Die ware gevaar spruit uit ywerige amptenare wat daarop ingestel is om indringende en onlogiese staatsregulasies in werking te stel. Sodanige amptenare het die vermoë om die lewens van burgers te ontwrig en om verwoesting in die sake van besighede te saai. Die betrokke amptenare glo dat hulle hul werk in die openbare belang verrig, maar pleeg selde oorleg met diegene wie se lewens en besighede daardeur geraak word, en oorweeg selde die onbedoelde gevolge van hul dade.

Dít is die geval met die Minister van Binnelandse Sake, mnr Malusi Gigaba, en sy huidige pogings om ons visumstelsel te hervorm. Hy wil verseker dat Suid-Afrika oor die nuutste en doeltreffendste stelsel beskik om die toegang van buitelanders in ons land te beheer.

Dit is belangrik om daarop te let dat die nuwe stelsel slegs van toepassing sal wees op burgers van lande wat visums vereis – en sal dus nie reisigers van die 77 lande, met inbegrip van die meeste van die lande in Europa, Noord-Amerika, Australasië en suider-Afrika, waarvan meeste van ons besoekers afkomstig is, raak nie. Noemenswaardige uitsluitings is China, Indië, Rusland, (al die BRICS-vennote!), en ’n aantal Noord-Amerikaanse, Midde-Oosterse, Suid-Asiese en Afrika-state. Aansoekers van hierdie lande sal persoonlik om visums en om biometriese toetsing by Suid-Afrikaanse missies in die buiteland moet aansoek doen – ongeag van die feit dat hulle dalk duisende kilometers sal moet aflê om dit te doen.

Die nuwe regulasies sal ook van alle besoekers onder die ouderdom van 18 – met inbegrip van lande wat nié visums vereis nie – vereis om in besit van hul eie paspoorte en volledige geboortesertifikate te wees. Indien hulle nie is nie, sal hulle en hul families van 1 Oktober nie toegelaat word om aan boord van vlugte te gaan wat na Suid-Afrika op pad is nie. Suid-Afrikaners onder die ouderdom van 18 sal ook volledige geboortesertifikate nodig hê indien hulle oorsee wil reis – en dit kan tot ’n jaar vat om dit te kry.

Die doelwit van die bekamping van mensehandel is prysenswaardig. Met die daarstelling van hierdie vereiste stel die Departement van Binnelandse Sake egter een van die wêreld se strengste toegangbeheerstelsels daar. Alhoewel aansoeke om visums vir baie ander lande ook vereis dat dit persoonlik gedoen word, sal Suid-Afrika die eerste land wees wat van reisigers onder die ouderdom van 18 vereis om in besit van volledige geboortesertifikate te wees.

Dit is nie verbasend dat die nuwe regulasies wydverspreide paniek veroorsaak het nie:

Ten spyte van hierdie luide protes het die Direkteur-generaal van die Departement van Binnelandse Sake, Mkuseli Apleni, daarop aangedring dat die nuwe stelsel oor die algemeen steun geniet. Minister Gigaba is vasberade om ongeag die protes hiermee voort te gaan – selfs al erken hy dat die kantore wat visums uitreik, op die oomblik onvoldoende is. Voornemende toeriste sal maar aan die pynlike proses van die nuwe immigrasieregulasies moet voldoen terwyl die stelsel vervolmaak word.

Wat dit alles selfs nóg vreemder maak, is die willekeurige wyse waarop die Departement van Binnelandse Sake aansoeke om visums en permanente verblyfreg aanpak.

Aan die een kant is aansoekers om permanente verblyfreg gedwing om die howe te nader ten einde die Departement van Binnelandse Sake te verhoed om hul families op te breek deur te weier dat moeders hul by hul kinders in Suid-Afrika aansluit. Aan die ander kant is ’n vrou, wat ’n dokter is, na vier jaar in kennis gestel dat haar aansoek om permanente verblyfreg afgekeur is omdat sy in 2008 ’n verkeersboete in die VS ontvang het.

Aan die ander kant het die Departement van Binnelandse Sake met ’n enkele rubberstempel die verblyfstatus van 260 000 Zimbabwiërs vir ’n verdere drie jaar goedgekeur.

Biometriese toetse sal ongetwyfeld, soos die Departement van Binnelandse Sake beweer, ons nasionale veiligheid bevorder deur die toegang van reisigers van lande wat visums vereis, te beheer. Maar hoe doeltreffend is die stelsel werklik indien ’n mens in ag neem dat dit nie van toepassing is op die miljoene besoekers van lande wat van visums vrygestel word nie?

Dit alles vind plaas in ’n land wat bekend is vir sy poreuse grense. Die regering weet nie hoeveel onwettige buitelanders per miljoen daar in die land is nie. Tog maak die regering dit uiters moeilik vir bona fide buitelanders met vaardighede wat uiters nodig is, om permanente verblyfreg te bekom!

Ons Grondwet beskerm ons teoreties teen willekeurige administratiewe optrede. Kragtens artikel 33 het “[e]lkeen die reg op administratiewe optrede wat regmatig, redelik en prosedureel billik is.” Die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (WBAG) bepaal dat administratiewe optrede deur howe hersien kan word indien dit, onder andere, prosedureel onregverdig is – of op arbitrêre of willekeurige wyse geneem is; of indien die optrede so onredelik is dat geen redelike persoon die mag of die funksie op só ’n wyse sou uitoefen of uitvoer nie.

Ons moet hoop dat die mense wat hierdeur geraak word, hul regte sal uitoefen deur die howe te vra om die nuwe visumregulasies en vereistes betreffende geboortesertifikate te hersien. In 2001 het die Konstitusionele Hof soortgelyke immigrasieregulasies wat families geskei het, geskrap. Dit is uiters belangrik dat Ministers, Direkteurs-generaal en amptenare daaraan herinner word dat hulle dienaars – en nie meesters – van die mense is. Hul administratiewe optrede breek families op; indien die ekonomie ondermyn word en burgers en sakeondernemings op onredelike wyse belas word, hoort dit in die snippermandjie.

Deur Dave Steward: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting

Foto: GovernmentZA / Foter / Creative Commons Attribution-NoDerivs 2.0 Generic (CC BY-ND 2.0)


Leave a Reply

Your email address will not be published.