Dit skep die indruk dat die moedswillige doodmaak van swart mense op een of ander manier ‘n integrale deel van die ideologie van apartheid was. Nadat hy hierdie verband getref het, het Du Preez egter toegegee dat apartheid nie ten doel gehad het om swart Suid-Afrikaners uit te wis nie en dat Robert Mugabe en Omar al-Bashir meer van hul eie mense vermoor het as wat mense onder apartheid vermoor is.

Hoe verkeerd hul beleide ook al mag gewees het, is daar nie ‘n enkele leier uit die tydperk voor 1994 wat nie met die diepste weersin gevul sou wees oor Roof se koelbloedige moord op nege swart aanbidders by die Emanuel-kerk in Charleston nie – of wat nie net so gewalg sou wees deur Strydom se optrede nie.

Niemand moet die ongeregtighede van apartheid onder die mat vee nie. Dit is egter onaanvaarbaar om Roof se dade – en die gruwelike moorde van Barend Strydom – op enige wyse met die waardes en beleide van voormalige leiers van die Nasionale Party te vergelyk. Sodanige aantygings versterk net die ANC se verdelende weergawe van die geskiedenis – ‘n weergawe wat Du Preez klaarblyklik ook glo – ingevolge waarvan die wit instelling voor 1994 almal boos was, terwyl almal aan die ANC se kant almal goed was. Die ANC gebruik hierdie wit/boos, swart/goed analise van die geskiedenis by elke geleentheid om sy eie aggressiewe rasgebaseerde agenda te bevorder.

Ons benodig ‘n gebalanseerde verstandhouding van ons verlede wat die oneindige skakerings van grys weerspieël, wat eintlik kenmerkend van ons geskiedenis is. Saam met die ongeregtighede van apartheid moet ons die volgende oorweeg:

Barend Strydom was ‘n sosiopaat wat ernstig gekant was teen die voorgestelde transformasiebeleide van President De Klerk. Du Preez mislei sy lesers opsetlik deur die indruk te skep dat die De Klerk-regering op een of ander manier met Strydom simpatiseer het en in 1992 ‘n aktiewe rol gespeel het om sy doodsvonnis om te keer en hom vry te laat omdat “hy ‘n politieke gevangene” was.

Strydom is in der waarheid vrygelaat ingevolge die Further Indemnity Act wat die Parlement teen die einde van 1992 aanvaar het as deel van die ANC se prys om na die onderhandelings terug te keer – wat dit sedert Junie van daardie jaar geboikot het. Kragtens die Wet is honderde ANC-gevangenes – wat ernstige misdade gepleeg het, met inbegrip van halssnoermoorde – en wat dus nie ingevolge die Norgard-beginsels vrygelaat kon word nie – vrygelaat. Die enigste vereiste was dat ‘n paneel van regters moes oorweeg of hulle hul misdade met ‘n politieke motief gepleeg het. Die De Klerk-regering kon nie Strydom verhoed om van hierdie selfde beginsel gebruik te maak om van geregtigheid te ontsnap nie.

In sy outobiografie skryf De Klerk dat die aanvaarding van die Further Indemnity Act een van die onsmaaklikhede van sy presidentskap was – en dat hy bereid was om die onderhandelings te verbreek oor die aangeleentheid. Dit was egter noodsaaklik vir die hervatting van die onderhandelings.

Die man waarna Du Preez afwysend verwys as die “laaste apartheid-president”, saam met sy kollegas in die Nasionale Party, het die leiding geneem om apartheid te beëindig. Dit is soos om Abraham Lincoln “die laaste president van slawerny” te noem.

Du Preez is een van ons kleurvolste en mees geharde joernaliste, wie se artikels gewoonlik gekenmerk word deur ‘n passie vir regverdigheid. Wanneer dit egter by die verlede kom, neig sy passie om sy regverdigheid te beïnvloed.

Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting

Leave a Reply

Your email address will not be published.