+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

 

Nasionale spanne moet op meriete gekies word, maar transformasie moet op skool-/jeugvlakke in werking gestel word ten einde ’n breë grondslag van atlete daar te stel wat in die toekoms op hoër vlakke kan deelneem”.

Hierdie beleidsriglyn is in skrille kontras met onlangse besluite wat deur die Departement van Sport en Ontspanning geneem is na afloop van ’n vergadering tussen die Minister van Sport, Fikile Mbalula, en die provinsiale LUR vir Sport. Hierdie besluite behoort kommerwekkend te wees vir alle Suid-Afrikaners.

Die besluite sal Suid-Afrika se mees populêre sportsoorte raak, soos rugby, krieket, netbal, atletiek en sokker.

Volgens berigte het die groep besluit om die 50/50-kwotastelsel na 60% verteenwoordiging te verhoog, nadat hulle ’n “gebrek aan gewilligheid om transformasie in werking te stel” bespeur het, “veral wat die toepassing van kwotas betref” en dat “die versuim om die nuwe kwotas toe te pas sal lei tot die onttrekking van enige vorm van finansiering en steun aan federasies en sportsliggame”.

Mbalula het voorts verklaar dat “die nasionale kleure ontneem sal word van enige federasie wat aandring om die formaat en status quo wat tans geld, na te volg” en dat sy departement borge aan enige sportsvereniging sal verhoed wat vyandig is teenoor transformasie.

Aanduidings deur die Departement wys daarop dat die 60%-vereiste onmiddellik in werking sal tree en dat al die besluite wat tydens die vergadering geneem is, in werking gestel moet word voor die administrasie van die nuwe regering oorneem na afloop van die algemene verkiesing op 7 Mei.

Hierdie retoriek spruit uit die ANC se idee van absolute demografiese verteenwoordiging en die party se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR), en sal ernstige gevolge vir Suid-Afrika en sy atlete inhou.

Kwotas, veral dié wat op die ras van atlete of spelers gegrond is, het geen plek in sport nie – of dit nou nasionale of internasionale sport is. Gegewe Suid-Afrika se spesifieke geskiedenis met betrekking tot die onderwerp voor 1994, word die verantwoordelikheid om atlete, spelers en talent uit voorheen benadeelde gemeenskappe te ontwikkel, nie ontken nie.

Die toepassing van ’n raskwota van 60% in alle Suid-Afrikaanse nasionale sportspanne (en dit sal ongetwyfel deursyfer na provinsiale en ander vlakke van deelname aan sport) is ook nie die antwoord nie.

Die besluite sal ongetwyfeld onaanvaarbaar wees vir die grootste deel van die internasionale sportgemeenskap. Die regulasies wat deur byna elke internasionale sportliggaam uitgereik word verbied enige vorm van rassediskriminasie en inmenging deur die regering in sport:

(a)   geensins persone mag aanstoot gee, beledig, verneder, intimideer, bedreig, verkleineer, belaster of op onwettige wyse teen hulle mag diskrimineer op grond van hul ras, geloof, kultuur, kleur, herkoms en/of nasionale of etniese herkoms nie;

(b)   geskikte beleide moet aanneem wat dit duidelik stel aan alle werknemers, amptenare, kommersiële vennote en ander deelnemers en belanghebbendes dat onvanpaste optrede met betrekking tot ras (met inbegrip van enige openbare verklarings) nie deur die IKR of enige lid geduld sal word nie;

Hierdie besluite en die voorgestelde 60%-kwotas is teenstrydig met Suid-Afrika se Grondwet en die belangrike waardes van gelykheid, menseregte en nie-rassisme wat dit verskans. Artikel 9(4) van die Grondwet verbied ook onregverdige diskriminasie op grond van inter alia ras en etniese oorsprong.

Die besluite is ook onwettig omdat enige stap om rassekwotas toe te pas die Wet op Billike Indiensneming, Wet 55 van 1998 ondermyn. Die Wet magtig numeriese mikpunte, maar verbied spesifiek kwotas. Spelers en ander atlete het gewoonlik kontrakte met unies of maatskappye, wat beteken dat hulle werknemers is, en gevolglik is die Wet op Billike Indiensneming op hulle van toepassing.

Daar is eenvoudig geen bewyse dat ’n kwotastelsel wat op ras gebaseer is sal bydra tot die onwikkeling van nuwe spelers nie. Inteendeel, dit sal slegs dien om talentvolle sportsterre regoor Suid-Afrika te benadeel, ongeag hul ras. Sport (en spesifiek professionele sport) moet vir alle Suid-Afrikaners toeganklik wees, maar dit moet deur ontwikkeling behaal word, en nie deur kwotas nie. Die idee om eenvoudig ’n 60%-kwotastelsel wat op ras gebaseer is, toe te pas op alle of op die mees populêre sport, ontken die verskillende kulturele voorkeure en belange van baie Suid-Afrikaners wanneer dit kom by hul deelname aan verskillende sportsoorte. Baie Suid-Afrikaners wil eenvoudig nie aan atletiek deelneem nie, terwyl ander nie rugby of netbal wil speel nie.

Suid-Afrika moet die beste moontlike spanne kies in elke sport waaraan ons deelneem – ongeag hul ras. As dit beteken dat 100% van ons krieket- of rugbyspanne swart is, is dit reg so, mits hulle op meriete gekies is. Kan jy jou die protes indink indien enige iemand sou durf om te kla dat die VS se atletiekspan disproporsioneel swart is?

Die oplossing om spanne te ontwikkel wat meer verteenwoordigend is is om toegang tot sportfasiliteite en -opleiding vir al ons mense te verseker. Op die ou einde van die dag behoort dit egter genoeg te wees om trots te wees op ons sportsterre omdat hulle ons s’n is – en nie omdat hulle aan een of ander ras behoort nie.

Indien Suid-Afrika sou voortgaan met die toepassing van rassekwotas in ons sportspanne, sal ons toenemend deur op die internasionale sportarena geïsoleer word. Selfs erger – sport sal weer eens ’n bron van verdeling wees, eerder as van nasionale eenheid.

Deur adv Jacques du Preez, FW de Klerk Stigting

 FotoGovernmentZA / Foter / Creative Commons Attribution-NoDerivs 2.0 Generic (CC BY-ND 2.0) 


Leave a Reply

Your email address will not be published.