Die ideaal is dat ‘n inklusiewe samelewing persone met gestremdhede erken en waardeer as gelyke deelnemers in alle sfere van die lewe, met inbegrip van toegang tot geboue. Die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede (die Konvensie), wat deur Suid-Afrika bekragtig is, definieer gestremdheid as ‘n ontwikkelende konsep en voorts dat gestremdheid die gevolg is van die interaksie tussen persone met gestremdhede en hindernisse in die omgewing wat hulle verhoed om op gelyke grondslag met ander ten volle aan die samelewing deel te neem.

Die Konvensie erken, in sy aanhef en algemene beginsels, die belangrikheid van toegang tot die fisiese, maatskaplike, ekonomiese en kulturele omgewing, tot gesondheid en onderwys en op inligting en kommunikasie, ten einde persone met gestremdhede in staat te stel om alle menseregte en fundamentele vryhede ten volle te geniet. Die Konvensie spreek voorts ook die fundamentele kwessie van toegang aan deur die verklaar dat “ledestate struikelblokke en hindernisse moet identifiseer en uitwis en verseker dat mense met gestremdhede toegang tot hul omgewing, vervoer, openbare fasiliteite en dienste kan verkry”.

Die Aanhef van die Grondwet verbind Suid-Afrika tot die verbetering van die lewensgehalte van alle burgers en om almal se potensiaal te ontsluit. Die Grondwet verklaar voorts dat die grondliggende bepalings van ons samelewing “menswaardigheid, die behaling van gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede is.” Die reg op gelykheid sluit voorts gestremdheid in as een van die gronde waarop die Staat, of enige individu, nie mag diskrimineer nie. Die Witskrif op ‘n Geïntegreerde Nasionale Strategie betreffende Gestremdheid (INDS) beweeg weg van die ou konsep waarvolgens gestremdheid deur ‘n mediese of welsynsoogpunt beskou word. Hierdie ou konsep het mense met gestremdhede beskou as persone wat onproduktief is en sorg benodig. Hierteenoor is die INDS ‘n maatskaplike model wat fokus op regte en die feit dat gestremdheid ‘n menseregte- en ontwikkelingsaangeleentheid is. Die INDS fokus op die belangrikheid van en behoefte aan ‘n toeganklike omgewing, terwyl dit erken dat daar hindernisse bestaan in die bou-omgewing wat mense met gestremdhede verhoed om aan die samelewing deel te neem.

Toeganklike geboue is geboue wat mense met gestremdhede kan gebruik op dieselfde wyse as wat enige iemand anders dit kan gebruik. Gevolglik moet ‘n toeganklike gebou altyd oorweeg word in die konteks van of die roete na die gebou toeganklik is, of paadjies deur die geboue toeganklik is en of die fasiliteite in die gebou bruikbaar is.

Die Riglyne vir Menslike Nedersetting en Ontwerp, soos ontwikkel deur die Raad vir Wetenskaplike en Industriële Navorsings, in samewerking met die Departement van Menslike Nedersettings, beklemtoon die behoefte aan die ontwerp van nedersettings wat die voetganger in gedagte hou. Die oorweging van die voetganger met gestremdhede is egter steeds beperk tot opritte en toegang vir parapleë, asook oorwegings vir rolstoelgebruikers en randstene of sypaadjies wat afgeplat is. Soos Brian Watermeyer in sy boek, ‘Disability and Social Change in South Africa’, op wys – rolstoelgebruikers is nie die enigste mense met gestremdhede wat in beplanning ingesluit moet word nie. Daar moet ook groter oorweging geskenk word aan mense met sig- of gehoorgestremdhede, asook ander vorms van gestremdhede.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se hersiening of wetgewing betreffende die bou-omgewing en gestremdhede wys ook op die onvoldoende toepassing van sekere regulasies, wat die meeste van die nasie se openbare geboue ontoeganklik laat. Die SAMRK het spesifiek bevind dat die Building Standards Act nie toeganklikheid vir gebruikers met spesiale behoeftes vereis nie. Die Nasionale Bou-regulasies, gelees saam met die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde Gedragkodes reguleer die bou van fasiliteite vir persone met gestremdhede, maar die swakpunt lê in die feit dat die regulasies nie regtens toegepas kan word nie.

Dit is duidelik dat die bou-wetgewing nie aan die vereiste van geen hindernisse voldoen wat deur die Verenigde Nasies in die vooruitsig gestel is nie. Alhoewel Suid-Afrika oor beleide en wetgewing beskik en die algemene regte van persone met gestremdhede bevorder, is sodanige wette en beleide nie voldoende om ‘n toeganklike bou-omgewing te verseker nie. Gevolglik is die Internasionale Dag van Persone met Gestremdhede belangrik in die veldtog om bewusmaking te skep oor die belangrikheid van toegang vir persone met gestremdhede. Die Building Standards Act en sy regulasies vereis wysigings ten einde toegang vir mense met gestremdhede verpligtend te maak. Die spesifieke vereistes van verskeie groepe met gestremdhede moet in alle bou-gebiede geakkommodeer word, of dit nou nuwe geboue is en of dit bestaande strukture is wat opgeknap word. Uiteindelik sal ‘n hervorming van huidige wetgewing nodig wees om te verseker dat fundamentele beginsels van gelykheid en waardigheid op die voorgrond van die bou-omgewing is. 

Deur Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.