Hierdie jaar word daar tydens die vieringe herhalend gefokus op die belangrikheid van die begrip dat nie alle gestremdhede sigbaar is nie. Daar was altyd ‘n beweging om te erken dat gestremdheid nie onvermoë is nie, en dat diskriminasie teen mense met gestremdhede die fokus van bewusmakingsveldtogte moet wees, eerder as die feit oor hoe moeilik dit vir mense met gestremdhede is om take wat as “normaal” beskou word, uit te voer. Nog ‘n beroep is dat die stigma wat met gestremdhede gepaardgaan, uitgewis word. Regoor die wêreld sal jy, wanneer jy aan mense met gestremdhede dink, dink aan ‘n sigbare gebrek, veral indien jy beperkte interaksie met persone met gestremdhede gehad het. Hierdie sigbare gebreke het nou die standaard geraak waarteen die idee van gestremdheid geëvalueer word. ‘n Mens hoef net te kyk na die alledaagse uitbeelding van gestremdheid om dit te verstaan. In openbare plekke word gestremdheid dikwels uitgebeeld deur ‘n rolstoel, en dit beteken dat die betrokke omgewing rolstoel-vriendelik is. Dit ignoreer heeltemal al die ander maniere waarop gestremdheid hom voordoen, asook al die vele behoeftes wat toeganklikheid betref. Dit beteken dat daar nog miljoene mense is aan wie se toeganklikheidsbehoeftes nie in openbare (en private) ruimtes voldoen word nie.

In die gees van inklusiwiteit is dit belangrik om daardie gestremdhede te beklemtoon wat nie gesien kan word nie. Dit maak nie saak of hierdie toestande amptelik erken word of nie. Wat belangrik is, nes met die interaksie van die samelewing met sigbare gestremdheid,  is om sosiale integrasie en die gelyke behandeling van mense wat aan geestesongesteldhede ly, te fasiliteer. Dit is belangrik om te erken dat daar geestesongesteldhede is wat nie as gestremdhede erken word nie, aangesien meer gewig geplaas word dié wat verlammend en terminaal van aard is. Daardie geestesongesteldhede wat ook fisiese eienskappe het, kry meer aandag in die samelewing as ander. 

Hier by die huis is die lot van geestesongestelde mense permanent in ons nuusopskrifte, met die Life Esidimeni-saga wat voor ons afspeel. Kortliks is 143 geestesongestelde pasiënte dood tussen 23 Maart 2016 en 19 Desember 2016. Die pasiënte is dood toe die departement van gesondheid in Gauteng hulle van die private Life Esidimen-instellings na ongeregistreerde nie-regeringsorganisasies verskuif het. Die Ombudsman van gesondheid het daarop gewys dat hierdie pasiënte dood is onder onwettige omstandighede wat ook hul waardigheid geskend het.

Die volgehoue pogings van die verantwoordelike amptenare om aanspreeklikheid te vermy, is ‘n aanduiding van die algemene houding van die samelewing wanneer dit by geestesongesteldheid en ander vorms van gestremdheid kom. Die neiging van die samelewing om die mees kwesbare van sy lede te mishandel en misken is deur die Life Esidimeni-tragedie geïllustreer. Die arbitrasieverhoor wat tans aan die gang is en onder voorsitterskap van Adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke is, het die gruwels wat gepaardgaan daarmee om ‘n geestesongestelde pasiënt in die land te wees, aan die lig gebring. Hierdie poging om feite in te win moenie net gebruik word ten einde afsluiting vir die vriende en families te gee vir diegene wat dood is nie, maar ook as ‘n grondslag vir strafregtelike aanspreeklikheid wat die Departement van Gesondheid en sy beamptes betref. 

Die Life Esidimeni-verhore erken die reg op gelyke behandeling van geestesongestelde persone. Die reg om met waardigheid en met die nodige mediese aandag in mediese sentrums behandel te word, wat behoorlik toegerus en beman is. Dit kan beskou word as ‘n positiewe stap wat bewusmaking oor geestesgesondheid in alle sfere van die lewe as ‘n regmatige gesondheidsprobleem betref. 

Namate die wêreld verander is dit nodig om weer ondersoek in te stel na wie ‘n persoon mey ‘n gestremdheid is, en om beskerming en bemagtiging gebaseer om gronwetlike waardes van menswaardigheid en gelykheid te bied. Die Grondwet stel immers ‘n inklusiewe sameleweing in die vooruitsig waarin alle Suid-Afrikaners ‘n verbeterde lewensgehalte kan geniet en vry is om hul volle potensiaal te bereik. 

Deur Rebecca Sibanda: Regsassistent, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.