“’n Man met die naam van Jan van Riebeeck het op 6 April 1652 in die Kaap aangekom…Wat gevolg het was talle stryde en oorloë en sterftes en die gryp van grond en die ontneming van die inheemse mense se politieke en ekonomiese mag.” Die aankoms van Van Riebeeck “het Suid-Afrika se maatskaplike samehorigheid ontwrig, mense onderdruk en oorloë veroorsaak.”
Die aantygings is sedertdien deur ’n sangoma herhaal – wat die ‘gees van Jan van Riebeeck’ by die ANC se konferensielokaal uitgedryf het – en Marius Fransman – die leier van die ANC in die Kaap – wat nie sou bestaan het indien die Hollanders nie die Kaap in 1652 gekoloniseer het nie.
Wat die ANC se veldtog teen Van Riebeeck eintlik probeer sê is dat die aankoms van wit mense in Suider-Afrika ’n ramp vir die inheemse bevolking van die streek was. Van Riebeeck het immers streng opdrag gehad om nié die Kaap te koloniseer nie en het slegs vir 10 jaar gebly voordat hy aanbeweeg het na sy volgende pos in die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie.
Daar steek nogtans waarheid in die aantygings: die uitbreiding van die Europese invloed in Suider-Afrika hét aanleiding gegee tot die onderwerping van die eens onafhanklike mense van die streek. Teen 1879, ná nege bitter oorloë, is die gebiede van die Xhosa-mense deur Brittanje geannekseer. In dieselfde jaar – na afloop van ’n moedswillige oorlog van aggressie – is die eens magtige Zulu-koninkryk in die Britse Ryk opgeneem.
Daar is meer as genoeg rede om bitter te wees: die skokkende moord op Hintsa; die vernedering van Maqoma deur Harry Smith; die tragedie toe die beeste van kant gemaak is; Cetshwayo se gevangenisstraf op Robbeneiland; die uitsluiting van swart politieke regte in die Unie van Suid-Afrika; die Wet op Naturelle Grond van 1913; en die daaropvolgende dekades van segregasie en apartheid.
Maar die geskiedenis is nooit so eenvoudig as wat dit soms lyk nie:
- Sal die San – wat eens die hele Suid-Afrika bewoon het – nie kan dan kla dat die aankoms van swart mense ’n ramp vir hulle was nie?
- Dit is nie waar dat wit mense oorlogvoering en maatskaplike disintegrasie op die subkontinent bekendgestel het nie. Die konflik waarmee die Mfekane Suid-Afrika geteister het was by verre die ergste – die oorloë wat deur die President se eie mense onder leiding van hul groot Koning Shaka ontketen is. Die oorloë het die verwoesting en ontvolking van groot dele van die land en migrasies na plekke so ver weg as Malawi en Zimbabwe tot gevolg gehad. Soveel as ’n miljoen mense het moontlik gesterf.
- Swart mense was ook nie die enigste mense wat deur Europese Imperialiste onderdruk is nie. Die Afrikaners het die grootste oorlog teen kolonialisme in die geskiedenis van Afrika gevoer.
Indien dit egter nie vir die Britte was nie sou daar geen Unie van Suid-Afrika in 1910 gewees het nie – en die ANC sou heel moontlik nie twee jaar daarna gestig geword het nie. Dit is onwaarskynlik dat ’n Zulu-president 105 jaar later ’n galadinee vir die ANC in Kaapstad sou aanbied. Noudat mens daaraan dink, sou daar ’n Kaapstad – of enige van ons ander groot stede – gewees het sonder Jan van Riebeeck en wit setlaars?
Moontlik – maar sonder die ingryping van Westerse tegnologie en kapitaal sou hulle onherkenbaar anders gewees het. Ethiopië en Liberië – die enigste Afrika-state wat nie gekoloniseer is nie – is ook van die mees agterlike op die vasteland, en beklee onderskeidelik die 173ste en 175ste posisie uit 187 lande op die UNDP se Menslike Ontwikkelingsindeks.
Die feit is dat die ANC 21 jaar gelede die regering oorgeneem het van by verre een van die mees ontwikkelde lande in Afrika. Daar was baie meer kilometers van spoorweë en hoofweë as in enige ander land in Afrika; ons het (op daardie stadium) meer elektrisiteit as die res van die vasteland saam opgewek; ons het beskik oor ontwikkelde gesofistikeerde nywerhede en sakeondernemings van wêreldgehalte. Ten spyte van apartheid was die swart bevolking van Suid-Afrika in vele opsigte baie meer gevorderd as enige ander mense in Afrika. Hoeveel hiervan sou bestaan het sonder die bydrae wat wit Suid-Afrikaners tot die ontwikkeling van die land gemaak het?
Die veldtog teen Jan van Riebeeck is net nog ’n voorbeeld van die President en die ANC se ontstellende en toenemend openlike houding teen wit mense. Die ANC se belangrikste program, sy “Nasionale Demokratiese Revolusie”, is immers die voortsetting en afhandeling van sy ‘bevrydingstryd” teen wit Suid-Afrikaners wat as “antagoniste” beskou word.
Drie jaar gelede tydens die ANC se vieringe op 8 Januarie in Bloemfontein het President Zuma die “Skiet die Boer”-liedjie vir ’n stadion vol ANC ondersteuners gesing. Dit is op YouTube vir almal om te sien. Die woorde is as volg:
“Ons gaan hulle skiet, hulle gaan hardloop;
Ons gaan hulle skiet, met die masjiengeweer;
Hulle gaan hardloop. Jy is ’n wit man –
Ons gaan hulle tref – en jy gaan hardloop!
Skiet die Boer!
…Ons gaan hulle skiet – hulle gaan hardloop!
Die Kabinet gaan hulle skiet met die masjiengeweer!
Die Kabinet gaan hulle skiet met die masjiengeweer!
Skiet die Boer!”
Die verwysing na die Kabinet wys daarop dat hierdie nie slegs ’n nostalgiese, ou bevrydingslied is nie. Kan ’n mens jou indink dat die leier van enige gerespekteerde land in die wêreld sodanige betreurenswaardige menings oor ’n nasionale minderheid kan uitspreek?
Die geskiedenis is wat dit is: die verlede – met al sy konflikte, ongeregtighede en ingewikkeldheid – kan nie verander word nie. Soos Omar Khayyam dit stel: “Nor all thy piety nor wit can lure it back to cancel half a line, nor all thy tears wash out a word of it”.
Ons unieke bydrae tot die storie van die mensdom is dat ons 25 jaar gelede gewys het dat ons in staat is om ons geskiedenis van bitterheid en verdeeldheid te oorbrug en ’n nuwe samelewing te bou wat op menswaardigheid, die behaling van gelykheid en die bevordering van menseregte gegrond is. Almal van ons – swart mense, wit mense, bruin mense en Asiërs – en nie net die ANC nie – het ’n onontbeerlike rol gespeel om ons nuwe samelewing te bou. Almal van ons – en veral diegene wat bevoorreg is om deur die verlede en hede te bevoordeel word – moet voortgaan om saam te werk om die visie in ons Grondwet te verwesenlik.
Die openingsreëls van ons Grondwet erken met reg “die ongeregtighede van ons verlede” en “huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het.” Dit vereis egter ook van ons om “diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel [te respekteer]” en om te bevestig dat “Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.” In hierdie gees verbind ons onsself om “die verdeeldheid van die verlede te heel …”.
Ons doen met respek ’n beroep op President Zuma om te onthou dat hy die President van alle Suid-Afrikaners is en om ’n bietjie meer aandag daaraan skenk om die verdeeldheid van die verlede te heel – eerder as om dit te verdiep.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur
Foto: Celso Flores / Foter / Creative Commons Attribution 2.0 Generic (CC BY 2.0)