Daar het die afgelope klompie jare ‘n nuwe siening onder veral die swart jeug ontstaan – een van wydverspreide ontevredenheid met hulle daaglikse belewenis 22 jaar na die “nuwe Suid-Afrika” ontstaan het. Hulle praat van hulle “geleefde realiteit” in ‘n Suid-Afrika wat hulle steeds kultureel en ekonomies uitsluit. En dis vir hulle veral sigbaar op universiteit, waar hulle saam met wit studente studeer wat ekonomies soveel beter as hulle daaraan toe is. Hulle hou die maghebbers (beide die universiteite en die staat) verantwoordelik vir hierdie uitsluiting, en kritiseer die hele post 1994 orde. Hulle praat van “post apartheid apartheid”.
Dit is insiggewend dat die leierskap van die beweging uit middelklas en soms bevoorregte huise kom. Dit hoef ons nie te verbaas nie, aangesien die verskynsel van “stygende verwagtinge” – my lewensomstandighede het verbeter, maar nou wil ek nog meer hê – veral onder die middelklas voorkom. Hierdie jongmense sien die Suid-Afrikaanse werklikheid deur die oë van hulle ouers tydens apartheid. En hulle belewenis is dat niks verander het nie. Volgens hulle belewenis word Suid-Afrika steeds deur witwees en wit bevoorregting beheers. Die (swart) regering is slegs in ‘n gesagsposisie, maar nie in beheer nie. Selfs die mense in blou (die polisie) tree teen hulle op om nie dit “wit” orde te versteur nie.
En hieruit volg ‘n sterk anti-wit sentiment. ‘n Mens kan amper van ‘n “F.. wit”-kultuur praat, soos wat graffiti en T-hemp woorde lui. En dit word nie as rassisme beskou nie, maar hoogstens as (geregverdigde) vooroordeel.
Die filosofiese wortels van hierdie beweging kom uit verskeie oorde. Steve Biko se swart bewussyn het ‘n rol gespeel. Maar die Franse dokter-joernalis-filosoof Frantz Fanon het ‘n sterker rol gespeel. Die anti-wit en dekolonialiseringstemas kom uit sy werk in die laat vyftigs van die vorige eeu af toe Algerië onafhanklikheid van Frankryk gekry het. “Dekolonialisering” word baie in die geledere van die nuwe jeugbeweging gehoor, en dit behels dat in die samelewing (en ook die universiteite) alles wat (nog) koloniaal (lees: wit en westers) is, moet verdwyn. Dit sluit simbole, standbeelde, boeke en die kurrikulum in.
Die nuwe swart jeugbeweging wil geleentheid gegun word om, sonder die inmenging en teenwoordigheid van wit mense, oor hulle benadeling en geleefde realiteit te praat. Dit word “veilge ruimtes” genoem, en mag net deur dié wat dieselfde rassebelewing het, binnegaan word. Daarom word rektore beveel om te “sit as jy met ons praat” en word wit studente die geleentheid geweier om in debat te tree.
‘n Ander tema wat prominent is, is dié van “okkupasie”. Die swart benadeeldes moet die wit ruimtes van universiteitskampusse en senaatsvergaderings (Wits) oorneem en in besit neem. Verlede Vrydag het een van die leiers van #FeesMustFall by Wits, Mcebo Dlamini, verklaar dat hulle nie meer vir Adam Habib as rektor erken nie en hy het homself as interimrektor verklaar. Iets soortgelyks het ook vroeër op die Vaaldriehoekkampus van die NWU gebeur.
Dan is daar die byna religieuse ywer waarmee die nuwe jeugbeweging verwag (nee, eis) dat alle ander studente en dosente moet ophou studeer en werk en hulle in hulle stryd vir ‘n beter samelewing steun. Dit word gesien in die sluiting van kampusse deur studente (UK) en die intimidasie van die meerderheid van studente en personeel wat durf waag om met hulle studies en werk voort te gaan.
Fanon word ook gebruik om die gebruik van geweld te regverdig. Geweld is ‘n noodsaaklike element van protes om “vrees by die status quo” in te boesem. Natuurlik regverdig die studente hulle geweld ook deur te sê dat die owerhede en polisie hulle daartoe gedryf het, maar geweld as ‘n beginselopsie is reeds deel van die filosofie. Soos ons gesien het, word vuur ook baie prominent in die geweldsoptrede gebruik.
Op die rug van hierdie filosofiese standpunte, het die EFF op baie kampusse (veral waar hulle die studenteraad beheer) begin om die situasie partypolities uit te buit. Ernstige verskille tussen ander studente-organisasies soos SASCO en die ANC-jeugliga dra verder tot onstabiliteit by. Maar ek sien, anders as sommige politici, nie ‘n sinistêre “derde mag” in die nuwe jeugbewging nie.
Kritiek op die nuwe jeugbeweging is nie moeilik nie. In ‘n grondwetlike demokrasie is die gebruik van geweld heeltemaal onaanvaarbaar. Hier is ook ‘n vervanging van die Grondwet (en die ANC) se nie-rassigheid, wat gevaarlike en polariserende gevolge kan hê. En die jeugbeweging sluit gesprek, debat en kompromie (ten minste op hierdie stadium) heeltemaal uit. Hulle eis volkome oorgawe en omverwerping van die huidige orde. Hulle is in geheel teen “rainbowism”.
Dis vir die breë spektrum van die Suid-Afrikaanse leierskap belangrik om hierdie verskynsel te verstaan, anders sal dit nie korrek gekonfronteer en bestuur word nie. Klasgelde en gratis hoër onderwys is slegs die oortjies van die seekoei. Die uiteindelike doel is die omverwerping van die nuwe SA, nie-rassigheid en die Grondwet. Daarom sal daar nooit aan die werklike eise voldoen kan word nie – die doelpale sal in elk geval voortdurend geskuif word. Op die mediumtermyn sal universiteitsbesture en -rade dit moet besef as hulle die akademiese jaar, maar ook die wese van ons universitiete wil red. En die regering sal sterker leiding moet gee – dit gaan oor meer as klasgelde.
*Die oorspronklike artikel is eers op Netwerk24 gepubliseer