+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Hoe raak mens van die Zuma-aanstellings in die staatsdiens ontslae? Dis nie maklik nie, want die meerderheid van hulle is nie direk deur Zuma aangestel nie, maar deur van sy vertrouelinge en “broers/susters in die kwaad”. As gevolg van die Oppergesag van die Reg (ja, selfs skurke het basiese regte) en arbeidswetgewing kan mens nie links en regs ontslaan nie; jy moet prosesse volg. Van hierdie persone voldoen (dalk selfs) aan die minimum vereistes vir hulle aanstellings, en vir elkeen is ‘n goeie rede en proses vir ontslag nodig. ‘n Mens moet op ‘n manier “iets” kry om teen hulle as indiwidue op te tree.

Dis natuurlik relatief makliker om teen hoë profiel-persone op te tree, soos die Moyanes en die Abrahamse van die wêreld. Maar wat van die talle onbekendes, die molle, wat êrens ‘n sleutelpos beklee en nog aan Zuma of sy saak lojaal is? Of dalk net aan hulle eie sakke dink?

Daar is nog ‘n ander faktor: al mag die President en sy binnekring weet wie hierdie Zuma-aanstellings is, is dit moeilik om gelyk teen hulle op te tree en “skoon te maak”. Dit sal die delikate magsbalans in die ANC omverwerp. Wat nodig is, is om ‘n manier te vind wat hulle deur “normale prosesse” uitwys en dan deur regsprosesse uit die stelsel haal.

Teen hierdie agtergrond, kan mens sekere presidensiële strategieë herken. Die eerste en basiese een is om die reg of partyprosesse hulle gang te laat gaan – soos wat met Supra Mahumapelo gebeur het (en nog met Ace Magashule moontlik is). Die probleem hiermee is dat die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings (NDOV) nog nie aangestel is nie, en dat daar daarom (nog) nie die politieke wil by die Nasionale Vervolgingsgesag is om dit op grootskeepse skaal te doen nie. Maar met die aanstelling van die NDOV wat binnekort gaan gebeur, kan hierdie strategie in die nuwe jaar momentum begin kry. En die voordeel is dat met hierdie strategie niemand die President van ‘n heksejag teen Zumavertrouelinge kan beskuldig nie.

‘n Tweede strategie om korrupsie en staatskaping uit te snuffel en aan die kaak te stel wat reeds in volle swang is, is wat al die kommissie-en paneelstrategie genoem is. Dit behels die aanstel van ‘n kommissie of adviespaneel van ondersoek oor ‘n spesifieke saak. En al is die Zondo-kommissie van ondersoek oor staatskaping ironies genoeg ‘n Zuma aanstelling, pas dit perfek in President Ramaphosa se strategie. Die Nugent-kommissie na die sake van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is ook ‘n voorbeeld hiervan. ‘n Ander voorbeeld is die aanstelling van die hoë vlak hersieningspaneel vir die Staatveiligheidsagentskap (SVA), ‘n staatsdepartement wat intensief deur Zuma in staatskaping gebruik is – veral om op sy vyande (ook binne sy eie party) te spioeneer.

‘n Derde strategie is nie soseer teen korrupsie en staatskaping gemik nie, maar dien eerder om deursigtig en demokraties te wees en korrupsie sigbaar te voorkom. Hier is die aanstelling van die onafhanklike paneel om die kandidate vir die pos van die NDOV te hanteer en ‘n aanbeveling te maak, die beste voorbeeld. Maar daar is ook die onafhanklike adviespaneel om in die sensitiewe kwessies van grondhervorming kundige en waarskynlik tegnokratiese insette te kry.

Die kommissie- en paneelstrategie van President Ramaphosa is dus ‘n baie effektiewe manier om vordering te maak om die netwerke van korrupsie en staatskaping aan die kaak te stel. Maar dit bied nie kitsoplossings wat só en só vinnig in die tronk gaan laat beland nie. Dit sal egter ook nie nodig wees om te wag totdat byvoorbeeld die Zondo-kommissie uiteindelik ‘n finale verslag uitbring nie. Soos wat met Tom Moyane in die Nugent-kommissie gebeur het, kan die Zondo-kommissie ook tussentydse verslae uitbring, op grond waarvan kriminele vervolgings reeds kan begin. Maar dan moet die nuwe NDOV aangestel wees en hy/sy moet die politieke wil hê om effektief te vervolg – en hierdie kultuur in die hele Vervolgingsgesag vestig.

Hierdie drieledige strategie sal waarskynlik tot met die 2019 nasionale verkiesing gevolg word – stadig, maar seker. Indien President Ramaphosa as leier van die ANC dié party na ‘n oorwinning van sê 55%, kan lei, kan hy daadkragtiger optree. Hy is dan nie meer die ANC-president wat deur ‘n skamele 173 stemme by Nasrec verkies is nie, maar die President van Suid-Afrika wie se party met 55% van die kiesers aan bewind gestel is.

Maar selfs al werp die kommissie-strategie vrugte af, het die President ook nog ander probleme en uitdagings: sy opmerking oor plaasmoorde in die VSA hang nog soos ‘n swaard oor sy kop. Hy moet ook nog uit die dilemma van die Bosasadonasie kom. En les bes, sal ‘n bevredigende oplossing van die onteiening sonder vergoeding-tameletjie noodsaaklik wees om die ekonomie en die Grondwet van chaos en verval te red.

Maar selfs met hierdie probleme, is Cyril Ramaphosa menslikerwys gesproke die enigste hoop wat ons het om die staat aan die mense van Suid-Afrika terug te gee.

Deur Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
26 November 2018

Foto: GovernmentZA on Foter.com / CC BY-ND

*Eers op www.maroelamedia.co.za gepubliseer

Leave a Reply

Your email address will not be published.