die “volgende paar maande” (en later die $100 miljard teiken);
- Die voortsetting van die jeugloon-subsidieskema, die loods van “YES” (“Youth Employment Service”) en die vestiging van ‘n nasionale en verteenwoordigende Jeug Werkgroep;
- Die versnelling van infrastruktuurprojekte, veral met betrekking tot water, gesondheid en die onderhoud van paaie;
- Die herlewing van mynbou, die finalisering van die Mynbou-handves en die konsepwet op Mineraal- en Petroleum Hulpbronontwikkeling;
- Nog groter klem op kleinsake-ontwikkeling, deur die vestiging van ‘n klein sake- en innoveringsfonds, en die vermindering van regulatoriese hindernisse vir klein sakeondernemings;
- Die realisering van die potensiaal van landbou as werkskepper, maar binne die konteks van onteiening sonder vergoeding (OSV);
- Verdere ondersteuning van die toerismesektor;
- Die vestiging van ‘n kommissie vir die Digitale Industriële Revolusie;
- Die inwerkingstelling van die minimumloon, wat vroeër onderhandel is;
- Die aanstelling van ‘n Presidensiële Ekonomiese Adviesraad;
- Droogtehulp, veral vir die provinsies wat die swaarste daaronder gebuk gaan;
- Die infasering van ‘n “ten volle gesubsidieerde gratis hoër onderwys en opleiding” vir arm en werkersklas Suid-Afrikaners oor die volgende vyf jaar.
Ander ondernemings het ingesluit:
- Die finalisering van ‘n permanente openbaresektor-geleide model om sosiale toelaes effektief uit te betaal;
- Die verdere bekamping van MIV/Vigs en leefstylsiektes en die aanvaarding en implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV);
- Die implementering van ‘n strategie vir gemeenskapspolisiëring, die loodsing van ‘n misdaadvoorkomingstrategie vir die jeug en die byeenroep van ‘n Sosiale Sektor Beraad;
- ‘n Proses om die aantal en grootte van nasionale departemente en die kabinet te hersien;
- Die stabilisering en hervorming van staatsbeheerde ondernemings (SBOs), asook hulle herstrukturering, verbeterde finansiële bestuur en beter direksies;
- In terme van korrupsie (en by implikasie staatskaping) ondersteuning vir die Zondo-kommissie, die herstel van die leierskap by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die stabilisering en versterking van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), insluitend die aanstelling van ‘n kommissie van ondersoek na die SAID;
- ‘n Besoek aan elke nasionale departement binne die volgende paar maande, asook ontmoetings met provinsiale en plaaslike regeringsleiers.
Twee ander beloftes wat hy in sy repliek op kommentaar van politieke partye gemaak het, was om die Parlement gereeld te besoek om vrae te beantwoord en “aanspreeklik” te wees. Hy het ook onderneem om met alle politieke partye en hulle leiers te vergader om ‘n gedeelde visie en strategie vir die land se toekoms te bespreek.
Dis ‘n lang lys, en dis moeilik om elkeen in detail te evalueer. Kom ons begin by dit wat hy nie nagekom of bereik het nie.
Daar is op hierdie stadium min bewyse van die versnelling van infrastruktuurprojekte in terme van water, gesondheid en die onderhoud van paaie, maar as deel van die stimuluspakket wat aangekondig is, is daar ‘n R400 miljard gekonsolideerde infrastruktuurfonds wat oor die volgende drie jaar geloods gaan word. Daar is ook baie min gesien van die ondernemings oor kleinsake-ontwikkeling en die vermindering van regulatoriese hindernisse vir klein sakeondernemings. In terme van landbou, loop die spook van OSV nog sterk, ten spyte van ‘n oplewing in verhoudings ná gesprekke tussen adjunk-President Mabuza en Agri SA. Dit is krities hoe die parlementêre proses oor die verandering van artikel 25 gaan afloop. Toerisme het nog nie veel gebaat nie, en die kommissie vir die Digitale Industriële Revolusie is nog nie aangestel nie (alhoewel die President weer onlangs daarna verwys het tydens Discovery Health se leierskapsberaad).
Die raamwerk vir ‘n nuwe minimumloon is wel deur die Parlement aanvaar, maar is steeds in sektorale gesprekke voordat dit geïmplementeer kan word. Die presidensiële Ekonomiese Adviesraad het nog nie die lig gesien nie. Die infasering van gratis hoër onderwys is nog nie ‘n realiteit nie, veral as gevolg van die probleme by die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS), die bedanking van sy gerespekteerde voorsitter, Sizwe Nxasana en sy algemene swak stelsels en bestuur.
Die maandelikse betaling van maatskaplike toelaes deur SASSA is weekliks in die nuus, en daar is geen sekerheid of die huidige reëling met die SA Poskantoor die gewenste uitwerking sal hê nie. Die NGV lyk (ten minste finansieel) na ‘n dooie perd wat die land eenvoudig nie (nou) kan bekostig nie.
Die Sosiale Sektor Beraad, wat moet help met misdaadvoorkoming in gemeenskappe het nog nie plaasgevind nie. Sy opmerking in die VSA dat wit boere nie vermoor word nie, was ‘n ernstige blaps. Oor die hersiening van die grootte en die aantal nasionale departemente en die kabinet is al baie gepraat, maar weinig is sigbaar daaraan gedoen. Dit lyk of dit tot na volgende jaar se verkiesing uitgestel is. Die belofte om sistematies elke nasionale departement te besoek en om ook provinsiale en plaaslike regeringsleiers te ontmoet, mag dalk op ‘n ad hoc-basis begin het, maar niks is daaroor berig nie.
Aan die ander kant lyk die ondernemings wat ten volle of gedeeltelik nagekom is, nogtans indrukwekkend:
- Die Werkskeppingsberaad en ‘n beleggingskonferensie het onlangs plaasgevind. Die “Youth Employment Service” is in vennootskap met die sakesektor geloods. Sy toespraak by die beleggingsberaad oor vennootskappe met die privaatsektor en die beskerming van eiendomsreg was indrukwekkend en vir die eerste keer het hy geklink soos ‘n President wat die ekonomie en besigheid verstaan. Maar die gevraagde en aangebode beleggings moet nog fisies gebeur.
- Die Mynbou-handves is (amper teen wil en dank) in September gepubliseer en bevat darem ‘n aantal verbeteringe op ‘n vorige weergawe.
- Droogtehulp is verleen, alhoewel dit te min en te verspreid was.
- ‘n Nasionale Jeug misdaadvoorkomingsberaad het in Junie plaasgevind en gemeenskaps-polisiëring het nuwe stimulus gekry met die taakmagte wat in bendegeteisterde gebiede ontplooi is.
- Die SBOs kry aktiewe aandag en verskeie betekenisvolle inisiatiewe is deur Pravin Gordhan geloods, soos nuwe direksies en leefstyloudits en indringende vrae oor finansiële bestuur. Die debat oor wat met die bankrot SAL moet gebeur, is tekenend van hierdie voortgaande besinning oor die SBOs.
- Korrupsie en staatskaping het waarskynlik (as die “kwessie van die dag”) die meeste aandag geniet, met die Zondo-kommissie, die Nugent-kommissie wie se werk amper afgehandel is, Moyane wat in die pad gesteek is en ‘n nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings wat in die pyplyn is.
- President Ramaphosa was sedert Maart al drie keer in die Parlement en een maal in die Nasionale Raad van Provinsies om vrae te beantwoord. En dis nie net sy teenwoordigheid nie, maar die manier waarop hy die moeilike vrae beantwoord het, wat respek moet afdwing.
Die Ramaphosa-telkaart is daarom gemengd. Daar is sommige suksesse, maar ook etlike tekortkominge. Miskien kan van daardie swakhede nog voor die einde van die jaar omgedraai word.
Wat egter in die evaluering van President Ramaphosa se vertoning onthou moet word, is dat hy die meeste van die probleme wat hy in die gesig staar, van sy voorganger geërf het – insluitend ’n tam ekonomiese groeikoers en hoë staatskuld. Hy het dus nie die luukse van geld om te doen wat hy wil doen nie. In baie gevalle moes hy byvoorbeeld bestaande projekte konsolideer en in die Presidensie plaas net om die middele kry om ander probleme op te los. Hy sit ook met ‘n staatsdiens wat deur kaderontplooiing en regstellende aksie gerysmier is. Dit gaan tyd neem om dit reg te stel.
Daar is al baie gepraat oor sy wankelrige magsbasis binne sy eie party. Dit bly waar en ‘n gevaar, maar mens kry tog die indruk dat hy stadig maar seker besig is om binne die ANC die oorhand te kry. Soos wat sy kommissiestrategie vrugte afwerp, gaan die rotte oorgee of van die Zupta-skip afspring. En die feit dat die verkiesingsdatum vir Meimaand vasgemaak is, gee ‘n einddatum vir die onsekerheid oor die fermheid van die Ramaphosa-optrede en oor sy magsbasis.
Teen hierdie agtergrond kry die President definitief ‘n slaagpunt vir sy eerste en swaar nege maande, maar met die byskrif wat in die ou dae op skoolrapporte bekend was: “Cyril het goed gedoen, maar kan (en moet) nog veel beter”.
Deur Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
15 November 2018
*Eers op Netwerk24 gepubliseer