Hierdie viering van diversiteit kom op die regte tyd, in lig van die onlangse konflik in groepe regoor Suid-Afrika. Na afloop van verskeie voorvalle van rasgebaseerde diskriminasie en die toename van xenofobiese aanvalle, bied 21 Mei nie net ‘n kans vir besinning nie, maar ook ‘n geleentheid vir al ons diverse mense om die kulturele geletterdheid te kweek wat nodig is om homogeniteit onder ‘n meerderheidsregering teen te staan.
Suid-Afrika is ‘n pluralistiese samelewing wat bestaan uit ‘n ryk verskeidenheid kulture en etnisiteite. Ons moderne samelewing is die produk van internasionale, kontinentale en plaaslike invloede. Alle Suid-Afrikaners word verryk deur die diversiteit van ons kulturele erfenis; deur die vele plekke van oorsprong, die vele gelowe wat beoefen word en die vele tale wat gepraat word. Volgens ons Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) is die sleutel tot die land se eenheid die aanvaarding van die werklikheid dat alle Suid-Afrikaners baie identiteite het en tog steeds Suid-Afrikaans is. Om ‘n Suid-Afrikaner te wees was nog nooit gegrond op die idee van ‘n smeltpot wat almal saamsmelt nie. Met diversiteit as grondslag moet Suid-Afrikaners voortdurend saamwerk om hierdie diversiteit in eenheid te omskep.
Eenheid word nie gekoester wanneer mense verby mekaar leef nie en dit kan ook nie gekoester word onder die hegemonie van een groep nie. Eenheid word eerder ontwikkel deur dialoog en interaksie, wanneer mense uitreik na mekaar en diegene aanvaar wat na hulle toe uitreik. Eenheid word ontwikkel deur die aanvaarding van verskille en deur harmonie te vind wat in die verskillende kulturele praktyke en norme verskans word. Dit is die soort eenheid wat deur die Grondwet in die vooruitsig gestel word. Die NOP voer egter aan dat ‘n verenigde nasie nie outomaties geskep sal word nie. Dit is om hierdie rede dat die NOP ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners doen om die waardes van ‘n verenigde burgerskap te bevorder, deur byvoorbeeld te onderneem om ‘n ander taal aan te leer.
Dit is om hierdie rede dat die kulturele, taal- en godsdienstige regte in ons Grondwet van sodanige belang is. Al ons tale is veronderstel om gelykheid van aansien te geniet en om billik behandel te word; positiewe stappe moet gedoen word om die status van ons inheemse tale te verhoog en om dit te bevorder; die regering op nasionale en provinsiale vlakke moet ten minste twee amptelike tale gebruik.
Dit geskied egter nie in praktyk nie: Engels word eerder vir alle praktiese doeleindes stelselmatig ingestel as die enigste de facto amptelike taal.
Kragtens artikel 29 van die Grondwet het almal die reg om onderrig te ontvang in die amptelike taal of tale van hul keuse. Ons Minister van Hoër Onderwys en Opleiding het egter verklaar dat daar geen plek vir ‘n Afrikaanse universiteit is nie – ten spyte van die veelrassige aard van die sprekers van die taal. Afrikaanse enkelmediumskole word toenemend onder druk geplaas om parallelmediumonderrig in te stel, ten spyte van die werklikheid regoor die wêreld dat waar dit ook al toegepas word, die wêreldtaal die streekstaal vinnig verdryf.
Dit alles is ‘n ernstige bedreiging vir almal se grondwetlike reg om die taal van hul keuse te gebruik en om die kultuur van hul keuse uit te oefen.
Op 21 Mei doen die Verenigde Nasies ‘n beroep op almal om Een Ding vir Diversiteit en Insluiting te doen. Op hierdie dag word mense en organisasies aangemoedig om die eenheid te skep wat die NOP en die Grondwet in die vooruitsig stel, en om aan interkulturele dialoog deel te neem, om positiewe verhoudings tussen gemeenskappe te bou en om polarisasie en stereotipering te bekamp.
Net soos ons almal gevra word om dienste van 67 minute te lewer op Mandeladag, word alle Suid-Afrikaners op 21 Mei genooi om hul steun te verleen aan kulturele diversiteit deur (byvoorbeeld) meer oor ‘n ander geloof te leer; om na musiek van ‘n ander kultuur te luister; om tradisionele kos te probeer of om meer uit te vind oor tradisionele feesvieringe van ander kulture. Die een ding wat Suid-Afrikaners kan doen kan so eenvoudig wees soos om te leer om sawubona (isiZulu en siSwati), molo (isiXhosa), hallo (Afrikaans), dumela (Sesotho sa Leboa, Sesotho and Setswana), avuxeni (Xitshonga), ndaa (Tshivenda) en lotjhani (isiNdebele) te sê. Nog iets kan wees om die mate te oorweeg waarin ons regering die kulturele en taalregte in ons Grondwet ignoreer: die wyse waarop dit diversiteit ondermyn deur ten doel te hê om ‘n enkele amptelike taal op alle Suid-Afrikaners af te dwing en om onderriginstellings uit te wis wat voortgaan om onderrig te bied in ander tale as Engels.
Deur Klaus Kotze: Operasionele Beampte, FW de Klerk Stigting
Foto: United Nations