Indien die KvO bevestig wat die vorige OB bevind het, wat sal die effek daarvan op die ANC en die nuwe leierskap wees? Dis duidelik uit die verklaring en optrede van die ANC veterane op 3 November dat die kwessie nie meer is òf daar ‘n probleem met staatskaping en die President is nie, maar wat om daaromtrent te doen en hoe om dit te doen.
Vir die meeste Suid-Afrikaners en politieke kommentators is dit baie duidelik: President Zuma is ‘n verleentheid en las vir die land en die ANC. Hoe gouer daar van hom ontslae geraak word, hoe beter, veral met die oog op die algemene verkiesing wat vroeg in 2019 gaan plaasvind.
As politieke bevrydingsbeweging oppad na ‘n party toe, dink die ANC egter anders. Die regdenkendes in die ANC moet aan die langer termyn toekoms van die party dink. As Zuma byvoorbeeld nou van sy pligte onthef word as ANC president en gevolglik as president van die land, is daar ‘n sterk moontlikheid dat die ANC sal skeur. Die Zumakamp het steeds die steun van ‘n beduidende aantal provinsies en takke.
In sy boek oor Zuma het die joernalis Jeremy Gordin die vraag oor hoe dit moontlik was dat Zuma ten spyte van die verkragtings- en bedrogaanklagte teen hom, by Polokwane as president van die ANC verkies is, só geantwoord: “They were unfazed that he had been charged with corruption and rape… We want one of us in charge; And to have been desperately short of money… to have been in trouble with the law, and to be perhaps a little laissez-faire, or at any rate not holier-than-thou, on matters of morality, is to be one of us…” Dit is steeds waar van baie gewone lede en takke van die ANC. Hulle sien al die aanklagte teen Zuma net as propaganda en leuens. As Zuma gedwing word om te gaan, sal hulle ook gaan.
Om die toekoms van die ANC te beskerm en te verseker dat dit steeds ‘n kans staan om nà 2019 die land te regeer, kan die ANC nie vir Zuma nou (dadelik) laat gaan nie. En hierdie argument word sterker as in gedagte gehou word dat die Madonsela-aanbevelings finale uitsluitsel oor die saak ten minste na September 2017 uitgestel het. Daar is ook ‘n huiwering om ‘n tweede president se termyn vroeg te beëindig, sodat ‘n patroon nie geskep word nie.
Die een kwessie wat hierdie veronderstelling kan verander, is dat Zuma self bedank, en dit duidelik aan sy ondersteuners maak dat hulle die ANC moet bly steun omdat hy vrywillig gaan. En dit sal hy net doen as hy amnestie kry. Die vraag is of die regdenkendes in die ANC en die opposisiepartye hiertoe geneë sal wees? Die DA en die EFF kry baie politieke kapitaal uit Zuma uit. Hulle sal dit so lank as moontlik wil hou. Die ANC daarenteen, moet kies tussen die belange van die party (hou Zuma nog ‘n bietjie langer) en die land as geheel (raak onmiddellik van hom ontslae).
Die ander saak wat die ANC-regrukkers in gedagte sal moet hou is wie in Zuma se plek kom as hy bedank of hulle hom laat gaan? Omdat dit onwaarskynlik is dat laasgenoemde voor Desember 2017 sal gebeur, sal die verkiesingskonferensie dus met hierdie vraag moet worstel. Op die oomblik lyk die sterkste aanspraakmakers vir die ANC presidentskap na Nkosazana Dlamini-Zuma, Zweli Mkhize en Cyril Ramaphosa, met Baleka Mbete, Lindiwe Sisulu en Gwede Mantashe in die kolisse. Dit is onwaarskynlik dat een van die ernstige aanspraakmakers die rol van ‘n interim landspresident sal wil vervul, omdat dit as ‘n eerste termyn sal tel – en dit net een verdere termyn moontlik sal maak. Daar word bespiegel dat Jeff Radebe of selfs Kgalema Motlanthe gevra kan word om tussen Desember 2017 en Mei 2019 interim president van die land te wees.
Natuurlik het die keuse van ‘n nuwe ANC president ook die potensiaal om die party te skeur. Zuma-ondersteuners sal moeilik in die party bly as Ramaphosa verkies sou word. Dieselfde geld vir die regdenkendes as Dlamini-Zuma (blykbaar Zuma se keuse) verkies sou word. Dan het iemand soos Mkhize die binnebaan as ‘n kompromiskandidaat. As een van hierdie drie ‘n ooreenkoms met een van die ander twee aangaan om saam met hom/haar as adjunkpresident te staan, kan dit uit die party en die kandidate se oogpunt die beste kompromie wees.
Wat sal die gevolge wees as Zuma nie dadelik herroep word of bedank nie? Op nasionale vlak sal beleidsonsekerheid voortduur en is die moontlikheid van ‘n kredietafgradering sterk. Op ANC-vlak sal dit die debat oor staatskaping en die “siel” van die ANC laat voortduur tot Desember 2017. Voorbereidings hiervoor sal nie net gesprekke nie, maar ook indiwiduele verkiesingsveldtogte insluit.
Dis duidelik: Suid-Afrika sal nog ten minste tot Desember 2017 met Jacob Zuma as president sit. Die slegte nuus is dat die Madonselaverslag Zuma se politieke raklewe onbedoeld verleng het. Die goeie nuus is dat ons baie naby aan die onderste draaipunt van hierdie era is en dat ‘n bevestiging van die OB se standpunte deur die KvO sal help om Zuma finaal in 2017 te laat gaan.
Deur dr Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
*Die artikel is oorspronklik op Netwerk24 gepubliseer