Daar sal natuurlik geen vieringe wees nie, want bykans niemand wil enige aspek van ons ‘koloniale’ verlede vier nie. Die oorheersende benadering is die Suid-Afrikaanse weergawe van Malcolm X se bekende opmerking, “[o]ns voorouers was nie pelgrims nie. Hulle het nie hul voete op Plymouth Rock neergesit nie. Plymouth Rock is op hulle neergesit.”
Vir baie swart Suid-Afrikaners word 6 April beskou as die aanvang van wat die ANC noem “die nasionale ergenis wat voortspruit uit koloniale verhoudinge.” Hulle beskou dit as die aanvang van swart onteiening. Die ANC se konsepbeleid oor die Onteieningswetsontwerp in 2007 het begin met die volgende aanhaling: “In April 1660, na afloop van die oorlog, is hy (Autshumato – of Harry die Strandloper) teruggebring vir vredesonderhandelings. Gedurende daardie onderhandelings het Van Riebeeck aan Autshumato gesê dat daar nie genoeg weivelde was vir die beeste van beide die kolonie en die Khoi-Khoi nie. Autshmato het toe aan Van Riebeeck gevra: ‘indien die land te klein is, wie het die groter reg, die ware eienaar of die indringer?'”
Ons daaropvolgende geskiedenis is diep in die gesamentlike bewustheid van baie swart Suid-Afrikaners ingeëts. Hulle onthou die nege Byl-oorloë wat met desperate bitterheid gedurende die 19de eeu tussen die Xhosa en die Britte plaasgevind het. Hulle onthou die Zulu-oorlog en die oorwinning oor koning Cetshwayo tydens die slag van Ulundi in 1879. Dan onthou hulle ook die Wet op Grond van 1913 en 80 jaar van ontneming en onderwerping wat gelei het tot 46 jaar van apartheid en die Nasionale Party-regering.
Dít is intense herinneringe wat brand in die hart van nageslag na nageslag van swart Suid-Afrikaners. Dit is aan die kern van die ANC se ideologie betreffende die Nasionale Demokratiese Revolusie. Die NDR se doelwit is “… die oplossing van die antagonistiese teenstrydighede tussen die onderdrukte meerderheid en hul onderdrukkers; sowel as die oplossing van die nasionale ergenis wat spruit uit die koloniale verhoudinge.”
Die uitwissing van waarna die ANC verwys as “eiendomsverhoudinge onder apartheid” is aan die kern van die NDR se program ten opsigte van nasionale bevryding. Volgens die ANC se Strategie- en Taktiekdokumente “vereis dit dat eienaarskap en beheer van welvaart, met inbegrip van grond; billikheid en regstellende aksie wat die daarstelling van vaardighede betref en toegang tot posisies in bestuur bevry word van die uitwerking van ras.”
Die proses wat op 6 April 1652 begin het is dus steeds ’n belangrike faktor wat ANC-beleid vandag betref. Dit vorm die basis van die ANC se beleide oor grondhervoming; regstellende aksie, kaderontplooiïng; BSEB en demografiese verteenwoordiging.
Hierdie beleide volg ’n toenemend aggressiewe en verdelende benadering wat ras betref. Soos wat president Zuma op 20 Januarie gewaarsku het, is die ANC voornenems om die inwerkingstelling van regstellende aksiebeleide te verskerp ten einde versoening en maatskaplike samesyn in ons land te verdiep. Hy het gesê dat die land na afloop van die verkiesings ’n nuwe radikale fase sal betree waar hulle sosio-ekonomiese transformasiebeleide en -programme in werking sal stel wat armoede, werkloosheid en ongelykheid op betekenisvolle wyse sal aanpak. Hy het bygevoeg dat “ons politieke vryheid bereik het en dat ons nou ekonomiese vryheid moet behaal en verseker dat die eienaarskap, bestuur en beheer van die ekonomie verder van die uitwerking van ras bevry word.”
Dit is alles egter gebaseer op ’n eensydige en foutiewe uitleg van die geskiedenis. Die feit is dat 6 April 1652 – goed of sleg – die begin aangedui het van Suid-Afrika se integrasie by die breër wêreld. Dit het die ontwikkelingsproses begin wat ons die rykste en mees gevorderde land op die vasteland gemaak het. Die rol van die Britte gedurende die verowering van die drie dominate mense op die sub-vasteland – die Xhosas, die Zulus en die Afrikaners – het die weg gebaan vir die vereniging van die noemenswaardige gebiedsdele van suider-Afrika. Sonder hierdie deel van ons geskiedenis sou daar geen Suid-Afrika gewees het soos ons dit vandag ken nie. Sonder die ontdekking van diamante en goud gedurende die 19de eeu, asook ons industriële ontwikkeling in die 20ste eeu, sou Suid-Afrika ’n land van veeboere gewees het.
Ons grootste prestasie as mense was dat ons vir ’n paar jaar aan die begin van die 1990s in staat was om ons diep verdeelde geskiedenis te oorbrug – ons was in staat om uit te reik na mekaar as Suid-Afrikaners en om ons merkwaardige, nie-rassige demokrasie te stig. Die voorrede van ons Grondwet het nie net op ons ’n beroep gedoen om diegene te eer wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het nie, maar ook om diegene te respekteer wat bygedra het tot die bou en ontwikkeling van ons land.
Nou, 20 jaar later, word die geskiedenis weer gebruik om ons te verdeel. Soos George Orwell dit stel: “Wie die hede beheer, beheer die verlede. Wie die verlede beheer, beheer die toekoms.” Ons Suid-Afrikaners moenie beheer van ons geskiedenis aan enige iemand afstaan nie. Dit behoort aan ons almal – en moet deur ons almal gevier word – met inbegrip van 6 April. Nie omdat ons die betrokke gebeure goedkeur of afkeur nie – maar omdat dit ons gemaak het wie ons is.
Deur Dave Steward: uitvoerende direkteur, FW de Klerk Stigting
Foto: RobW_ / Foter / Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.0 Generic (CC BY-NC-ND 2.0)