- Hy het die SAKP daaraan herinner dat die ANC se GEAR-beleid hoë ekonomiese groei (5%) voor 2008 behaal het en werkloosheid aansienlik verminder het. (GEAR is in 2007 laat vaar na afloop van die omverwerping in Polokwane in 2007.)
- Hy het die SAKP se verwerping van ekonomiese groei – waarna die SAKP verwys as die BBP-mite, gekritiseer.
- Hy het gevra waarom die SAKP se dokument nie meer krities van korrupsie in die staat is nie, of van die ernstige wanbestuur van instellings in staatsbesit, en die toewysing van miljoene na die Nkandla-opgraderings, wat eintlik vir projekte bestem was wat die lewens van die armes moes verbeter.
- Hy verwys na die SAKP se stelling dat Suid-Afrika ons samelewing van die internasionale oorheersende imperialistiese ekonomie moet ontkoppel; en ook arm gemeenskappe moet ontkoppel van die plundering van die kapitalistiese arbeidsmark, as uiters oneerlik.
- Hy doen ‘n beroep op die insluiting van ooreenkomste tussen verskillende maatskaplike en ekonomiese rolspelers in ooreenstemming met die NOP.
In antwoord hierop het Cronin Netshitenzhe herinner aan sy verbintenis met die gediskrediteerde Mbeki-presidentskap. “Netshitenzhe se ingryping wys op die onderliggende ideologiese aannames wat sedert die 1990s en die grootste deel van ‘n dekade hegemonies was in die ANC en die regering onder leiding van die ANC.” Hierdie aannames het gelei tot ‘n duur verlies aan progressiewe momentum na afloop van die historiese demokratiese deurbraak in 1994. Die ANC het in wese sy revolusionêre mojo na 1994 verloor – wat gelei het tot ‘n geval van “a luta dis-continua”.
Cronin het ook ‘n probleem met Netshitenzhe se mening dat apartheid “uitsonderlik” was. In teenstelling hiermee was die “chroniese simptome van die Suid-Afrikaanse werklikheid deel van die sistemiese geheel, wat direk verband hou met Suid-Afrika se historiese posisie as ‘n semi-periferie in ‘n internasionale imperialistiese stelsel as ‘n hoofuitvoerder van kommoditeite wat op “goedkoop” arbeid gebaseer is”.
Volgens Cronin het die “konsep van ‘imperialisme’ na 1994 van amptelike ANC-dokumente verdwyn.” Mbeki het so ver gegaan as om die uitkoms van die G8-spitsberaad in 2002 te prys as “die einde van die epog van kolonialisme en neo-kolonialisme.”
Vir Cronin bestaan daar egter geen twyfel dat die “agenda betreffende die maksimisering van wins” van monopolie-kapitaal en imperialisme aan die kern van al Suid-Afrika se probleme is nie. Daar bestaan gevolglik geen twyfel oor enige maatskaplike ooreenkomste nie.
Die kern van Cronin se argument is dat die ANC se beleide tussen 1996 en 2007 aanleiding gegee het tot die ontstaan van “pragmatisme sonder grense”. Volgens Merriam-Webster is pragmatisme ‘n “redelike en logiese wyse om dinge te doen en oor probleme te dink wat gebaseer is op die aanpak van spesifieke situasies in plaas van idees en teorieë.” Wat kan dan meer onaanvaarbaar wees aan ‘n toegewyde ideoloog soos Cronin?
Die polemiek van 10 000 woorde bied insig in die jargon wat ideoloë moeisaam bou op die grondslag van hul idees wat deeglik verkeerd bewys is. Meeste mense sal geneig wees om hul argumente af te maak as idees wat nie met die werklikheid verband hou nie.
Hulle maak ‘n groot fout.
Ideologieë was die bepalende faktor in die grootste gedeelte van die mensdom se geskiedenis. In die laaste eeu het Kommunisme, Nazisme, Fascisme en jingoistiese imperialisme gelei tot die dood van ongeveer 100 miljoen mense en ongekende lyding van miljarde mense veroorsaak.
Ideoloë deel soortgelyke kenmerke: hulle begin met ‘n idee of geloof; almal behels die toepassing van sosiologiese beginsels op spesifieke sosiale probleme; hulle postuleer ‘n oneindige stryd teen een of ander vyand gebaseer op ras, geloof of klas; hulle ignoreer werklikhede wat nie met hul visie versoen kan word nie; hulle trap op die lewens van individue en is altyd afbrekend wat vryheid betref; hulle poog om ekonomiese werklikhede en menslike natuur af te dwing op die beperkings wat hul dogma daarstel; en hulle maak een of ander idee op om die menslike lyding en ontwrigting van die samelewing wat deur hulle veroorsaak kan word, te regverdig.
Aparte ontwikkeling was so ‘n ideologie. Die idee was ‘n statebond van onafhanklike state waarin al die mense van Suid-Afrika nasionale selfbeskikking kon geniet en saam kon werk in ekonomiese harmonie; die vyand was die swart nasionaliste; liberale en kommuniste; onvermydelike ekonomiese en demografiese werklikhede en die wense van die betrokke mense is sistematies ignoreer; 16 miljoen mense is in hegtenis geneem vir oortredings van die paswette; en drie miljoen mense is met geweld van hul huise en hul grond verwyder.
Ideologieë bedreig ons steeds vandag.
Die visie van die NDR is die Nasionale Demokratiese Samelewing – gekenmerk deur demografiese verteenwoordiging op al die vlakke van die openbare, private en nie-regeringsektore. Die teenstaanders hiervan is wit Suid-Afrikaners en sy doelwit is “die oplossing van die historiese griewe wat uit apartheid en kolonialisme spruit”. Dit is van plan om dit te verwesenlik deur die “uitwissing van eiendomsverhoudinge met betrekking tot apartheid” by wyse van versnelde regstellende aksie, BSEB en grondhervorming. In die proses ignoreer dit belangrike ekonomiese en politieke werklikhede en die verwoestende uitwerking wat die ideologie op Suid-Afrikaners se ekonomiese vatbaarheid en toekomstige rasseverhoudings sal hê.
Die SAKP sien die NDR as die noodsaaklike voorganger vir die bekendstelling van sosialisme. Sy visie is ‘n klaslose samelewing waar die staat sal wegval. Sy vyande is monopolie-kapitaal (wat ook al dit beteken), imperialisme en neo-imperialsme. Dit ignoreer sistematies die onderdrukking en katastrofiese mislukkings van alle voormalige en huidige kommunistiese regerings; dit poog om ekonomiese werklikhede en menslike natuur af te dwing om aan die vooropgestelde idees van Marxisme-Leninisme te voldoen, wat deeglik verkeerd bewys is.
Ons kan nie die feit ignoreer dat die SAKP nou die grootste bepaler van ekonomiese beleid is nie – sonder om ooit ‘n enkele stem te gewen het – en glo dat dit elemente van sosialisme kan instel selfs voordat die NDR tot ‘n punt gekom het. Gevolglik sal die verskeie wetgewing wat tans voor die Parlement dien eiendomsregte ernstig ondermyn – nie net vir wit mense nie, maar vir alle Suid-Afrikaners. Gevolglik het die SAKP sy aanvalle op die media en die Regbank verskerp.
Suid-Afrika kan nie hierdie ideologieë bekostig nie. Dit moet eerder streef na beleide wat op “pragmatisme sonder grense” gebaseer is en deur ‘n sosiale ooreenkoms tussen al die belangrike kragte in ons samelewing gesteun word.
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting