Laat ons uit die staanspoor sê dat daar baie oortuigende redes tot kommer is: soos lesers van ons artikels bewus sal wees het ons dikwels reageer op – en gewaarsku oor – baie van die aangeleenthede wat Heystek nou so moedeloos laat.

Ons was een van die eerste organisasies wat die aandag gefokus het op die negatiewe uitwerking van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR). Twee jaar gelede het FW de Klerk dit onomwonde gestel dat Suid-Afrika by ’n kruispad was: dit kon óf die weg van die pragmatiese Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) volg – óf dit kon voortgaan op die weg van die ‘tweede radikale fase van die inwerkingstelling van die NDR’ wat toe deur die ANC bevorder is. Ongelukkig het die ANC die weg van die NDR gekies met slegs ’n effense kopknikkie in die rigting van die NOP.

Ons het onlangs gewaarsku oor die mate waarin die SAKP beheer geneem het oor die rigting van die NDR en ekonomiese beleid – en hoe dit toenemend weerspieël word in wetgewing en benaderings wat eiendomsregte en vrye markbenaderings ondermyn. Ons het ook die aandag gevestig op die katastrofiese uitwerking van ons militante vakbonde – baie van hulle links van die SAKP – en die voorspelbare uitwerking op internasionale graderings, internasionale en plaaslike beleggings, ekonomiese groei en werkloosheid.

Voeg hierby die ongure skouspel van Nkandla; fiasko na fiasko wat ons semistaatsinstellings betref – of moet ons hulle eerder parasiete noem? – en die skokkende inval verlede week van die Parlement deur die onluste-polisie.

Suid-Afrikaners wat nie bekommerd is nie verstaan eenvoudig nie wat gebeur nie.

Indien Heystek egter dink dat die situasie nou belaai is met gevaar, moet hy terug dink aan Augustus 1985. PW Botha het pas sy Rubicon-toespraak gelewer, die Rand was besig om skerp te daal, buitelandse banke het geweier om ons lenings op die kort termyn te laat oorstaan, die ekonomie is toenemend deur sanksies gekortwiek; townships was onregeerbaar met geweld wat elke aand plaasgevind het; die internasionale media het soos aasvoëls gesirkel en gewag om op die karkas van die mislukte staat toe te sak.

Die onsekerheid het voortgeduur tydens die grondwetlike onderhandelings. Op Sondag, 30 Mei 1993 het ek die volgende inskrywing in my dagboek gemaak:

 “God knows what the future holds. We certainly do not – lurching as we are from crisis to crisis, adrift from the realities of the country. Where will the river sweep us? We do not know: shoddy decline into a socialist pit? Civil war? The resurgence of the right and forward to the past?”

Die rivier het ons toe meegesleur na die nuwe Suid-Afrika. Gesonde verstand het geseëvier. Leiers van al ons groot partye het ’n ooreenkoms bereik oor ’n nuwe nie-rassige Grondwet met ’n sterk Handves van Regte.

Daardie Grondwet van ‘wêreldklas-gehalte’ – waarmee Heystek so maklik die spot dryf – het die grondslag daargestel vir stabiliteit en vooruitgang oor die volgende 20 jaar. Dit het sy vermoë om ons vryhede te beskerm en ons regte te verseker herhaaldelik bewys. Keer op keer het ons howe sonder vrees ongrondwetlike wetgewing en optrede deur die uitvoerende gesag verwerp.

Onder leiding van Thabo Mbeki en Trevor Manuel het Suid-Afrika 15 jaar van ononderbroke ekonomiese groei ervaar wat in 2005/2006 5% oorskry het. Die regering het ’n begrotingsoorskot gehad en ons nasionale skuld na slegs 23% van die BBP verminder.

En toe, tydens die ANC se nasionale konferensie in Desember 2007 in Polokwane, het alles verander. Die SAKP en Cosatu geseëvier in wat hulle na verwys het as die stryd om die hart en siel van die ANC. Deur slegs 10% van die afgevaardigdes by die konferensie te oortuig om hul steun van President Mbeki na Jacob Zuma te skuif, was hulle in staat om beheer van die staat te verkry – met inbegrip van die wetgewer, die Presidensie en die uitvoerende gesag. Die SAKP het sedertdien die ekonomiese beleid en die NDR gestuur in die rigting om sy sosialistiese doelwitte te behaal.

Dit is die hoofrede vir Suid-Afrika se verval in die haglike situasie wat deur Heystek beskryf word.

Die vraag is nou hoe ons moet reageer? Moet ons ons rykdom oorsee vat voordat die hekke van valutabeheer toeslaan? Moet ons ons hande in wanhoop saam slaan? Moet ons die veiligheid van Perth of Vancouver gaan opsoek?

Moenie soek vir trooswoorde of maklike oplossings nie. Daar is geen. Suid-Afrika was nog altyd ’n harde en gevaarlike plek – ’n plek vir dapper, taai en sterk mense.

As iemand in Augustus 1985 of in Mei 1993 ’n kykie in die toekoms gegee het en my gewys het hoe Suid-Afrika in November 2014 sou wees, sou ek wat ons nou het met beide hande aangegryp het – ten spyte van al die probleme wat Magnus Heystek uitwys. Dit is baie, baie beter as wat dit kon gewees het.

Die tyd het aangebreek vir ons om weer eens die stryd te voer vir die toekoms van ons samelewing. Die stryd is deel van die skrikwekkende en opwindende aard daarvan om ’n Suid-Afrikaner te wees – maar die voorreg om in Suid-Afrika te kan woon is elke opoffering werd wat van ons gevra kan word, en elke gevaar werd wat ons die hoof sal moet bied.

Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting

 

Foto: Jorge from Brazil / Foter / CC BY


Leave a Reply

Your email address will not be published.