Die eerste hiervan is die betreurenswaardige stand van ons onderwysstelsel. Terwyl ons BBP-uitgawes op onderwys gunstig vergelyk met die meeste ontwikkelde en ontwikkelende nasies (op 6% in 2015), slaag ons nie daarin om die gehalte onderwys te lewer wat nodig is om ‘n arbeidsmag te lewer wat nodig is vir ‘n mededingende ekonomie nie. Volgens die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se Global Competitiveness Report vir 2015-16 beklee ons die 120ste plek uit 140 in die kategorie onderwys. Ons beklee die 140ste (laaste) posisie wat die gehalte van onderrig in wiskunde en wetenskap betref. Dit skep ‘n situasie waar ons eenvoudig nie skoolverlaters lewer wat die vaardighede het vir ‘n moderne ekonomie nie. Dit laat ons spesifiek met ‘n tekort aan gevorderde vaardighede vir sektore wat ‘n goeie agtergrond in wiskunde en wetenskap vereis. Ons benodig ‘n onderwysstelsel wat ons jongmense voorberei om aan die dringende behoeftes van ons ekonomie te voldoen – veral op die gebied van gehaltediens, met sterk klem op dienslewering en innovasie.

Die tweede struikelblok vir indiensneming wat ons dringende aandag nodig het, is die stand van arbeidsverhoudinge in ons land. In die kategorie arbeid-werkgewer, beklee Suid-Afrika die 140ste uit 140 posisies van lande wat geëvalueer is. Die Grondwet beskerm die regte van werkers om by vakbonde aan te sluit en om deur hulle verteenwoordig te word om die onderhandelingstafel. Die meeste van ons vakbonde word egter gelei deur sosialistiese ideologieë wat nie die reg aanvaar van meeste werkgewers om te bestaan nie en wat uitsien na die afskaffing van die vryemarkstelsel, wat die indiensneming in die eerste plek geskep het. Die probleem met ‘n sosialistiese benadering tot arbeidsverhoudinge lê in sy verwerping van die behoefte om winste tot voordeel van almal te maak, en dat die vryemarkstelsel kenmerk as die slawerny van die werker ten einde die top-bestuurders te verryk.

Dit word dan beskou as die regverdiging vir die konstante ontwrigting van produksie ten einde te verseker dat werkers ‘n “ordentlike loon” verdien. Dit blyk egter of die feit dat vir werkers om betaal te word, die werkgewer ‘n wins moet maak, geïgnoreer word. Groot looneise ontwrig arbeidsverhoudinge en lei dikwels tot afleggings sodat werkgewers minder werkers hoër lone hoef te betaal – aangesien dit die werkgewer se vermoë om ‘n besigheid te bedryf in gedrang sal bring indien hoër lone aan alle werkers betaal sou moes word. Die jong werkers is dié wat die meeste ly, aangesien hulle dikwels eerste afgedank word wanneer maatskappy noodgedwonge werknemers moet afdank.

Die derde struikelblok vir indiensneming hou verband met arbeidswetgewing in Suid-Afrika. Ons arbeidswetgewing, wat dikwels neig om ten gunste te wees van die ideologie van die vakbonde, is die grootste bron van kommer vir sakeondernemings wat in Suid-Afrika sake doen, asook vir voornemende beleggers. Dit ontmoedig ook die indiensneming van jongmense wat die arbeidsmark vir die eerste keer betree. Dikwels word diegene wat onlangs gegradueer het, se tersiêre kwalifikasie nie oorweeg in die keuringsproses nie weens die vereiste vir ‘n sekere hoeveelheid ervaring. Weens die omslagtigheid betreffende die aanstellings- en afdankingspraktyke (138ste posisie uit 140), is maatskappye huiwerig om werksoekers wat die eerste keer begin werk, aan te stel, veral al dié met geen ervaring op hul CVs nie. Dit laat ons jeug met min opsies as hulle ervaring nodig het om ‘n werk te kry, maar niemand aan hulle die geleentheid wil gee om daardie werkservaring op te doen nie.

Die vierde struikelblok is ons onvermoë om voldoende vlakke van ekonomiese groei in die afgelope paar jaar te verwesenlik. Die Tesourie stel ‘n ekonomiese groei van 0.9% vir die jaar 2016/2017 in die vooruitsig. Dit sê vir ons dat vir elke 30 jongmense wat werk soek, slegs 10 werk sal kry. Dit lei tot frustrasie, wat in twee scenarios kan manifesteer. Die eerste is die ontstaan van ‘n apatiese generasie, wat geen punt daarin sien om teen die struikelblokke te baklei nie. Die tweede, wat blyk om aan die orde van die dag te wees, is die ontstaan van radikalisme wat ten doel het om die stelsel af te breek om die weg vir die gemarginaliseerde massas te baan. Die probleem is egter dat nadat die revolusie die stelsel afgebreek het, daar selfs minder plek vir jong mense ten opsigte van indiensneming sal wees. Dit sal lei tot die verdere marginalisering van die jeug, met al die gevare van rassisme, stamgebondenheid en xenophobia. Die vereiste is om te verseker dat daar genoeg plek sal wees wat indiensneming betref – maar dat dit nie verwesenlik kan word sonder volgehoue vlakke van hoë ekonomiese groei nie.

Hierdie vier aangeleenthede vereis eerlike analise en ‘n gesamentlike poging van die Regering, Besigheid en Arbeid ten einde ‘n volhoubare benadering daar te stel wat onderwys, arbeidsverhoudinge, regulering van die arbeidsmark en ekonomiese groei betref. Ons het voorbeelde in ander lande – met inbegrip van ons mede-Afrika-nasies – wat geleer het dat samewerking tussen hierdie drie pilare van die ekonomie nodig is om ekonomiese groei en werkskepping te verseker. Ons kan leer uit hulle lesse sonder om dieselfde foute te maak. As ‘n pionier-generasie van ‘n ontwikkelende Suid-Afrika, moet ons ons eie bydrae maak tot die groei van die ekonomie ten einde te verseker dat toekomstige generasies beter vooruitsigte as ons sal hê. Ons is bereid om te werk – maar vir ons – en vir die land – sal ons werksgeleenthede nodig hê.

Deur Patson Malisa: Intern, FW de Klerk Stigting

Hierdie artikel is geskryf deur ‘n intern van die FW de Klerk Stigting en verteenwoordig die opinie van die skrywer. Dit verteenwoordig nie noodwendig die opinies van die FW de Klerk Stigting, sy personeel of sy Raadslede nie. Die FW de Klerk Stigting is egter verbind tot ‘n breër openbare dialoog wat ten doel het om die waardes, regte en beginsels in die Grondwet te bevorder. 

Leave a Reply

Your email address will not be published.