Regter Yacoob het in die uitspraak van die Konstitusionele Hof in Ramakatsi and Others v Magashule and Others in 2012 geskryf: “Ek sou graag wou sê dat die reg om deel te neem aan die aktiwiteite van ‘n politieke party aan elke politieke party die reg gee om wetlik en in ooreenstemming met sy eie grondwet op te tree. Dit beteken dat ons Grondwet elke lid van elke politieke party die reg gee om nakoming van die grondwet van ‘n politieke party deur die leierskap van daardie party te bepaal.” Die aanloop tot die verkiesings is gekenmerk deur takke in KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Noordwes wat hul provinsiale verkiesingskonferensies suksesvol uitgedaag het. Dit beteken dat sodanige provinsies – en spesifiek die provinsiale uitvoerende komitees – nie wettiglik aan die Nasionale Konferensie kon deelneem nie. Hul takafvaardigings kon in hul eie hoedanighede deelneem. Die ware bekommernis het ontstaan oor die verifikasie van die identiteite van die individuele deelnemers, ‘n aangeleentheid waaraan die party ernstig aandag geskenk het met die verifikasieproses wat oornag plaasgevind het. Alhoewel daar ‘n paar verskille was, was dit nie genoeg om die hele verifikasieproses in twyfel te trek nie. Geen faksie het tot dusver die uitslag van die verkiesing van die top ses uitgedaag nie. Ten tyde van die skrywe van hierdie artikel is die posisie van die sekretaris-generaal onder die soeklig geplaas, met 68 stemme wat na bewering nie geteken nie. Dit kan moontlik daartoe lei dat Ace Magashule uit hierdie belangrike posisie verwyder word, ten gunste van Senzo Mchunu van KwaZulu-Natal.

In die tweede plek moet die nuwe ANC-president, Cyril Ramaphosa, gelukgewens word met sy verkiesing. Hy het sy veldtog oor die waardes van die Grondwet gevoer, en was duidelik wat sy teenstand van staatskaping en korrupsie betref. Hy het ook inklusiewe ekonomiese groei en die aanpak van ongelykhede beklemtoon. Ramaphosa is ‘n toegewyde konstitusionis, wat die korrekte boodskap vir burgers, markte en die talle belanghebbendes is wat ‘n toekoms verlang met die waardes en beginsels van die Grondwet.

Soos elke skaakspeler sal getuig, speel jy die spel vir die voordeel: wanneer jy dit het, handhaaf jy dit, en as jy dit nie het nie, gryp jy dit aan. Dit is wyse raad wat Ramaphosa dalk ter harte moet neem met ‘n top ses wat gelykop verdeel is tussen sy ondersteuners en President Jacob Zuma se politieke vennote. Hierdie ingewikkelde uitslag sal sy taak moeiliker maak.

Alhoewel daar baie advies sal wees vir die nuwe president van die ANC, is die sleutel tot Ramaphosa se opgang – in die party en meer belangrik, vir die land – vir hom om die koning (Zuma) dop te hou en sy aandag op moontlike ontsnappingsroetes te fokus. Wat Zuma verteenwoordig en erodeer het is die etiese grondslae van regering en regeringsbestuur – en die ekonomie in die proses gyselaar te neem en ‘n wye begunstigingsnetwerk daar te stel wat, alhoewel dit moeilik is om dit ongedaan te maak, die grootste bedreiging vir SA se demokratiese projek inhou.

Die nuwe ANC-president moet, soos ‘n skerp skaakspeler, verseker dat elkeen van sy bewegings ‘n doel het. Hy moet dringend optree om Zuma en sy medewerkers aanspreeklik te hou. Dit sal die sterkste boodskap aan die burgers van die land stuur – dat die ergste oortredings van die Uitvoerende Bestuur met onmiddellike effek beperk sal word. Die land is desperaat vir ‘n leier wat verstaan en ‘n administrasie sal opbou wat gebaseer is op etiese leierskap en ‘n genuanseerde begrip van moderne politieke ekonomieë. Albei het die afgelope 10 jaar dodelike terugslae beleef, wat Suid-Afrikaners arm en meer sinies gemaak het.

Dit alles gesê, Ramaphosa, die ANC en die land gaan oor die volgende vyf jaar enorme uitdagings in die gesig staar. Die eerste spruit uit die eerste reël van enige organisasie, naamlik selfbehoud, of in Nasrec-taal “eenheid bo alles”, met die gepaardgaande kompromie wat tot ‘n verdeelde top ses gelei het. Ramaphosa sal voortdurend moet dink aan die eenheid van die ANC en die versoening van die twee hooffaksies. Elke top ses-vergadering sal ‘n konstante herinnering wees aan hierdie organisatoriese noodsaaklikheid, veral as Ramaphosa wil hê die ANC moet goed doen in die algemene verkiesing van 2019. Hierdie noodsaaklikheid sal egter in teenstand wees met ‘n ander noodsaaklikheid en die grondslag van Ramaphosa se eie verkiesingsveldtog: dié van die bekamping van korrupsie en optrede teen staatskaping. Hy is op rekord waar hy gesê het dat leefstyloudits vrywillig deur alle senior staatsamptenare en die ANC gedoen moet word. Sal hy in staat wees om hierdie en ander maatreëls in te stel? Sy gereelde top ses-vergaderings sal weer ‘n voortdurende herinnering van hierdie strewe wees, met ten minste twee van die ses wat nie skoon rekords in hierdie verband het nie.

Ramaphosa sal al sy aansienlike onderhandelingsvaardighede nodig hê om die probleem van ‘n keuse of die balans tussen eenheid en skoon bestuur te navigeer. Die feit dat hy ‘n beslissende stem in vergaderings van die top ses het, sal sy lewe net ‘n bietjie makliker maak.

By hierdie voortgesette probleem kan nog twee gevoeg word. Die eerste is die hofbevel wat Ramaphosa beveel om ‘n nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) aan te stel nadat Zuma se afdanking van die vorige NDOV sy aanstelling van die huidige NDOV as onreëlmatig bevind is. Alhoewel Zuma en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) appèl aangeteken het, sal dit nie lank wees voor die appèlaansoek aangehoor word nie. Ramaphosa sal dus heel moontlik voor die keuse te staan kom van die aanstelling van iemand wat uiteindelik die President van die land (en sy baas vir tyd en wyl) sal aankla. Die tweede probleem, alhoewel dit nie direk met Ramaphosa verband hou nie, maar een wat sy amp as president van die ANC kan bemoeilik, is die hofbevel dat Zuma die kommissie van ondersoek na staatskaping moet aanstel voor die middel van Januarie 2018. Hierdie proses sal die water tussen die president van die ANC en die President van die land selfs verder vertroebel.

Die finale samestelling van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) sal eers bekend wees nadat hierdie artikel gepubliseer is. Op grond van wat gebeur het met die verkiesing van die top ses, is daar geen rede om te dink dat dit anders sou wees nie – ‘n min of meer 50-50 tussen die Ramaphosa-kamp en die Zuma-kamp. Dit sal Ramaphosa met baie min beweegruimte laat. En dit voorspel niks goed vir enige planne wat Ramaphosa moontlik gehad het vir ‘n vroeë herontplooiing van Zuma na Nkandla nie, en nog minder om hom te vervolg. Die Ramaphosa-kamp kan dit dalk weerstaan om Zuma ‘n soort amnestie te gee, maar ‘n aktiewe vervolging met ‘n verdeelde NUK lyk onwaarskynlik. Indien die NUK egter kan saamstem met ‘n mosie van vertroue in die Parlement en die ANC-LP’s opdrag gee om vir so ‘n mosie te stem ingevolge artikel 102 (2) van die Grondwet, sal die President en die ander lede van die Kabinet en enige adjunkministers moet bedank.

Dink maar aan die nuwe president van die ANC wanneer jy die organisasie se program tot met die opening van die Parlement in Februarie 2018 oorweeg. Daar sal ‘n eerste NUK-vergadering vroeg in Januarie wees, die verklaring deur die president van die ANC op 8 (moontlik op 13 Januarie in die Oos-Kaap), ‘n hoë vlak afvaardiging na die Wêreld-ekonomiese forum aan die einde van Januarie en dan die Staatsrede deur Zuma in Februarie. Voeg hierby die heropening van die universiteite aan die einde van Januarie, met meeste studente wat aan die begin van Februarie arriveer. Gegewe die verwagtinge wat deur Zuma se skok-aankondiging oor “gratis hoër onderrig” by Nasrec geskep is, kan ‘n mens ‘n mate van onrus op ons kampusse verwag. Wat is die kans dat Zuma sy Adjunk sal vra om dit te hanteer …

Dit is duidelik dat die kompromie en eenheid wat deur die Nasrec-verkiesing van die ANC se top ses afgedwing is, nie maklik in die komende jare bestuur sal kan word nie. Dit is waarskynlik nie goed vir die land, die ekonomie en skoon regering nie. Benewens sy onderhandelingsvaardighede is Ramaphosa ‘n uitstekende strateeg, wat altyd die groter prentjie en die toekoms sien. Hy is ‘n persoon wat, as hy sy doelwitte gestel het, hulle meestal bereik. Hy sal kan reken op die ervaring van voorsitter Gwede Mantashe, wat in staat sal wees om te werk aan die eenheid en versoening binne die ANC.

Uit openbare reaksie in die algemeen is dit duidelik dat daar ‘n groot mate van welwillendheid – selfs buite die ANC – na Ramaphosa is. Baie Suid-Afrikaners van alle vlakke van die lewe is verenig in hul wens dat Ramaphosa sukses behaal. Hierdie algemene droom vir ‘n vreedsame en welvarende land moet die groot verenigende faktor bly. Hy moet in sy verstaanbare strewe om eenheid te handhaaf en versoening binne die ANC behaal, nie hierdie welwillendheid verwoes deur voor die rassistiese politiek van sy teenstanders binne en buite die ANC te buig nie. Dit is maatskaplike kapitaal wat hy later in sy loopbaan as president van die land sal nodig kry.

Die “herbou” van Suid-Afrika moet met haas aangepak word en moet onderskryf word deur die woorde van Albert Einstein, “ons kan nie ons probleme oplos met dieselfde denkwyse wat ons gehad het toe ons dit geskep het nie”. Dit wys inderdaad daarop dat dit “jou skuid is, mnr President…”

Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
Theuns Eloff | Zohra Dawood | Phephelaphi Dube
19 Desember 2017

Foto: www.moneyweb.co.za

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.