Dit word gedenk ten einde ’n geleentheid te bied om ons verstandhouding oor die waardes van kulturele diversiteit te verdiep en om te leer om beter “saam met mekaar” te leef.
Dit moet ’n baie belangrike geleentheid vir Suid-Afrikaners wees, want ons toekomstige sukses sal afhang van die vermoë van ons diverse bevolking om in harmonie en welwillendheid saam te leef. Ons kom uit ’n verlede waar die regering diversiteit wou bestuur deur ons mense in afsonderlike kompartemente te verdeel. Die uitdaging in multikulturele samelewings regoor die wêreld is egter hoe mense uit verskillende kulturele, linguistiese en godsdienstige groepe saam kan leef.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet erken die diverse aard van ons samelewing ten volle en verklaar dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon – verenig in ons diversiteit. Die ryk kulturele diversiteit van Suid-Afrika word grondwetlik beskerm deur die Handves van Regte, wat Suid-Afrikaners se taalregte (artikels 6 en 29), kulturele regte (artikel 30) en die reg om aan die kulturele, godsdienstige en linguistiese gemeenskappe van hul keuse te behoort (artikel 31), erken.
Dit behoort ons as Suid-Afrikaners te bemagtig om ’n gemeenskap van individue te bou wat toegewyd is tot diversiteit en om kulturele polarisasie en negatiewe kulturele stereotipes te beveg. Deur hierdie en ander bepalings bied die Grondwet die nodige raamwerk van respek vir nie net die verskeie ander kulturele bates en belange in Suid-Afrika nie, maar vir hul beskerming en bevordering. Dit help ook om wrywing in groepe te voorkom wat in so baie samelewings plaasvind waar verskillende kulture in dieselfde georgrafiese area saamleef.
Suid-Afrika se unieke posisie is ’n werklik diverse samelewing wat ryk is aan kultuur – en die verstaanbare sensitiwiteit wat daarmee gepaardgaan – noodsaak ’n doeltreffende stelsel van die bestuur van diversiteitsbestuur, met respek vir die raamwerk wat deur die Grondwet daargestel word.
Diversiteitsbestuur verwys gewoonlik na optrede wat ingestel word om – by wyse van doelbewuste beleide en programme – groter inklusiwiteit van werknemers uit verskeie agtergronde in die formele en informele organisatoriese strukture in ’n spesifieke werkplek te skep, en het drie hoofeienskappe:
- Dit is vrywillig;
- Dit gebruik ’n breë definisie van diversiteit; en
- Dit het ten doel om tasbare voordele aan die maatskappy te bied.
Die bestuur van diversiteit is gewoonlik proaktief en het ten doel om ’n organisasie te stig waarin alle lede kan bydra en hulle hul volle potensiaal kan bereik. Die inwerkingstelling van diversiteit kan aan maatskappye ’n mededingende voordeel gee op gebiede soos die oplossing van probleme, die korporatiewe beeld en bemarking.
Alhoewel die konsep van diversiteitsbestuur gewoonlik aangeraak word binne die konteks van maatskappye en sakeondernemings om ’n vreedsame werkplek te skep met ’n atmosfeer wat kultuur akkommodeer (soos hier bo beskryf), is doeltreffende bestuur van diversiteit ook belangrik in ’n land soos Suid-Afrika.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet bied dié raamwerk en sit die grense vir doeltreffende en inklusiewe diversiteitsbestuur uiteen. Alhoewel dit die geval op papier mag wees, word indringende vrae steeds geopper:
- Waarom is daar steeds diskoers wat krenkend en aanstootlik is met betrekking tot ras, nie slegs op sosiale media-platforms nie, maar ook in die openbare en politieke ruimte regoor Suid-Afrika?
- Waarom is daar steeds so min waardering en respek onder Suid-Afrikaners vir die rykdom van kulturele, linguistiese en historiese erfenis van ander gemeenskappe?
- Waarom het die Kommissie vir die Bevordering van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Linguistiese Gemeenskappe so min gedoen om sy grondwetlike mandaat uit te voer om respek vir die regte van kulturele, godsdienstige en linguistiese gemeenskappe te bevorder?
- Waarom het die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) versuim om sy grondwetlike plig uit te voer om omstandighede vir die ontwikkeling en gebruik van al ons amptelike tale te bevorder en ontwikkel, en om respek vir ander tale wat in Suid-Afrika gebruik word, te bevorder?
Ons moet diversiteit beter bestuur, en dit begin eerstens met die politieke wil om dit te doen.
Toenemende druk moet geplaas word op die regering en die Parlement aangesien beide die Kommissie vir die Bevordering van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Linguistiese Gemeenskappe en PanSAT aan die Nasionale Vergadering verslag doen. Die versuim om enige werklike stappe te doen om die doeltreffendheid van hierdie twee liggame te verbeter, dui op ’n gebrek aan ernstige politieke toewyding tot die bevordering van respek vir kulturele en taaldiversiteit en vir die handhawing van harmonieuse verhoudings tussen ons verskillende gemeenskappe.
Dít het ’n negatiewe uitwerking op en hinder enige pogings om Suid-Afrika se diversiteit doeltreffend te bestuur.
Nietemin is dit moontlik nie voldoende om te sê dat diversiteit doeltreffend bestuur moet word nie – en spesifiek deur die regering nie.
Die verantwoordelikheid om Suid-Afrika se diversiteit te bevorder en bestuur val tweedens op alle Suid-Afrikaners. Suid-Afrikaners moet voortdurend in konstruktiewe gesprekvoering met mekaar – en die regering – tree oor hoe om Suid-Afrika se diversiteit doeltreffend te bevorder en bestuur.
Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit vir Dialoog en Ontwikkling in 2014 kan die ideale geleentheid wees om met mekaar te skakel oor ons diversiteit. Dit kan ’n geleentheid wees om diversiteit te verwelkom en bevorder, met die oog daarop om dit te ontwikkel op ’n wyse wat ooreenstem met die gees van gelykheid soos wat dit in ons Grondwet verskans word.
As ’n nasie moet ons waak teen die idee dat sommige kulturele, tradisies of erfenisse meer werd is as ander. Ons Grondwet verbied dit en ons moet onthou dat die uitwerking van sodanige verklarings die sosio-kulturele samesyn van ons nasie en die beginsel van gelykheid waarop dit gegrond is, ondermyn.
Op Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit vir Dialoog en Ontwikkeling moet ons almal probeer om meer te leer oor mekaar se kulture, geskiedenis, tale en waardes. Ons moet die kulturele diversiteit wat Suid-Afrika so ’n lewendige en interessante land maak, respekteer.
Deur adv Jacques du Preez, FW de Klerk Stigting