Nà die sogenaamde 8 Januarie-verklaring het baie politieke kommentators bespiegel oor wat op die oomblik in die ANC aan die gang is. Dit was ‘n toespraak wat niks nuut bevat het nie, aangesien dit inderwaarheid die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) se kollektiewe poging, en President Ramaphosa slegs een van die bydraers was. Die doel van hierdie jaarlikse verklaring is om terugvoer te gee oor die uitvoering van die vorige jaar se beleidsbesluite (hierdie keer by Nasrec 2017).  Daar was duidelike tekens van kompromieë in die samestelling van die verklaring, maar ook duidelike klemverskille, wat steeds die tweespalt in die ANC se top ses en die NUK weerspieël.

In die laaste twee weke is sake verder op die spits gedryf deur ontwikkelinge rondom Eskom.  Die eerste was die bedanking van voorsitter Jabu Mabuza, waarskynlik as gevolg van die uitlating van adjunkpresident David Mabuza dat Eskom se direksie, bestuur en minister Gordhan die President oor beurtkrag mislei het. Dit het daartoe gelei dat druk van binne die ANC-alliansie en die EFF opgebou het vir President Ramaphosa om Pravin Gordhan as minister te laat gaan of ten minste om verantwoordlikheid vir Eskom na die minister van Energiesake, Gwede Mantashe, oor te dra.

In die laaste week het by verre die meerderheid kommentators met sterk kritiek op president Ramaphosa gekom of ‘n “laaste dae” scenario geskets. Piet Crouwcamp vra in Vrye Weekblad of die President ruggraatloos is of sy hande bloot afgekap is? Judith February skryf op Daily Maverick dat Ramaphosa die oomblik moet aangryp en homself sterker vestig en handhaaf, onder andere deur alliansies te bou. Stephen Grootes maak op Daily Maverick die punt dat die politieke kragte rondom Eskom die land en Ramaphosa kan maak of breek, maar dat dit nie duidelik is dat die politieke wil daar is om dit op te los nie. Max du Preez is nog sterker: Cyril moet noú die Rubicon oorsteek of ‘n flou-makou President word. Op News24 waarsku Mpumelelo Mkhabela dat Ramaphosa vinnig sal moet “outo herstel” anders is alles verlore. Pieter du Toit  (ook op News24) beskryf die oënskynlike plan om van Ramaphosa ‘n een-termyn President te maak – beginnende met sy ondermyning by die Nasionale Algemene Raad van die ANC wat vir Junie geskeduleer is. Dan is daar ook gerugte (onder andere  verwoord deur prof Andre Duvenage van die NWU) dat David Mabuza die Ramaphosakamp verlaat het en hom by die Ace-kamp aangesluit het. Ferial Haffajee (Daily Maverick) is oortuig dat Ramaphosa nie vir Gordhan as minister sal afdank nie, maar dat hy as ‘n kompromis Eskom dalk na Mantashe sal skuif.

As dit van die bogenoemde menings afhang, is President Ramaphosa se magsbasis erg wankelrig en sy toekoms as President in die weegskaal. Melanie Verwoerd (op News24) is letterlik die enigste een wat sê dat dit nog lank nie einde van Ramaphosa is nie. Vanuit die ANC self was dit net die veterane-groep wat Gordhan en Ramaphosa openlik gesteun het.

Is dit die begin van die einde vir President Ramaphosa?

Uit die vaal 8 Januarie-verklaring kon dit gelyk het asof die Ace-faksie die oorhand gekry het, deur op die uitvoering van die Nasrec-besluite te fokus – wat die nasionalisering van die Reserwebank insluit, en waarmee Ramaphosa duidelik nie saamstem nie. Die 8 Januarie-verklaring fokus jaarliks op die uitvoering van beleidsbesluite en Ramaphosa of enige ander President) het baie min beheer daaroor. Die Ramaphosakamp het in die finale verklaring wel enkele oorwinnings behaal, hoofsaaklik rondom sterk uitsprake oor staatskaping en korrupsie, swak staatsadministrasie en nie-rassigheid. Eers wanneer President Ramaphosa op 13 Februarie sy staatsrede in die Parlement lewer, sal ons weer iets van die President van die land en van alle Suid-Afrikaners kan sien. Dit sal dus belangrik wees om na elke nuanse in die staatstrede te kyk om die magsposisie van Ramaphosa akkuraat te bepaal. In daardie opsig is dit nog te vroeg om sy ondergang te voorspel.

Wat wel kommerwekkend is, is dat hardnekkige gerugte dit wil hê dat Ramaphosa nie meer op die steun van die meerderheid van die sogenaamde top ses kan staatmaak nie, met vraagtekens oor beide David Mabuza en Paul Mashatile. Daarby word die naam van Lindiwe Sisulu nou ook as ‘n “wegbreker” genoem. Al die skynbaar nuwe “afvalliges” het een ding gemeen: hulle het hoër politieke aspirasies en sien enige Ramaphosa-swakheid as ‘n toekomstige geleentheid. Mashatile, Mabuza en Sisulu sal by die volgende verkiesingskonferensie in 2022 graag hulle name op die toplys wil sien – verkieslik as kandidaat vir die presidentskap. Die dinamiek is dus nie noodwendig meer bloot ‘n tweeledige een met (net) ‘n pro-Ramaphosa of ‘n pro-Magashule kamp nie. Dit is meer kompleks en dinamies as dit. En dit versinnebeeld die diep persoonlike en beleidsverskille binne die ANC se leierskap.

Daar is een faktor wat hierdie hele magsdinamiek vinnig kan verander. As die Nasionale Vervolgingsgesag (soos wat Shamila Batohi beloof het) teen einde Februarie met ‘n paar hoë profiel vervolgings kom, kan dit die Ramaphosakamp versterk, die Magashulekamp verswak en dit moeiliker vir Mabuza en ander se aspirasies maak. ‘n Nasionale Algemene Raadsvergadering sonder Ace Magashule en dalk nog ‘n paar ander bekende Zuptas sal aansienlik makliker wees vir Ramaphosa om te hanteer. Dit kan sy magsbasis in die party verstewig.

‘n Ander moontlike faktor wat positief vir Ramaphosa kan wees, is dat die nuwe uitvoerende hoof van Eskom, Andre de Ruyter, ‘n sigbare impak op die kragvoorsiener se werking kan hê. Hy het vroeg Januarie stilweg en sonder fanfare begin, wat ‘n goeie teken kan wees. Ongelukkig is daar reeds kritiek op die aanstelling van die interim voorsitter van die direksie, Malegapuru Makgoba. Makgoba het ‘n uitstaande rekord as akademikus en was ook vir ‘n hele aantal jare die rektor van die Universiteit van KwaZulu-Natal. Of dit hom gaan help om die Eskom-tameletjie uit te pluis, is nie duidelik nie.

Suid-Afrika het dus ‘n President wat veg om sy politieke magsbasis – wat wankelrig begin het – te verstewig. Dit is en word moeiliker gemaak deur veral die terugvegaksie van die Zuptas en ander korruptes, die verval van die staat en staatsondernemimgs (veral Eskom) en die swakste ekonomiese groei sedert die Tweede Wêreldoorlog. Op die keper beskou is Ramaphosa se probleem egter dat hy en sy breë magsbasis nie saamstem oor sekere fundamentele beleidskwessies nie, veral van ekonomiese aard. Daardie breë magsbasis word vir die afgelope dekade of wat aan die neus gelei deur òf die SAKP en vakbonde se uitgediende sosialistiese idees, òf die Zuptas se selfgesentreerde kultuur van toe-eiening òf ambisieuse kollegas wat ‘n geleentheid in sy (dalk gewaande) swakheid sien om politieke munt te slaan in terme van toekomstige leierskapsposisies. Die korrupsie, verrotting en kultuur van toe-eiening loop diep in die ANC se strukture. Soos Thabo Mbeki, is Ramaphosa gewikkel in ‘n stryd om die siel van die ANC. Dit is nie ‘n maklike geveg nie.

Sonder om te ontken dat President Ramaphosa sterker en vinniger kon opgetree het, en sy magsbasis vroeër kon versterk het, is dit te vroeg om die huidige gebeure as die begin van die einde van ons President te beskou. Daarvoor is hy tè veel van ‘n strateeg. Maar dat hy handegvou kan sit en niks doen nie, is ook nie ‘n opsie nie. Dan is dit neusie verby vir hom, en stellig ook vir Suid-Afrika.

Deur Theuns Eloff: Voorsitter, FW de Klerk Stigting Raad van Adviseurs
23 Januarie 2020

*Eers op Maroela Media gepubliseer

Leave a Reply

Your email address will not be published.