Die vraag is of daar ruimte behoort te wees vir kulturele, linguistiese en intellektuele diversiteit – en die vry akademiese instellings waarvan sodanige diversiteit afhanklik is – en of ons eerder aan die ANC se radikale ideologie van demografiese verteenwoordiging moet voldoen?
‘n Dodelike stryd word tans by die Noordwes-universiteit gevoer ten einde te bepaal of sy kampus op Potchefstroom sy Afrikaanse karakter as semi-outonome eenheid van die universiteit sal behou. Die NWU se nuwe visekanselier, prof Dan Kgwadi, dring daarop aan om ‘n unitêre stelsel op die universiteit se drie kampusse – Potchefstroom, Mafikeng en die Vaaldriehoek – af te dwing, en om enkele dekane aan te stel om aangeleenthede van die fakulteite op al drie kampusse te bestuur. Prof Kgwadi is vasberade om studenteliggame en fakulteite meer in ooreenstemming met die nasionale demografie te bring. Alhoewel hy beweer dat hy ‘n “vriend van Afrikaans” is, sal sy benadering onvermydelik lei tot die ondergang van die Afrikaanse karakter van die kampus op Potchefstroom – en in alle waarskynlikheid tot die verlies van baie Afrikaanssprekende studente en fakulteite.
By die Universiteit van Stellenbosch woed daar ‘n intense debat oor die behoefte om die name van DF Malan, HF Verwoerd en BJ Vorster van universiteitsgeboue en -instellings te verwyder.
Niemand kan stry dat hulle almal onaanvaarbare beleide ingestel het wat die behoud van hul name uiters onsmaaklik sal maak vir veelrassige studente en fakulteite in 2015 nie.
Aan die ander kant is daar die mening dat historiese figure binne die konteks van hul tyd beoordeel moet word. Min historiese helde sou ondersoek oorleef het indien hulle aan die huidige norme onderwerp is: Napoleon sou as ‘n massamoordenaar beskou word; Churchill as ‘n onaangepaste imperialis en ons eie Koning Shaka as ‘n genadelose despoot (alhoewel niemand voorstel dat Durban se internasionale lughawe nie meer na hom vernoem moet word nie).
Skeptici waarsku ook teen die gevaar van politieke korrektheid en dubbele standaarde. Daar is nie ‘n soortgelyke debat by die Universiteit van die Vrystaat wat daarop aandring dat Bram Fischer se naam van universiteitsgeboue verwyder moet word nie – selfs al was hy ‘n Stalanis wat ‘n baie meer onderdrukkende stelsel op Suid-Afrika sou afgedwing het as wat Verwoerd ooit kon beoog het.
Daar is ook die mening dat historiese name behou moet word, nie ter goedkeuring nie, maar omdat hulle onlosmaaklik deel is van ons geskiedenis. Geskiedenis behoort nie ‘n kompetisie om gewildheid te wees nie: dit moet vir ons vertel waar ons vandaan kom – en moet ons in staat stel om uit die ervarings van die vorige geslagte te leer.
Die uitwerking van die Stellenbosch-debat strek verder as die behoud van name van voormalige Afrikaanse leiers. Vir die grootste deel van sy bestaan was die Universiteit van Stellenbosch ongetwyfeld ‘n Afrikaner-instelling. Dit was die spirituele en intellektuele hartland van die Afrikaners – waar geslagte van jong Afrikaners hul eie unieke tradisies en intellektuele identiteit ontwikkel het.
Nou, 21 jaar ná 1994, word die universiteit se oorblywende Afrikaner-erfenis deur baie beskou as ‘n bron van erge vernedering. Pogings word aangewend om dit so vinnig uit die weg te ruim as wat alumni-skenkers sal toelaat. Die doelwit is om so onopsigtelik as moontlik te streef na groter demografiese verteenwoordiging en die toenemend aanhoudende eise van die ANC-regering na te kom. Dit is waarom die name van Malan, Verwoerd en Vorster van universiteitsgeboue verwyder word.
Dit is egter nie net die kulturele identiteit van die Universiteit van Stellenbosch wat uitgedaag word nie. Studente van die UK dring daarop aan dat die standbeeld van Cecil Rhodes verwyder moet word weens sy onaanvaarbare verbintenis tot “kolonialisme”. Rhodes was ‘n uiters gebrekkige politikus – en daar bestaan geen twyfel dat hy ‘n kolonialis was nie. Hy het egter die grond geskenk waarop die UK gebou is – en is verantwoordelik vir die instelling van Rhodes-beurse. Goed of sleg, hy het ‘n enorme invloed op die geskiedenis van suider-Afrika gehad.
Die betogings teen Rhodes is egter ‘n salvo in ‘n groter stryd om die radikale transformasie van die universiteit en die vervanging van wat beskou word as sy oormatig wit, Eurosentriese etos.
Die UK se etos het egter nie net te make met die oorblyfsels van sy koloniale oorsprong nie: dit hou verband met die strewe na akademiese uitnemendheid – waarin ras glad nie ‘n rol speel nie. Dit het ten doel om die hoogste standaarde in ‘n omgewing van onbelemmerde akademiese vryheid te behaal. Hierdie waardes het die UK in staat gestel om die top universiteit in Afrika te word en een van die top 125 universiteite in die wêreld. Nou word dit weer eens gekonfronteer deur ‘n regering en betogers wat sy kultuur as onvanpas beskou en wat daarop aandring dat ras die hoofoorweging moet wees ten opsigte van die aanstelling van fakulteitslede, die toelating van studente en die bepaling van die universiteit se kultuur.
Dit is heeltemal verstaanbaar dat swart studente, wat nou ‘n 60% meerderheid van die UK uitmaak, wil hê dat die universiteit hul waardes en kultuur moet weerspieël. Het die wit Engelssprekende studente – wat altyd die meerderheid op die UK-kampus was – en die Afrikaanssprekende studente op Stellenbosch en Potchefstroom nie ook ‘n reg om in ‘n nie-rassige omgewing te studeer wat hul kulture, waardes en helde akkommodeer nie? Word daar van minderhede in ons multikulturele samelewing verwag om te voldoen aan die waardes en taal en kulturele voorkeure van die meerderheid, waar ook al hulle hul mag bevind?
Behoort daar nie ruimte te wees vir universiteite wat op nie-rassige grondslag voorsiening maak vir die spesiale kulturele en taalbehoeftes van minderhede nie – soos wat in ander multikulturele samelewings gedoen word nie? Is daar nie ‘n plek vir universiteite soos die UK wat, in hul strewe na akademiese uitnemendheid, op meriete in plaas van ras fokus nie?
Demografiese verteenwoordiging sal onvermydelik lei tot die afdwinging van wat die ANC na verwys as ‘Afrika-hegemonie’ op al ons universiteite. Dit sal die grondwetlike reg op onderwys in die taal van jou keuse ondermyn – en, omdat fakulteitslede aangestel sal word op grond van ras in plaas van meriete, sal dit heel moontlik ‘n baie negatiewe uitwerking op akademiese standaarde hê.
Ons Grondwet erken ons reg op akademiese vryheid; om ons kulture en tale te gebruik en om onderrig in die taal van ons keuse te ontvang. Ons moet aandring op hierdie regte met al die krag waarmee liberale universiteite akademiese vryheid en nie-rassigheid tydens apartheid verdedig het.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
Foto: DanieVDM / Foter / CC BY-NC-SA