’n Swart student van Open Stellenbosch tik betekenisvol op sy bo-arm en sê: “Ons sal net tuis voel as almal só lyk.” Nie-swart minderhede moet opgaan in die swart meerderheid in die naam van nasiebou.
Hoe behoort Suid-Afrikaners, Afrikaanssprekendes en Afrikaners hierop te reageer? Die antwoord sal wissel in die mate waarin mense met die diagnose saamstem of aan hul eie bas voel, maar daar is breedweg twee reaksies: gly of bly.
Sommige emigreer liggaamlik na wêrelddele wat kouer is of meer vlieë het. Dit is hul reg. Sommige emigreer na Orania en leef in hul selfgeskepte wêreld. Dit is ook hul reg. Sommige semigreer na die Wes-Kaap en die DA-regering. Sommige emigreer in hul koppe en trek hulle terug agter hoë mure met uitgebreide veiligheidstelsels en private skole – en probeer (nog) meer geld maak. Ook hulle oefen ’n keuse uit.
Ander bly hier – en doen verskillend. Party glo en ondersteun die ANC se nasiebouresep dat minderhede hul plek moet ken of deel moet word van die meerderheid. Ander glo in die ideaal van ’n nie-rassige samelewing en maak hul kinders só groot. Sommige kritiseer die regering, en ander is te polities korrek om dit (openlik) te doen.
Die Solidariteit Beweging wil volgens hul plan ook bly en iets aan die krisis doen – terwyl hulle binne die reg optree en sekere grondwetlike regte opeis. Hulle wil hulself en ander help waar die regering nie kan of wil nie.
Uit wat ek gelees het, is dit duidelik dat hulle sekere goed gaan doen wat vir alle Suid-Afrikaners voordelig sal wees: die regmaak van slaggate, riool- en waterstelsels, asook die verskerping van gemeenskapsveiligheid.
Hulle beplan om sekere goed te doen wat alle Afrikaanssprekendes (ook bruin en swart mense) sal bevoordeel, soos in verband met taal- en minderheidsregte.
En hulle gaan sekere goed tot voordeel van Afrikaners doen – die bevordering en bewaring van kultuurgoedere, erfenis en geskiedenis. Flip Buys se toespraak verlede Saterdag maak dit duidelik dat hulle ruimte wil skep vir Afrikaners om in Suid-Afrika te bly.
Ek is seker Plan B is grondliggend beïnvloed deur die “ver-rassiging” van die samelewing deur die ANC-regering. Die verklaarde doel van welklinkende “transformasie”, is “African hegemony” (oorheersing) – deur demografiese verteenwoordiging, die bekende 80-9-9-2-formule. Letterlik elke samelewingsdeel en elke onderafdeling van die openbare en private sektor móét uit 80% swart mense, 9% wit mense, 9% bruin mense en 2% Indiërs bestaan – van die Bybelstudiegroep in Koekenaap tot die stokvel in Thohoyandou. In die praktyk beteken dit dat minderhede in die spreekwoordelike hoeke ingedruk word.
Dis ook uit wat ek hoor en lees duidelik dat kritici van “Plan B” óf oningelig is óf strooipoppe oor die gevare van die plan opstel en dan afskiet óf gewoon bevooroordeeld is.
Die grondvraag is: Is Plan B in pas met die Grondwet?
Ingevolge artikels 30, 31 en 185 het Suid-Afrikaners die reg om hul taal te gebruik en hul kultuur te beoefen. Plan B bevorder presies dit, veral omdat dit duidelik is dat die regering nie bereid is om die taal- en kultuurregte van minderhede – insluitend die reg op onderwys in die taal van keuse – te beskerm en te bevorder nie. Plan B werk op die beginsel van sterk burgerlike samelewingsorganisasies as ’n basis vir ’n goeie demokrasie. Daar is niks ongrondwetliks daaraan nie.
Kritici sê ook dit is nie “slim” om nou op te staan vir jou regte nie en dat ’n mens liewers dinge stil en onder die radar moet hou. Kom ek sê sommer reguit: Afrikaanses wat dink hulle gaan deur laag te lê en nie krities te wees of nie hul grondwetlike regte op te eis of uit te oefen nie, die ANC tevrede stel of keer dat die ANC-regering diskriminerend teenoor hulle optree, leef in die wonderwêreld van Kammie Kamfer.
Hul politieke korrektheid word (tereg) as slapheid beskou, en die ANC lag agter hul rûe vir hulle.
Ek stem dalk nie oor alles met Solidariteit saam nie, maar hulle word deur die ANC en ander gerespekteer vir wat hulle doen en waarvoor hulle staan (al irriteer hulle dikwels ook).
Die punt is: Die ANC gaan nie die vernietigende beleide van demografiese verteenwoordiging en rassetransformasie opskort omdat Afrikaanses laag lê en gehoorsaam is nie. En die ANC kan nie op kort termyn van onbevoegde staatsamptenare ontslae raak om dienslewering te verbeter nie.
Ek is nie ’n verskriklike tradisievaste Afrikaner nie. Ek gaan nie geloftefeeste toe nie en hou nie eintlik van volkspele nie. Ek verpes rassisme, benepenheid en negatiwiteit. Ek verskil waarskynlik met ’n beduidende deel van Solidariteit se lede oor ’n groot verskeidenheid aangeleenthede.
Dis egter irrelevant as dit by die beoordeling van Plan B kom. Daar is niks ongrondwetliks aan die plan nie. Die opstellers moet op hul woord geglo word dat hulle gaan doen wat hulle sê. Indien nie, kritiseer hulle lustig. Indien wel, bedank hulle dat hulle Suid-Afrika ’n beter plek gemaak het.
Dis interessant dat swart groepe en selfs die ANC, sover ek kon vasstel, nog nie enige kritiek op Plan B uitgespreek het nie; die kritiek het meestal van “binne” gekom. Een bron vertel my dat swart beroepslui ’n afwagtende houding inneem. As Plan B werk, wil hulle dit ook in swart gemeenskappe toepas.
Hoekom gee ander Afrikaanses Plan B nie hierdie selfde voordeel van die twyfel nie?
Dr Theuns Eloff, Voorsitter van die FW de Klerk Stigting
Hierdie artikel het in Rapport Weekliks verskyn [18 Oktober 2015].