Die boodskap van die Uitvoerende Direkteur vir hierdie jaar se herdenking klink soos dié van ‘n Suid-Afrikaanse politikus: Verenig teen korrupsie kan ons ‘n kultuur van wettigheid bevorder, help om verantwoordelike en deursigtige instellings te bou en mense oral in staat te stel om toegang tot geleenthede te verkry en gesonde produktiewe lewens te lei.

Vir Suid-Afrikaners wat nog steier onder die uitwerking van die Zupta-regime, is korrupsie nie net ‘n manier waarmee die een of ander VOD in die verafgeleë ‘derde wêreld’ onderdruk word nie. Dit is nie ‘n teoretiese konsep in ‘n ander land of ‘n ander buurt nie. Vir Suid-Afrikaners is dit met ons, tussen ons, deel van ons daaglikse lewens. Ons lees daaroor in die nuus, ons hoor feitlik daagliks daarvan in die getuienisse voor die Zondo-kommissie en ons ervaar die gevolge daarvan in die beurtkrag wat ons elke dag in die gesig staar.

Terwyl dit waar is dat korrupsie nie beperk is tot enige spesifieke sektor in die samelewing nie, word dit in Suid-Afrika erken dat ons met wydverspreide korrupsie in ons staatsinstellings en staatsdiens te make het. Ons weet ook dat korrupsie altyd twee partye het, en dat dit nie net staatsamptenare is wat aan korrupsie skuldig is nie. Die Steinhoff-skandaal en die ekonomiese uitwerking daarvan op so baie Suid-Afrikaners het dit vroeg reeds baie duidelik gemaak. Ten spyte hiervan is die feit dat korrupsie en omkopery in sommige nasionale departemente, provinsies en munisipaliteite inderdaad endemies is, wat Suid-Afrika anders van baie ander lande maak.

Korrupsie is nie altyd ‘n spesifieke negatiewe daad van oneerlikheid nie. Dit is diksels die gebrek aan optrede, regtens gesproke, ‘n versuim. Dit is om jou blind te hou vir die feit dat die nywerheidsmaatskappy afvalwater in ‘n rivier pomp. In die Suid-Afrikaanse konteks, en spesifiek in die geval van die Vaalrivier, dit is die gebrek aan stelsels, instandhouding van masjinerie en swak bestuur by ‘n plaaslike owerheid wat toelaat dat riool in ‘n rivier loop waarvan miljoene Suid-Afrikaners afhanklik is vir drinkwater. Die gebrek aan toepaslike optrede, onvermoë en wanbestuur is óf vorms van korrupsie, óf lei tot korrupsie.

‘n Organisasie soos Corruption Watch het uitstekende werk gedoen nie net om bewusmaking onder Suid-Afrikaners te skep van korrupsie nie, maar het ook veldtogte bekendgestel om baie spesifieke gevalle van korrupsie oor die afgelope paar jaar te beveg. Suid-Afrika het egter baie meer daarvan nodig indien ons suksesvol gaan wees om van die vlaag van korrupsie in ons land ontslae te raak. Die Ramaphosa-administrasie het ‘n reuse taak om korrupsie in staatsinstellings en die burgerlike samelewing uit te roei – in sy aktiewe en passiewe vorms. Maar Suid-Afrikaners moet, as individue, by onsself begin deur onsself te vra: Moedig ek (selfs al is dit nie doelbewus nie) korrupsie in die werkplek, op die pad of wat my persoonlike finansies aan, of laat ek dit toe? Moet ek nie voorbeelde van korrupsie wat ek ervaar, vreesloos uitwys nie?

Op die ou einde is die teenmiddel vir korrupsie om op ‘n eerlike en deursigtige wyse te leef, werk en op te tree. Dit is die beste manier om enige geveg teen korrupsie te begin.

Deur Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
8 Desember 2018

Leave a Reply

Your email address will not be published.