Die “ja”-deel is maklik. Ramaphosa is ‘n groot verbetering op Zuma. Hy is ‘n goeie sakeman wat ekonomiese beginsels ken. Hy is welsprekend, presidensieel en kan groot syfers reg uitspreek. Hy het hom as ‘n uitstekende onderhandelaar en strateeg bewys. Hy verdien ‘n kans, want hy het lank vir die geleentheid om president te wees, gewag.
Die MAAR-deel (met hoofletters) is egter net so belangrik. Daar is ernstige vrae oor Ramaphosa se vermoë om die ANC reg te ruk en op die goeie spoor te plaas. Selfs voormalige vurige ANC-ondersteuners soos Sipho Pityana meen dit is te laat. Daarby kom die ANC se verdeeldheid en die vermoë van die Zumafaksie om nog terug te beur. Die aanstellings van David Mabuza en Bathabile Dlamini is sprekend hiervan.
Soos al dikwels gesê is, moet president Ramaphosa sy magsbasis konsolideer en sy werk tussen twee pole doen. Aan die een kant is daar die opdrag van Nasrec ‘17 om eenheid en versoening binne die ANC te bou, om ‘n oorwinning in 2019 te verseker. Aan die ander kant is daar sy eie oortuiging en die slagspreuk van sy verkiesingsveldtog om goeie regering te verseker en staatskaping en korrupsie uit te roei. In byna elke besluit sal hy met hierdie twee teenstrydige doelwitte gekonfronteer word.
Wanneer die kabinet oor ekonomiese beleid gaan besluit, sal hy ook die sosialistiese en populistiese invloede moet teëwerk wat daar nog steeds in sy kollegas sit. Ekonomiese groei en belegging sal nie deur vae dubbelsinnighede bereik word nie. Wanneer hy en sy naby kollegas Eskom en ander staatsbeheerde ondernemings wil red, sal hy dapper besluite oor gedeeltelike of algehele privatisering moet neem – en sy vyandige kollegas moet oortuig of ignoreer.
En deur dit alles sal hy moet werk om die noodlottige gevolge van rassetransformasie en kaderontplooiing in die staatsdiens teen te werk. Die gevolge hiervan, soos veral gesien in die byna algehele gebrek aan kapasiteit en integriteit (dink aan SASSA en Esidimeni) lê soos ‘n berg tussen hom en sukses.
Op die oomblik is grootste MAAR egter onteiening sonder vergoeding (OSV). Minder as 24 uur na die kabinet van hoop aangekondig is, volg die mosie van gekheid. Deur die slinkse EFF in ‘n lokval gelei, stem die ANC-koukus met konsensus dat die Grondwetlike Hersieningskomitee die opdrag kry om artikel 25 van Grondwet en enige ander klousule te hersien, en die nodige grondwetlike wysigings moet voorstel sodat die regte toekomstige “land tenure regime” daargestel kan word.
Die mosie haal die staatsrede van president Ramaphosa aan wat die oersonde van grondontneming erken het, en hom verbind het dat die regering sal voortgaan met die grondhervormingsprogram wat onteiening sonder vergoeding insluit, terwyl daar gebruik gemaak word van alle meganismes tot die beskikking van die staat. Dit moet geïmplementeer word op ‘n manier wat landbouproduksie laat toeneem, voedselsekerheid verbeter en wat verseker dat die grond teruggegee word aan diegene van wie dit onder kolonialisme en apartheid weggeneem is.
Nou ja, praat van teenstrydighede. Wie dink dat landbougrond sonder vergoeding op groot skaal onteien kan word (met die gepaardgaande onsekerhede en banke wat miljarde rande se skuld moet afskryf) en dat landbouproduksie dan gaan toeneem en voedselsekerheid verbeter gaan word, lewe in die wonderwêreld van Kammie Kamfer. Dit word vererger deurdat die hele mosie op ‘n emosionele manier aangedryf is, gegegrond op die valse feite en leuens van die regering se sogenaamde grondoudit. Om te glo dat swart mense net 2% van landelike grond en net 7% van stedelike grond besit, moet mens in feëverhale glo en jou greep op die werklikheid verloor het.
Daar is oorvloedige bewyse (ook van die Motlanthe-verslag in die Parlement) dat die regering byna alleen die skuld moet kry vir gebrekkige grondhervorming. Hoekom word daardie gebreke nie eers aangespreek nie? Hoe gaan dit beter gaan as die grond sonder vergoeding gevat word? Hoe gaan swart boere ewe skielik dan meer suksesvol wees? Daar is in die parlementêre debat aangetoon dat die regering oor die 4 000 plase besit, waarop daar niks aangaan nie. Daar kan verder aangetoon word dat daar miljoene hektaar se grond in ANC-beheerde munisipalitiete se besit is wat vir behuising beskikbaar gemaak kan word, maar niks gebeur nie. Daar is miljoene hektaar se grond in kommunale besit wat steeds met ‘n ysterhand deur tradisionele leiers beheer word, en waar landbouproduksie nie naastenby optimaal is nie.
Mense wat dink dat OSV slegs op ‘n paar boere gemik is, moet weer dink. Die EFF en groot dele van die ANC wil hê dat alle eiendom onteien moet kan word. Dit sluit huise, motors en aandele in. Verskanste private eiendomsbesit lê aan die hart van enige suksesvolle ekonomiese stelsel en land. Dis nie ‘n wetmatigheid wat deur wit monopolie kapitaal uitgedink is nie, dit word internasionaal aanvaar en deur suksesvolle lande wêreldwyd bewys. ‘n Mens kan nie halfpad swanger wees nie. So kan mens nie eiendomsreg halfpad beskerm nie. Jou eiendomsreg word óf volledig beskerm, óf dit word glad nie beskerm nie en verdwyn.
Ten spyte van al hierdie rasionele argumente is die mosie ten gunste van OSV is met ‘n groot meerderheid aanvaar – ook deur Ramaphosa-ondersteuners. ‘n Mens wonder of die President hiervan geweet het en of die ANC onverhoeds deur die EFF betrap is? Dit sou tog moontlik gewees het om gewoon te sê “ons laat ons nie deur die EFF voorsê nie, ons sal eers ons eie ondersoeke doen en dan ons eie mosie voorstel”. President Ramaphosa self het reeds voorgestel dat daar ‘n ondersoek moet kom na die oorsake van die regering se mislukte grondhervormingspogings. Dit lyk asof die ANC en sy president hier op ‘n EFF-tier geklim het wat hy nie enduit sal kan ry nie.
Die gevolgtrekking is: Gee die Ramaphosa-regering ‘n kans, maar as OSV deurgaan, gaan al die ander beloftes en voornemens in die (plaas)hek duik.
Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting