Die feit is dat baie dinge in ons land verkeerd loop:
- Die ANC het toenemend aggressiewe en rasgebaseerde beleide ten opsigte van regstellende aksie, BSEB en grondhervorming van stapel gestuur. Dít is alles deel van wat President Zuma na verwys as die “radikale inwerkingstelling van die tweede fase van die Nasionale Demokratiese Revolusie”;
- Die ANC vul belangrike poste in die regering, die veiligheidsmagte en semi-staatsinstellings op grond van politieke affiliasie en ras – eerder as op grond van meriete en ervaring. Gevolglik word die vermoë van dié staatsinstellings ernstig ondermyn;
- Ons vakbond/werkgewer-verhoudings is volgens die Wêreld Ekonomiese Forum die slegste in die wêreld. Baie vakbonde erken nie werklik die reg van bestuur/eienaars om te bestaan nie.
- Die ANC maak dit al hoe moeiliker vir groot en klein sakeondernemings om sake te doen deur hulle te onderwerp aan onuitstaanbaar buitensporige regulering en deur onmoontlike rasgebaseerde kwotas en mikpunte daar te stel;
- Eiendomsregte verkeer onder toenemende druk weens die afskaffing van bilaterale beleggingsooreenkomste en uiters onrealistiese voorstelle dat boere die helfte van hul plase aan plaaswerkers moet afstaan;
- Dít alles ontmoedig buitelandse (en plaaslike) beleggings en maak dit al hoe moeiliker om die groeimikpunte te behaal wat ons dringend nodig het om ’n beter lewe vir almal te verwesenlik.
Dit is gevolglik van pas van Frans Cronje om voor te stel dat bekommerde Suid-Afrikaners moet begin dink aan die noodsaaklikheid vir ’n “Plan B”.
Die feit is dat Suid-Afrika nooit ’n maklike land was nie. Byna elke besoeker sedert 1652 het opgemerk dat dit ’n pragtige plek is – maar dat dit onmoontlik vir nóg vyf jaar sou hou. Om in Suid-Afrika te woon, oorleef en voorspoedig te wees was nog altyd ’n stryd. Ons as Suid-Afrikaners het egter keer op keer deur die verloop van die geskiedenis dié uitdagings die hoof gebied. Vandag is die situasie nie veel anders nie.
Dit is hoekom ons nie van “Plan A” moet vergeet nie. Ek wil voorstel dat dit die volgende komponente insluit:
- Eerstens is daar ons Grondwet. Dit het ons goed gedien oor die afgelope 20 jaar. Dit is keer op keer gebruik om die regering te verhoed om ongrondwetlik op te tree en om ongrondwetlike wetgewing te aanvaar. Dit is steeds een van die beste maniere om die regte van al ons mense te beskerm. Dit geniet wye plaaslike en internasionale steun en dit word dikwels deur ons onafhanklike en getransformeerde howe gehandhaaf. Ons moet met hand en tand veg om die regte wat daarin verskans word, te beskerm, en om die visie wat in artikel 1 uiteengesit word, te verwesenlik. Dit is ’n visie van menswaardigheid en vryhede; nie-rassigheid en nie-seksisme; die oppergesag van die Grondwet en die reg; en ’n veelparty-demokrasie wat gegrond is op verantwoordbaarheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid.
- Ons moet gebruik maak van die volle spektrum van regte wat in die Grondwet gewaarborg word, en moet onregverdige beleide, rassisme, korrupsie en volgehoue pogings om die regte van burgers te ondermyn, teen staan. Ons moet gebruik maak van ons reg op vryheid van uitdrukking – in die pers en in die elektroniese media op die internet om ons menings en bekommernisse te lug. Ons moet ons politieke regte gebruik om die partye, beleide en waardes van ons keuse te steun. As ons werklik sterk daaroor voel, kan ons betoog of petisies voorlê. Ons moet hierdie regte gebruik om die Openbare Beskermer en ons onafhanklike howe te steun. Ons moet van hulle gebruik maak om pogings om die onafhanklikheid en integriteit van die Nasionale Vervolgingsgesag te ondermyn, teen te staan. Ons moet korrupsie en nuwe en ou gedaantes van rassisme teen staan, waar dit ook al mag voorkom. Ons moet aandring op beter onderwys vir al ons kinders en beter dienste van die staat op elke regeringsvlak. Ons moenie toelaat dat ons regte ondermyn word bloot omdat ons nie die wil het om dit op te eis nie.
- Wees verseker dat die waardes wat in die Grondwet vervat word, ooreenstem met die demokratiese tradisies regoor die wêreld. Diegene wat dit teenstaan en wat probeer om ons samelewing weer volgens ras te klassifiseer, nie in voeling is met die res van die wêreld nie. Diegene wat nie-rassigheid, die vryheid van die media en die onafhanklikheid van die howe steun, kan gerus wees dat hulle die steun van verligte mense en regerings regoor die wêreld sal geniet.
- Help almal om te besef dat die toekomstige sukses van Suid-Afrika en al sy mense slegs behaal sal word indien ons almal saamwerk – en indien almal van ons ons vaardighede en hulpbronne gebruik om ’n vooruitstrewende ekonomie en regverdiger samelewing te bou. Dit sal nie gebeur indien onverantwoordelike politici voortgaan om die land op grond van ras te verdeel en om intergemeenskaplike emosies aan te hits nie.
- Gebruik jou vaardighede en hulpbronne om ’n regverdiger en vooruitstrewende samelewing vir al ons mense te bou. Reik uit na Suid-Afrikaners van ander gemeenskappe. Betoon respek en deernis teen oor alle ander mense – omdat ons almal se toekoms interafhanklik van mekaar is. Sluit aan by en steun nie-regerings- en godsdienstige organisasies wat goeie werk in ons gemeenskappe verrig.
Suid-Afrikaners uit al ons gemeenskappe het baie groter struikelblokke in die verlede uit die weg geruim: in 1856, toe die beeste doodgemaak is, het die toekoms hopeloos gelyk vir die Xhosa – maar dit was die Xhosas wat aan die voorpunt was van ons demokratiese transformasie in 1994; in 1879, ná die nederlaag by die stryd van Ulundi, sou min Zulus kon glo dat ons eendag ’n Zulu as president sou hê; in 1902, ten spyte van die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog, het die Afrikaners begin om hul stukkende lewens en gemeenskappe te herbou, en het hulle ’n onskatebare bydrae gemaak tot die voorspoed en sukses van ons samelewing; tydens die donker dae van die 1980s het min Suid-Afrikaners kon dink dat ons in staat sou wees om ’n vreedsame, nie-rassige en demokratiese toekoms te bou.
Gelukkig was daar nog altyd genoeg Suid-Afrikaners met moed en geloof om ons deur dié uitdagings te kry en om ons te lei om die enorme potensiaal van ons mooi land te verwesenlik. Dit is ’n stryd – maar dit is die moeite werd. Ons lewe in een van die mooiste, diverse en opwindendste lande in die wêreld. Iemand het per geleentheid gesê dat Australië se grootste probleem is dat dit nie groot probleme het nie. Niemand kan dit oor ons sê nie. Die uitdagings wat ons die hoof moet bied beteken dat daar nie ruimte is vir oorgerustheid nie – dat ons werklik harder as meeste mense in meeste ander lande moeg veg om ’n beter lewe vir ons mense te skep. Ironies genoeg, in ’n toenemend oorgeruste, eentonige wêreld, kan ons probleme een van ons grootste nasionale bates wees.
So voor ons “Plan B” begin afstof, moet almal van ons ook alles in ons vermoë doen om te verseker dat “Plan A” werk.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting
Foto: Celso Flores / Foter / Creative Commons Attribution 2.0 Generic (CC BY 2.0)