Nzimande is natuurlik reg. Ons universiteite moet die mense van die land dien. Die vraag is hoe dit gedoen kan word sodat dit ons diverse bevolking op die beste wyse kan dien en sodat dit nou met die regte en voorskrifte in ons Grondwet ooreenstem.
Artikel 6(4) van die Grondwet verklaar dat “alle amptelike tale gelykheid van aansien [moet] geniet en billik behandel [moet] word.” Hoe is dit billik as een taal, Engels, op alle universiteite afgedwing word?
Artikel 6(2) vereis dat “die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van die [inheemse] tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.” Maar hoe word dit verwesenlik indien tale nie toegelaat word om in volledig akademiese tale te ontwikkel nie – en indien ons een inheemse taal, Afrikaans, wat hierdie status as akademiese taal verkry het, afgeskeep word? Dit is om hierdie rede dat wyle prof Jakes Gerwel aanbeveel het dat ons inheemse tale deur ons verskeie universiteite ontwikkel en bevorder moet word.
Artikel 29(2) verklaar duidelik dat “[e]lkeen die reg [het] om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings oorweeg met inagneming van (a) billikheid; (b) doenlikheid; en (c) die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel.”
Niemand verkondig enkelmedium-universiteite of universiteite wat nie oop is vir studente van alle rasse nie. Dit is egter duidelik prakties en billik dat ten minste een uit die vier universiteite in die Wes-Kaap, wat hoofsaaklik Afrikaans is, Afrikaans as sy hooftaal van onderrig gebruik – op ’n nie-rassige en nie-diskriminerende grondslag.
Die Grondwet erken ook die reg van alle Suid-Afrikaners “om die taal te gebruik en deel te neem aan die kultuur van hul keuse”. Maar hoe kan hierdie reg verseker word indien die staat in wese versuim om die openbare instellings te steun of erken wat noodsaaklik is vir die bevordering, behoud en ontwikkeling van al ons tale en kulture?
Die probleem is dat Minister Nzimande nie hoofsaaklik deur die Grondwet gelei word nie, maar deur die ANC se Strategie- en Taktiek-dokumente wat vorm gee aan sy Nasionale Demokratiese Revolusie. Hierdie ideologie vereis dat demografiese verteenwoordiging op alle instellings en fasette van die samelewing afgedwing word – met inbegrip van ons universiteite – en wat ongetwyfeld sal lei tot dit waarna die ANC verwys as ’n omvattende “Afrika-hegemonie”.
In die ANC se analise vorm verhoudings tussen Suid-Afrika se verskeie bevolkingsgroepe deel van waarna dit verwys as “die nasionale vraagstuk”. In ’n beleidsdokument van 2005 word daarop gelet dat “dié nasionale vraagstuk, wat nog glad nie opgelos is nie, regoor die wêreld kop uitsteek op ’n ondenkbaar barbaarse wyse”. Voorts wys dit daarop dat “die les vir Suid-Afrika is dat ons nie durf om die nasionale vraagstuk in ons eie land te ignoreer nie”.
Dit som dan sy eie posisie saaklik op: “In die Suid-Afrikaanse konteks handel die nasionale vraagstuk nie hoofsaaklik oor die regte van minderhede of etnies gemotiveerde griewe nie. Dit handel inderwaarheid hoofsaaklik oor die bevryding van die Afrikane.” (Die ANC het haastig bygevoeg dat hierdie verklaring nie ten doel het om die belangrikheid van die regte van minderhede te ondermyn nie – maar dit is natuurlik presies wat dit doen. Dit plaas hul op ongrondwetlike wyse in ’n opmerklik ondergeskikte posisie.)
Elders verklaar die ANC dat, ter oorweging van “die identiteit van die Suid-Afrikaanse nasie in wording”…”is [dit] ’n voortgesette stryd om Afrika-hegemonie in die konteks van ’n multikulturele en nie-rassige samelewing te laat geld, [wat nodig is].” Die ANC dring daarop aan dat “ons nasie se bevestiging van ons wese as Afrikane nie met die heerskappy van een kultuur of taal bó ’n ander verband hou nie, maar dat dit verband hou met die erkenning van ’n geografiese werklikheid en die ontwaking van ’n bewussyn wat deur kolonialisme onderdruk is”. Hegemonie het slegs een betekenis: dit beteken heerskappy – en dit is onversoenbaar met die beginsels van gelykheid en menswaardigheid waarop ons Grondwet gevestig is.
Minster Nzimande se vasberadenheid om kulturele en linguistiese eenvormigheid op ons universiteite af te dwing, is ongrondwetlik. Dit stem ook nie ooreen met die beste praktyk betreffende die bestuur van multikulturele samelewings wat wêreldwyd geld nie. Soos die ANC self daarop wys: “…ons durf nie die nasionale vraagstuk in ons eie land te ignoreer nie.”
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting
Foto: GovernmentZA / Foter / Creative Commons Attribution-NoDerivs 2.0 Generic (CC BY-ND 2.0)