Kortliks is die aansoekers se grondwetlike uitdaging van RICA gestruktureer rondom twee hoofkategorieë. Eerstens beweer die applikante dat RICA te min veiligheidsmaatreëls in die onderskeidingsproses bied en verskeie interverwante grondwetlike regte op onredelike wyse beperk – veral dié op privaatheid en toegang tot howe. Die tweede kategorie van aansoekers hou meer verband met RICA se versuim om die onderskepping van vreemde seine en die voorkoms van “grootmaat toesig” deur die Nasionale Kommunikasie Sentrum te reguleer – ‘n belangrike grondwetlike leemte – aangesien alle magte wat deur die staat uitgeoefen word, uitgeoefen en voorgeskryf moet word in bepalings van die wet.
Die aansoeker se eerste kategorie met betrekking tot RICA se gebrek aan veiligheidsmaatreëls het in wese betrekking op verskillende afsonderlike uitdagings. ‘n Belangrike uitdaging onder hierdie kategorie is die gebrek aan kennisgewing aan die persoon wie se kommunikasie onderskep word. Die impak van hierdie gebrek aan kennisgewing moet in perspektief geplaas word. Tans moet ‘n wetstoepassingsagent ‘n hof aansoek bring vir ‘n onderskeppingsbevel voor die “aangewese regter” (‘n afgetrede regter wat vir hierdie doel aangewys is) om vir die onderskepping van die persoon se kommunikasie voorsiening te maak. In terme van RICA bestaan daar verskillende vorms van onderskepping. Hierdie hofaansoek word egter gebring sonder kennisgewing aan die party waarvan die kommunikasie onderskep word en daarom sal dit gebaseer word op grond van die wetstoepassingsbeampte se papiere alleenlik. Die “aangewese regter” moet by die toestaan van so ‘n onderskeppingsbevel tevrede wees dat daar “redelike gronde” is om te glo dat die onderskepping nodig is. Die gronde sluit byvoorbeeld in “werklike bedreiging vir openbare gesondheid, veiligheid of nasionale veiligheid” in, en dat die onderskepping sulke bewyse sal verskaf; ook dat daardie ander ondersoekende middele dit nie kan doen nie.
Alhoewel ‘n gebrek aan vooraf kennisgewing van die hofaansoek regverdigbaar kan wees op grond daarvan dat dit die ondersoek in gevaar kan stel, moet ‘n mens vra watter risiko dit sou wees om die persoon in kennis te stel nadat die onderskeppingsbevel verstryk het en wanneer daar geen risiko sou wees aan die ondersoek nie. Tans word geen kennisgewing – selfs nie na die tyd nie – toegelaat nie. Elektroniese kommunikasie diensverskaffers is ook verplig om aan so ‘n onderskeppingsbevel te voldoen en word ook streng verbied om hul kliënte in kennis te stel dat daar ooit so ‘n bevel was.
Soos die aansoekers uitwys – hoe kan mens ooit die regmatigheid van so ‘n onderskeppingsbevel uitdaag of hersien (om vas te stel of die beperking van die reg op privaatheid geregverdig is) as daar nooit daarvan kennis gegee is nie? Dit, volgens die applikante, beperk die grondwetlike reg op toegang tot howe op onbillike wyse.
Bogenoemde is nie net ‘n hipotetiese situasie nie. Die mede-aansoeker vir hierdie regsuitdaging, joernalis Sam Sole, gee besonderhede oor hoe hy bewus geword het dat sy kommunikasie onderskep is tydens die ondersoek na die wapenskandaal in 2008. Sy vermoedens is later bevestig toe uittreksels van sy onderskeie gesprekke by hofstukke aangeheg is deur mnr Zuma se persoonlike prokureur tydens die sogenaamde Spy Tapes-verhoor. Mnr Sole verklaar dat ondanks talle pogings om uit te vind waarom sy kommunikasie onderskep is, is hy nooit van die aanvanklike onderskeppingsbevel voorsien om die wettigheid daarvan te ontleed nie.
‘n Belangrike punt wat die aansoekers in die grondwetlike uitdaging opper, is die feit dat die Verenigde Nasies se Menseregtekomitee (UNHRC) in 2016 reeds verskeie ernstige kommer oor Suid-Afrika se toesigstelsel gehad het. Die VN-verslag se bekommernisse sluit in die gebrek aan behoorlike veiligheidsmaatreëls, die lae drempel vir toesig en die versuim om herstelmaatreëls daar te stel vir onwettige inmenging met die reg op privaatheid. Hierdie konstitusionele uitdaging van RICA kom dus al ‘n lang pad.
Die Pretoriase Hoë Hof sal nou moet toets of RICA se beperkings op verskeie grondwetlike regte – veral privaatheid en toegang tot howe – redelik is in terme van die Grondwet se beperkingsklousule. Dit sal ‘n goeie analise van verskeie oorwegings vereis, soos die verhouding tussen die beperking en sy doel en veral of minder beperkende middele bestaan om RICA se doel te bereik. Die reg op privaatheid en toegang tot howe moet streng in ‘n konstitusionele demokrasie beskerm word en enige beperking daartoe moet redelik en grondwetlik in ooreenstemming wees. Hierdie grondwetlike uitdaging aan RICA is ‘n belangrike een om dop te hou, aangesien dit die landskap van bewaking deur die staat in Suid-Afrika baie kan verander.
Deur me Christine Botha: Bestuurder, Sentrum vir Grondwetlike Regte
4 June 2019