Muthambi is geen vreemdeling vir parlementêre toesighoudingsmaatreëls nie, aangesien sy in die warm stoel was tydens die ondersoek na wanadministrasie by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) gedurende haar termyn as Minister van Kommunikasie. Hierdie keer is Muthambi versoek om voor die Portefeuljekomitee vir die Staatsdiens te verskyn om haar besteding te verduidelik van byna R500 000 van belastingbetalers se geld aan vlugte en verblyf vir 30 vriende en familie wat sy genooi het om haar begrotingsrede in Kaapstad in Mei vanjaar by te woon. Dit was voor die kabinetskommeling, terwyl sy die Minister van Kommunikasie was. Sedert haar oorplasing na die uitvoerende pos in die Staatsdiens, het Muthambi na bewering personeel aangestel sonder om prosedure te volg, en na bewering is haar aanstellingsbeleid nepotisties is. Sy het ook na bewering die Direkteur-generaal van die Departement van die Staatsdiens en Administrasie, Mashwahle Diphofa, van sy bevoegdhede ontneem om personeel aan te stel. Die Parlement sal natuurlik graag haar verduideliking vir sodanige optrede wil hoor, veral in ‘n tyd waar besparingsmaatreëls ingestel is en die funksionering van staatsorgane onder die soeklig is. Muthambi het egter nie voor die Portefeuljekomitee verskyn nie. Haar Direkteur-generaal het dit ook nie bygewoon nie.
Die feit dat hulle nie opgedaag het nie, is klaarblyklik in solidariteit met die LP’s wat hul minagting vir Khoza se leierskap aangedui het. Dit kan ook net ‘n geval wees van nog ‘n lid van die uitvoerende gesag wat nie binne die reg optree nie en nie daarvoor gestraf word nie, soos wat nou die neiging is. Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Bathabile Dlamini, het versuim om te verskyn vir verrigtinge betreffende verantwoordbaarheid wat meer as een keer teen haar ingestel is. Die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, en sy voorganger by die Departement van Binnelandse Sake, Hlengiwe Mkhize, het ook nie voor die Parlement verskyn om vrae te beantwoord oor die naturalisering van die Gupta-familie tydens sy termyn by die Departement van Binnelandse Sake nie.
Die Grondwet vereis van die Nasionale Vergadering om maatreëls daar te stel om te verseker dat alle staatsorgane aan hom verantwoording doen. Dit vereis ook van die Nasionale Vergadering om toesighouding oor die uitvoering van uitvoerende mag uit te oefen. Hierdie grondwetlike mandate word toegepas deur die werk van die parlementêre portefeuljekomitees. Versuim deur ‘n lid van die uitvoerende gesag om voor hierdie liggame te verskyn, is ‘n direkte skending van die Grondwet, aangesien dit die Parlement verhoed om sy pligte doeltreffend uit te voer. Hierdie herhaalde minagting vir die gesag van die Parlement is rede tot kommer.
Die LP’s wat op die Portefeuljekomitee oor die Staatsdiens dien, is reg om ontsteld te wees oor Muthambi se afwesigheid, en het aangedui dat hulle Ministers wil penaliseer wat die Parlement se gesag doelbewus ignoreer. Die LP’s het voorgestel dat Muthambi uit haar eie sak betaal vir die tyd en hulpbronne wat sy deur haar afwesigheid gemors het. Dit is in ooreenstemming met die nasie se grondliggende waardes van deursigtigheid, openheid en verantwoordbaarheid. Die penalisering van LP’s wat nie hul verpligting aan die Parlement nakom nie, sal ‘n verdere aansporing wees – alhoewel hul ampseed voldoende behoort te wees – om vergaderings by te woon.
Die Hoofsweep se kommentaar oor die optrede van die vyf LP’s is ‘n welkome eerste stap. Die mag van die Parlement se magte om LP’s verantwoordelik te hou moet egter ten toon gestel word, ten einde te verseker dat die Parlement sy grondwetlike mandaat doeltreffend kan uitvoer om toesighouding oor die uitvoerende gesag uit te oefen. Lede van die uitvoerende gesag kan nie hul verantwoordelikheid teenoor die Parlement ontduik nie. Staatsamptenare kan ook nie belastingbetalers se geld roekeloos vir hul persoonlike verryking bestee nie, direk of andersins. Die betrokkenheid van party-politiek, of enige ander agendas, by die funksionering van die Parlement, kan nie in Suid-Afrika se demokrasie goedgekeur word nie. Voorts is hierdie betrokkenheid net nog ‘n voorbeeld van die versuim om tussen party en staat te onderskei. Miskien moet die regerende party nie bloot daardie LP’s kritiseer wat nie hul parlementêre pligte wil uitvoer nie, maar eerder oorweeg om hulle te vervang met individue wat sal.
Me Rebecca Sibanda: Regsassistent, Sentrum vir Grondwetlike Regte