Dit herinner ons ook aan die werk wat nog gedoen moet word om ons moedertale regoor die wêreld te bewaar en bevorder – met spesiale aandag wat aan minderheidstale geskenk moet word.
Die linguistiese pluralisme – en meer spesifiek die status van minderheidstale in nasiestate – is ’n fundamentele en ingewikkelde politiese en maatskaplike aangeleentheid. Verskeie pogings is in die verlede gemaak om kulturele en linguistiese eenvormigheid op multikulturele lande af te dwing – wat dikwels gelei het tot die onderdrukking van linguistiese en kulturele diversiteit. Voorbeelde sluit in die Koerde in Turkye, die Tamils in Sri Lanka en die huidige situasie van etniese Russe in Oekraïne.
Die erkenning van veeltaligheid in nasionale grondwette is ongetwyfeld ’n noodsaaklike beginpunt vir die bewaring van minderheidstale. Die Grondwet van Suid-Afrika erken duidelik taaldiversiteit binne sy grondgebied. Voorts verskans die Grondwet verskeie regte wat met tale verband hou, soos die reg om onderrig in die taal van jou keuse in openbare onderwysinstellings te ontvang (artikel 29) en die reg om die taal van jou keuse te gebruik en die kulturele lewe van jou keuse na te volg (artikel 30). Die Grondwet waarborg Suid-Afrikaners individuele vryheid om hul eie tale te gebruik, vry van linguistiese diskriminasie en die waarborg dat hul tale billik behandel sal word en gelykheid van aansien sal geniet.
Suid-Afrika – met 11 amptelike tale – staar ’n groot uitdaging in die gesig om die taalregte van sy hele bevolking te verseker. Engels word in toenemende mate die hooftaal van onderrig, tot nadeel van Afrika-tale en Afrikaans. Die instelling van Engels as onderrigtaal in primêre onderwys is ’n ernstige bedreiging vir die opvoedkundige ontwikkeling en kulturele diversiteit van kinders wat nie Engelssprekend is nie.
In hierdie konteks en as een van die belangrikste pilare van menslike ontwikkeling het onderwysinstellings ’n belangrike rol om te speel. Die opvoeding van kinders moet – sover as moontlik – in hul moedertaal geskied. Volgens UNESCO se Riglyne oor Taal en Onderwys wat in 2003 gepubliseer is, is moedertaalonderrig noodsaaklik vir aanvanklike onderrig en geletterdheid en moet vir so lank as moontlik wat onderwys betref, volgehou word. Deur kinders op te voed in dieselfde taal as wat hulle by die huis praat vergemaklik die leerproses en bied ’n goeie grondslag om internasionale tale – soos Engels – makliker in hoërskool aan te leer. Dit verbeter ook die vooruitsigte wat maatskaplike en professionele integrasie betref.
In te veel skole kies skoolbeheerliggame – wat verantwoordelik is vir die besluit betreffende die skool se taalbeleid – Engels as onderrigtaal – omdat hulle verkeerdelik glo dat dit die opvoedkundige vooruitsigte van hul kinders verbeter. Dit lei dikwels tot situasies waar kinders in Engels geleer word – ’n taal wat hulle nie verstaan nie – deur onderwysers wie se eerste taal nie Engels is nie. Ervaring wys daarop dat kinders Engels makliker aanleer indien hul oor ’n goeie grondslag met betrekking tot hul eie moedertale beskik.
Voorts moet ons ook onthou dat die verbetering van onderwys en die bewaring van veeltaligheid ’n gedeelde verantwoordelikheid is. Aan die een kant het die staat die duidelike plig om linguistiese en kulturele diversiteit te bewaar en ontwikkel in ooreenstemming met die Grondwet, wat bepaal dat “die staat praktiese en daadwerklike maatreëls [moet] tref om die status van die tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.” (artikel 6(2)). Aan die ander kant moet ouers ’n aktiewe rol speel om hul huistale te bevorder en om te verseker dat hul kinders die reg op onderwys in die taal van hul keuse geniet. Sonder die aktiewe deelname van ouers en gemeenskappe, sal Suid-Afrika se ryke verskeidenheid tale onvermydelik uitsterf.
Doeltreffende onderwysbeleide – met inbegrip van spesifieke opleiding vir die onderrig van minderheidstale en voldoende onderrig- en leermateriaal – saam met die verbeterde inwerkingstelling van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), kan en moet ’n belangrike rol speel ten einde onderwys van hoë gehalte in minderheidstale te verseker. Verskeie deelnemers van die burgerlike samelewing en in die politiek het egter daarop gewys dat PanSAT (wat deur die Grondwet ingestel is om, onder andere, omstandighede vir die ontwikkeling en gebruik van alle amptelike tale te bevorder en daar te stel) se optrede onvoldoende is. Daar is ook gewys op sekere gebiede wat na bewering wanfunksioneer, soos onvoldoende begrotingsbestuur, interne probleme en ’n gebrek aan doeltreffende maatreëls. Dit is in elke geval onvermydelik dat besluite en maatreëls wat vandag geneem word, die plek wat elke taal in Suid-Afrika sal beklee – asook hoe dit sal bydra tot die kulturele diversiteit en ’n meer gelyke samelewing – op die medium en lang termyn sal definieer.
Die diverse Suid-Afrikaanse tale weerspieël ons verskeie identiteite en verskans een van ons rykste erfenisse. Hulle is diep gewortel in ons diverse verlede – maar hoe hulle ontwikkel en bewaar sal word sal die identiteit van toekomstige nageslagte van Suid-Afrikaners bepaal.
Ana Rio, intern: FW de Klerk Stigting