Suid-Afrika het in ooreenstemming hiermee dieselfde dag as die Nasionale Dag vir Persone met Gestremdhede aangewys. Die land het ook die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van Mense met Gestremdhede (CRPD) onderteken en bekragtig, wat die nasie verbind tot ’n internasionale standaard betreffende die bevordering en beskerming van die menseregte van alle persone met gestremdhede. Ander plaaslike instrumente soos die Afrika-handves oor Mense- en Volkeregte verbind voorts ook die land tot die daarstelling van spesiale beskermingsmaatreëls in ooreenstemming met die fisiese behoeftes van persone met gestremdhede.

Die Grondwet maak in artikel 9 voorsiening vir die gelyke beskerming en voordeel van die reg en die reg dat daar teen geen persoon gediskrimineer mag word nie. Artikel 9 bepaal ook dat die staat nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand mag diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.

Artikel 9(4) bepaal voorts dat geen persoon regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand op een of meer gronde, met inbegrip van gestremdheid, mag diskrimineer nie. Alhoewel daar geen omvattende wetgewing betreffende gestremdheid bestaan wat uitsluitlik aan gestremdheid of persone met gestremdhede aandag skenk nie, word daar egter oor verskeie ander wette beskik wat na mense met gestremdhede verwys of wat verband hou met aangeleenthede rakende gestremdhede. Die Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act sluit byvoorbeeld spesifiek diskriminasie teen mense met gestremdhede in, en so ook die Wet op Arbeidsverhoudinge wat die reg op regverdige arbeidspraktyke reguleer en onregverdige diskriminasie op arbitrêre gronde, soos gestremdheid, verbied. Die Mental Health Care Act reguleer die wyse waarop eiendom van mense met geestelike siektes en persone met ernstige of diepgaande intellektuele gestremdhede deur ’n hof hanteer mag word. Beleide soos die Nasionale Strategie oor Gestremdheid bied leiding betreffende die oorweging van gestremdhede in beleids- en wetgewende hervorming.

Gevolglik is die bestaan van sodanige wette en beleide ’n aanduiding van ’n nasie wat grootliks bewus is daarvan dat diskriminasie teen enige persoon op grond van gestremdheid ’n skending is van die inherente waardigheid en waarde van die persoon. Die begrip “diskriminasie teen gestremdes” is egter ’n werklike konsep wat dikwels in die diskoers betreffende die regte van gestremdes geïgnoreer word, wat in wese diskrimineer teen mense met gestremdhede ten gunste van mense wat nie gestremd is nie.

Die CRPD erken selfs in sy voorrede dat gestremdheid ’n ontwikkelende konsep is en dat gestremdheid spruit uit die skakeling tussen persone met gestremdhede en wat hindernisse betreffende geestesgesteldheid en die omgewing ervaar, wat hul volle en doeltreffende deelname in die samelewing op gelyke grondslag met ander belemmer. Samelewings waarin daar teen gestremdes gediskrimineer word neig om persone wat nie gestremd is nie as die standaard daar te stel van wat dit is om ’n ‘normale lewe’ te lei. Die gevolg is dat openbare en private ruimtes en dienste gebou en gelewer word om mense te dien wat ‘normale lewens’ lei, en wat dus persone met gestremdhede inherent uitsluit.

Die beboude omgewing bied byvoorbeeld hindernisse vir gestremde mense. Terwyl persone sonder gestremdhede die vryheid van beweging as ’n reg aanvaar, is toegang tot vervoer, maklike beweging op strate en deur geboue al die komponente wat nodig is vir ’n toeganklike omgewing, wat nie altyd die geval is vir persone in rolstoele nie. Daar kan van tyd tot tyd geldige redes wees vir die beperking van toegang tot sekere omgewings, soos boupersele, maar die vlak van toegang waarna hier verwys word sluit dikwels onbewustelik baie ander persone uit. Selfs hoë toonbanke en rakke in winkels is ’n hindernis om toegang tot produkte en dienste te verkry. Dit is ook die geval met die gebrek aan inligting in braille of hoorbare aankondigings vir gesig- en gehoorgestremde persone.

Alhoewel vordering gemaak word wat geneeskunde betref, was dit lank die gebruik om gestremde persone as die probleem te beskou, en om van hulle te verwag om by die wêreld aan te pas soos dit is – of om andersins geïnstitusionaliseer te word. Hierdie verouderde mediese opinies het gestremdheid as ’n probleem gesien wat gevrees moes word en waarop neergesien moes word, met gestremde persone wat baie min outonomie oor hul eie lewens gehad het. Die media kan ook negatiewe sienings oor gestremdheid versterk – wat slegs bydra tot die idee dat gestremde mense op een of ander manier tragies is en bejammer moet word.

’n Samelewing wat homself beskou deur die lens van ’n niegestremde kweek isolasie en paternalisme onder gestremdes, terwyl ’n inklusiewe samelewing interafhanklikheid skep tussen dié wat nie gestremd is nie en dié wat gestremd is. Ter heroorweging van die samelewing se onbewustelike diskriminasie teen gestremdes kan iets so eenvoudig soos alledaagse taalgebruik ’n goeie beginpunt wees. Die woordeskat van iemand wat teen gestremdes diskrimineer verwys na woorde of frases wat bewustelik of onbewustelik mense met gestremdhede teiken, soos ‘mal’, ‘simpel’ of ‘vertraag’. Alhoewel dit nie na ernstige oordrywings klink nie, kan dit beledigend wees vir individue met werklike intellektuele of liggaamlike gestremdhede.

Die wette en beleide dui ten minste op ’n politieke wil vir mense met gestremdhede om die volle spektrum van burgerlike, politieke, ekonomiese, maatskaplike en ontwikkelingsregte te kan geniet. Hierdie politieke wil alleenlik is egter onvoldoende. Die breër samelewing moet streef na ’n inklusiewe benadering sonder hindernisse waarin alle persone hul volle potensiaal kan bereik. 

Deur Phephelaphi Dube, Regsbeampte: Sentrum vir Grondwetlike Regte

Vir kommentaar oor verklaring:

Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte
E-pos: pdube@cfcr.org.za
 Telefoon: 27 21 (0) 930 3622

Navrae:

Megan Dick: Kommunikasiebeampte, FW de Klerk Stigting
E-pos: megan@fwdeklerk.org
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622

[Foto:UN]

Leave a Reply

Your email address will not be published.